Gefrustreerde skare bestorm polisiekantoor

'n Woendende aanval met klippe laat Vrydagnag op die polisie in Mondesa het vyftien mense agter tralies laat beland.
Adolf Kaure
Adolf Kaure op Swakopmund – Die polisie se streekbevelvoerder vir gemeenskapsake in die Erongostreek, insp. Ileni Shapumba, het die groep woedende inwoners van die Mondesa-woonbuurt op Swakopmund wat Vrydagnag die polisiekantoor met klippe bestook en skade aangerig het, gewaarsku oor die geregtelike optrede teen hulle.

Shapumba het aan Republikein se kusredaksie, Erongo, gesê die polisie sal die kwaadstokers opspoor wat inwoners uit Mondesa aangery het om die polisie se eiendom te be­skadig.

“Ek wil diegene waarsku wat kwaad stook en vir die inwoners sê hulle moes die polisiekantoor afgebrand het en nie net die vensters beskadig het nie. . .

“Ons doen nie dit in 'n demokratiese republiek nie.”

Hy sê drie polisiebeamptes is lig beseer tydens die skare se optrede wat gevolg het nadat 'n 34-jarige man in hegtenis geneem is omdat hy die Covid-19-regulasies oortree het.

“Mense was by 'n sekere huis byeen waar hulle vermoedelik alkohol gebruik en dronk geword het. Ons sekuriteitsgroep, bestaande uit lede van die polisie en weermag, het op 'n klag reageer,” sê Shapumba. Toe die beamptes by die huis aankom, is die eienaar ingelig hy verbreek die regulasies en aangesê om vir sy vriende te sê om te verkas.

'n Gestoei het tussen die eienaar en die polisie uitgebreek en hy is in hegtenis geneem en na die polisiekantoor geneem om aangekla te word – enersyds omdat hy na bewering die regulasies verbreek het en ook omdat hy glo die polisie verhinder het om hul pligte uit te voer.

Die blyk die groep vermeende drinkebroers het ook na die polisiekantoor gegaan waar hulle daarop aangedring het dat hy vrygelaat word.

“So iets het nog nooit op hierdie dorp gebeur nie. Die polisie het met hulle gepraat en intussen het hulle inwoners uit verskeie dele van Mondesa gemobiliseer.

“Sommige het hul voertuie gebruik om mense na die polisiekantoor aan te ry. Ander het hul voertuie gebruik om die klippe vir hul onwettige optrede aan te ry,” het Shapumba gesê.

Buiten die skade in die vorm van gebreekte venters aan die polisiekantoor en 'n polisievoertuig, is mense wat langs die polisiekantoor woon, se eiendom ook beskadig, sê hy.

Vyftien mense is in aanhouding vir opsetlike saakbeskadiging en die aanhitsing van openbare geweld.

Die woedende skare het gevloek en geskree dat hulle die huise soek wat deur die president (dr. Hage Geingob) belowe is en dat die staat van inperking verslap moet word. Die polisie het verskeie waarskuwingskote geskiet om die skare onder bedwang te bring.

“Ons wil die publiek herinner dat as daar kwessies is wat hulle pla, hulle die prosedures moet volg om dit opgelos te kry,” het dié hoof van gemeenskapsake gesê.

“Ons kan nie in 'n staat van wetteloosheid leef nie. Ons as polisie is ingevolge die Grondwet aangestel om wet en orde te handhaaf, oortredings te ondersoek, misdaad te voorkom en om lewe en eiendom te beskerm,” was sy woorde.

Die spesiale reserwemag se hulp is ontbied, maar gelukkig is net drie polisiebeamptes lig beseer toe hulle deur klippe getref is, het hy gesê.

'n Anonieme ooggetuie voer aan die polisie het nie verduidelik waarom hulle die eienaar van die huis waar die kuiery plaasgevind het, in hegtenis geneem het nie.

“Die gemeenskap is kwaad oor die nuwe inperking en sê die polisie arresteer net mense vir geen rede nie. Hulle vra nie eens nie.

“Hulle het die polisie geword en begin klippe gooi, en toe het die oorlog begin,” het die ooggetuie vertel.

Die vyftien mense sal vandag saam met die huiseienaar in die landdroshof op die dorp verskyn.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!