Geen water toe winkelkompleks brand

Katima Mulilo se enigste brandweerwa het ook in die slag gebly toe ’n wegholbrand ’n inkoopsentrum op die dorp vernietig het.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – ’n Winkelsentrum in Katima Mulilo se sakegebied wat verskeie groot besighede huisves, is in puin gelaat nadat ’n brand dit verwoes en daar geen water beskikbaar was om die vlamme onder bedwang te bring nie. Die dorp se enigste brandweerwa is ook in die brand beskadig.

“Die ironie is ons bly langs ’n rivier, die Zambezi wat gemiddeld tans drie meter hoër is as wat hy gewoonlik dié tyd van die jaar is en hy is al 50 cm hoër as die hoogste vloed in 2008. Maar Katima het nie water nie, want die dorpsraad doen geen onderhoud nie en die pype bars die heeltyd, of hulle betaal nie vir NamWater nie en dan sny hulle die water af.

“Die dorp met die mees standhoudende water in die land sit gereeld sonder water. ’n Tyd terug was ons amper twee weke sonder water,” het ’n inwoner van die dorp gesê. Juis om dié rede hou die meeste inwoners op die dorp noodgedwonge ’n watertenk en ’n kragopwekker aan.

Die dorpsraad se kommunikasie- en bemarkingsbeampte, mnr. Muyoba Muyoba, het in ’n onderhoud erken die dorp het nie water gehad nie, maar het alle blaam ontken.

“Daar was geen element van nalatigheid aan die kant van die dorpsraad nie,” het Muyoba gesê. Volgens hom kon die dorpsraad watertoevoer Woensdagmiddag herstel. Hy het erken die brandkrane “het nie water ingehad nie” en dat die hulp van “alle rolspelers” soos die polisie, weermag en die Namibiese Lughawensmaatskappy (NAC) ingeroep is om die brand te probeer blus.

Volgens Muyoba wag die dorpsraad ook nog op ’n tegniese verslag van Nored nadat daar vroeër ook ’n kragonderbreking was wat moontlik tot die brand kon aanleiding gegee het.

“Ons wag nog op ’n verslag om presies te bepaal wat gebeur het.”

Muyobe sê “niks van die winkelkompleks het oorleef nie”. Hy het bevestig die dorpsraad se brandweerwa het ook aan die brand geslaan en “het ophou werk”.

NamWater se woordvoerder, mnr. John Shigwedha, sê die dorp het na ’n voorafbetaalde stelsel vir water oorgeslaan, wat beteken die dorpsraad bepaal verbruik en koop vervolgens die nodige hoeveelheid water waarvoor hulle krediet kry.

“Die water word op krediet gekoop, hulle het egter nie weer en betyds betaal nie. ’n Sekere bedrag is wel laat Woensdag betaal,” het Shigwedha gesê.

Intussen het mnr. Giovanni Boffelli van Katima Security Services gesê winkels wat in die brand verwoes is, sluit Shoprite, Hungry Lion, Pep en Clicks in.

Volgens Boffelli was daar omstreeks 03:00 ’n kragonderbreking.

“Toe die krag aangaan, het die ‘spike’ deur die sonkragdrade gegaan, wat vermoedelik begin brand het,” het hy gesê.

Bakkers van Shoprite wat reeds daar was, is ontruim. Waterlorries van die weermag het water uit die rivier gaan pomp om die brand onder beheer te probeer kry. Volgens Boffelli het die water eers weer “09:00/10:00” aangekom.

Sekuriteit moes ook inspring toe inwoners die afgebrande winkels probeer plunder het.

“Al van waarde wat oorgebly het, was die drankwinkel van Shoprite en geld van winkels wat nog in kluise was. As die water aan was, sou dit ’n heel ander storie gewees het,” het hy gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!