Geen water, baie siektes
Die praktyk van hande was kan die voorkoms van diarree met tot 50% verminder.
Henriette Lamprecht
Minder as die helfte van landelike bevolkings in Suider-Afrika het toegang tot 'n ordentlike toilet.
Dít stel die armste en mees weerlose gemeenskappe aan siektes bloot en vang hulle in 'n siklus van armoede vas.
Intussen beraam die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) een pasgebore baba in lae- en middelinkomste lande sterf elke minuut aan infeksies wat met 'n gebrek aan skoon water en 'n vuil omgewing verband hou.
Volgens 'n nuwe verslag van WaterAid, wat op die stand van higiëne in Suidelike Afrika fokus, is die verskaffing van water, voldoende toilette en higiëne in huise en gesondheidsentrums die oplossing om dié sterftes te keer.
Die verslag sê voorts swak higiëne was 'n groot bydraende faktor tot verskeie higiëneverwante siektes in die streek.
Die opvallendste was die endemiese cholera-uitbrekings in vyf lande in die streek, wat Namibië, Malawi, Mosambiek, Zambië en Zimbabwe insluit.
Nog uitbrekings wat voorgekom het, is ingewandskoors, hepatitis E en meer onlangs, listeriose.
Goeie higiëne-praktyke is noodsaaklik om die verspreiding van dodelike siektes te voorkom wat deur water versprei word.
Volgens die verslag ondermyn die afwesigheid van dié praktyke strategieë om armoede te verminder en bring dit menslike waardigheid in die gedrang.
Volgens die Wêreldwye Handewas-vennootskap, kan die was van hande diarree met byna 50% verminder en respiratoriese siektes (insluitende longontsteking) met byna 25%.
Ook is daar duidelike ongelykhede tussen stedelike en landelike gebiede, asook tussen arm en ryk huishoudings.
Ontlasting in die oopte is ook 'n beduidende openbare gesondheidsrisiko en kom wydverspreid in die streek voor. In Namibië, Madagaskar, Mosambiek en Zimbabwe is die aantal inwoners wat in die oopte ontlas hoër as dié wat toegang tot 'n toilet het.
Die gewoonte om hande te was kom min voor.
Om hande met seep en water te was, word deur minder as 'n kwart van die bevolking in vyf uit agt lande beoefen waarvoor data beskikbaar is.
Die versamel en vervoer van drinkwater hou ook 'n wesenlike risiko vir besmetting in, terwyl die stoor van drinkwater op huishoudelike vlak oraloor die streek selde beoefen word.
Min data is beskikbaar oor die bestuur van menstruele en voedselhigiëne en dit word weinig in roetine-monitering op landsvlak ingesluit.
Die bevordering van higiëne word volgens die verslag ook dikwels in finansiering vir projekte agterweë gelaat, terwyl koördinering tussen ministeries van gesondheid en water-, sanitasie- en higiënesektore beperk en dikwels ondoeltreffend is.
Volgens mnr. Robert Kampala, streeksdirekteur van WaterAid in Suider-Afrika, is daar te veel mense in die streek wat steeds sonder toegang tot skoon water en voldoende sanitasie leef.
“Vooruitgang om toegang tot dié basiese geriewe te verbeter, moet ondersteun word deur 'n verandering in ons siening van die bevordering van beter praktyke vir higiëne,” het Kampala gesê.
Volgens hom moet beter finansiering, koördinering, leierskap en monitering van strategieë deur regerings oraloor Suider-Afrika in werking gestel word om higiëne te bevorder en sentraal staan tot pogings om toegang tot skoon drinkwater en ordentlike sanitasie teen 2030 te bereik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie