Geesvang vir Japan 2019 begin vlamvat

Die botsings teen die Southern Kings dien as barometer van waar Namibië hom in die pylvak voor die Wêreldbeker bevind.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Namibiese rugby-ondersteuners se eerste en enigste kans vanjaar om die nasionale span op volle sterkte op tuisbodem in Windhoek te sien speel voor hul vertrek na die Wêreldbeker, breek komende Saterdag aan.

Die Southern Kings, die franchise van die Oos-Kaap wat op hul komende seisoen in die Pro14 voorberei, kom verskaf aan Namibië sy finale oefenlopie met wedstryde in die Hage Geingob-stadion (afskoptyd 16:30) en 'n week later op Walvisbaai (7 September).

Die Windhoek-wedstryd is afrigter Phil Davies se finale geleentheid vir beoordeling en proefnemings, voordat hy vroeg in volgende week sy 31 uitgesoekte spelers vir die wêreldtoernooi in Japan moet aankondig. Die vertrek na Japan is op 12 September – tien dae voor hul eerste groepwedstryd teen Italië.

Die Wallieser, wie se voorlopige groep van 38 verlede week 'n oefenkamp in Durban bygewoon het, het die groot aankondiging tot op die laaste moontlike tydstip uitgestel ten einde die kandidate die mees regverdige kans te gee.

Laas Saterdag by die Durban Crusaders-veld het Davies se kombinasie in 'n vriendskaplike wedstryd teen 'n Haaie-uitnodigingspan met 43-0 gewen.

Vir dié geleentheid het hy meestal spelers aan die buiterand van die groep ingespan, asook diegene wat vanaf Europese klubs aangesluit het en weer in die Namibiese trui hul gereedheid moes bewys, soos die stut Casper Viviers, haker Torsten van Jaarsveld en Pieter-Jan van Lill as slot en kaptein vir die dag, asook London Harlequins se agtsteman Renaldo Bothma en die Ospreys-vleuel Lesley Klim.

Davies sê: “Ons besoek aan Durban was baie produktief. Ons het verskeie oefensessies gehad, sommiges op ons eie en ook teen die Haaie-spelers.

“Die eindtelling Saterdag was van mindere belang, met die groter waarde daarin vir die groep om mekaar weer te vind. Van die spanlede wat van oorsese klubs aangesluit het, het redelik lank laas saam gespeel. Ons kon ook kombinasies in 'n wedstrydsituasie deurkyk en ek is tevrede met wat ek gesien het.

“Ons het ook nog hierdie week om verder aan dinge te werk.

“Die tyd wat ons op en van die veld met die spelers kon bestee, was baie waardevol.

“Ons sien uit na die twee wedstryde teen die Kings, wat ons stelsels onder druk sal toets. Die stryd om goeie besit uit die skrums en lynstane te kry en om 'n stewige platform te skep, bied 'n belangrike oefenlopie vir die Wêreldbeker en die Kings sal 'n toets bied om te kyk of ons stelsel op die verdediging stewig is.”

Volgens Davies het Namibië laas naweek 'n paar goeie drieë gedruk. “Die opbouwerk vir die drieë wat Chad Plato en Rohan Kitshoff afgerond het, was 'n bewys van die samespel waaraan ons in die vorige dae gewerk het, met vinnige fasebesit en goeie balverspreiding.”



GEORGIË SE BANK BRING OMMESWAAI TEEN KINGS

Die rugbyspan van Georgië moes Dinsdagaand kwaai spook om die Southern Kings in hul opwarmwedstryd in Tbilisi te klop, skryf Michael Green van Netwerk24.

Georgië, twaalfde op die wêreldranglys en besig om vir die Wêreldbekertoernooi voor te berei, was danksy 'n sterk eindpoging met 24-20 in die Mikheil Meskhi-stadion baas.

Die Kings, wat verskeie onervare spelers ingespan het, was rustyd nog met 17-5 voor.

In die laaste 13 minute het Georgië se plaasvervangers 'n verskil gemaak. Die tuisspan het in dié tyd drie drieë gekry, waarvan een 'n strafdrie was.

Dit was nie 'n kwessie van die Kings wat uitgesak het nie, maar eerder dat sake skielik net vir die opgesweepte tuisspan gewerk het.

Reg teen die einde het die Kings se plaasvervanger-skrumskakel Sarel Pretorius 'n goeie breekslag gemaak wat op die wendrie vir die Suid-Afrikaners kon uitgeloop het as hy die nodige ondersteuning gehad het.

“Ons het 'n taamlik onervare span op die veld gehad en ek dink die spelers het onder die omstandighede goed gevaar,” sê Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter.

“Dit was moeilike omstandighede teen 'n internasionale span en ek glo ons het 'n paar waardevolle lesse geleer.”

Die tuisspan was baie fisiek en het die Kings by tye in die vaste skrums laat les opsê.

Omdat dit die Kings se eerste opwarmwedstryd voor die nuwe Pro14-seisoen was, was die samespel te verstane nog nie heeltemal na wense op die aanval en verdediging nie.

Die ervare losskakel Demetri Catrakilis het sy terugkeer vir die Oos-Kapenaars met 'n goeie vertoning gevier. Vandat die 30-jarige speler ses jaar gelede by die Kings weg is, het hy onder meer by die Stormers, Montpellier en London Harlequins sy rugby- en lewensondervinding verbreed, voordat hy “vars en honger” na Port Elizabeth teruggekeer het.

Sy skakelmaat, Stefan Ungerer, het die span aangevoer en was ook baie goed op dreef.

Die Kings het hul agtsteman Ruaan Lerm in die 26ste minuut van die eerste helfte met 'n enkelbesering verloor.

Lerm, tevore 'n Goue Leeu, sal na verwagting nie Saterdag in Windhoek in die Kings se volgende opwarmwedstryd teen Namibië speel nie.

Die beginspan teen Namibië sal glo heelwat anders lyk as die een wat teen Georgië opgedraf het.

Georgië is Saterdag ook weer in aksie wanneer hy in die Dinamo-stadion in Tbilisi teen Skotland speel.

Puntemakers:

Georgië 24 (5): Drieë: Giorgi Aptsauri, Giorgi Metikadzi, strafdrie (7 punte), Shalva Sutiashvili. Doelskop: Lasha Malaguradze.

Kings 20 (17): Drieë: Sibusiso Sithole, Christian Ambadiang. Doelskoppe: Demetri Catrakilis (2). Strafdoele: Catrakilis (2).

Kommentaar

Republikein 2025-02-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer