Geharde Pep, Ackermans lig inkomste met 9%
Geharde Pep, Ackermans lig inkomste met 9%

Geharde Pep, Ackermans lig inkomste met 9%

Nellie Brand-Jonker



Die Pepkor-groep se resultate toon hoe gehard sy sakemodel vir stram tye is, met die meeste van sy kettingwinkelgroepe wat hul markaandeel verhoog of behou het.

Leon Lourens, uitvoerende hoof, het die vertoning van die groep se kettingwinkels, wat Pep en Ackermans insluit, as lofwaardig beskryf.

Die inkomste van die groep het met 9% tot bykans R70 miljard gestyg.

Voor afskrywings het sy bedryfswins met amper 16% tot R6,8 miljard gestyg.

Lourens sê die vertoning wys hoe gehard die maatskappy in moeilike handelstoestande is waarin 'n groot deel van sy teikenmark werkloos en van maat­skaplike toelae afhanklik is.



Baie nuwe winkels

Die grootste bedryfsegment van die groep, waaronder Pep en Ackermans tel, het sy inkomste met 6,5% tot R45 miljard verhoog. Bedryfswins het met 3,7% tot R6,3 miljard gestyg.

Dié bedryfsegment sluit ook die skoenwinkels ShoeCity, Dunns en Tekkie Town in, asook die klerewinkels Refinery en John Craig.

289 nuwe winkels is in hierdie bedryfsegment geopen, en die boekjaar is met 4 395 winkels afgesluit.

Lourens sê dit is baie winkels, maar hulle is nog vol vertroue dat uitbreiding op hierdie trant vir drie jaar of langer volgehou kan word.

Hy sê bestaande winkels stoot ook steeds hul verkope op.

Pep en Ackermans het hul verkope met 6,3% verhoog en uitgesluit nuwe winkels het bestaande winkels se verkope met 2,6% gestyg. Dit is ten spyte van voortgesette druk op Pep se teikenmark as gevolg van baie hoë werkloosheid en beperkte bestedingsvermoë.

In die jaar is 106 nuwe Pep-winkels geopen.

Ackermans het “wesenlik markaandeel” gewen en dit is toegeskryf aan sy aanbod wat op “vroue met kinders” gerig is.

Dié kettingwinkelgroep het 81 nuwe winkels geopen en het nou 806 winkels.



Nuwe kettingwinkels

Die handelstoestande sedert einde September bly wisselvallig en die groep glo die moeilike tye gaan voortduur omdat verbruikersbesteding steeds onder druk is.

“Die huidige omgewing bied geleent­hede om markaandeel uit te brei en die sterk waarde-aanbod aan klante gaan na verwagting voortgaan om aanklank by hulle te vind.”

Die groep gaan uitbrei deur nuwe winkels en nuwe winkelformate te open.

“Wat in ons guns tel is ons meer buigsame winkelmodel. Ons kan na kleiner plekke uitbrei waar baie ander sukkel om onder 500 vierkante meter winkels oop te maak. Dit werk vir ons, maar nie vir ander nie.”

Van sy nuwe winkelkonsepte vertoon baie goed.

Dit sluit in sy Pep Home-winkels wat nou op 239 trek.

Met die jaareinde het die groep ook reeds 14 alleenstaande Ackermans Woman-­winkels gehad, en dit gaan tot 30 verdubbel in die huidige boekjaar.

Die groep het ook 450 Pep Cell-­winkels waar selfone en finansiële dienste aan kliënte verkoop word.

Pep het ook met Dealz-winkels begin wat 'n verskeidenheid van produkte teen lae pryse verkoop. Daar is nou elf van dié winkels.

Hy sê die nuwe winkelkonsepte is 'n belegging in die toekoms. “Dit is die winkels wat oor vyf jaar van nou af die groei gaan bring.”



Skuld

Die verhouding van die groep se skuld tot sy bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het in die boekjaar gestyg.

Volgens Lourens het die besluit om sy eie verbruikerskredietboek te bou, bygedra tot die styging in sy finansiering.

Sy netto rentedraende skuld het van R12,6 miljard tot R13,9 miljard gestyg.

Sy finansieringskoste het met 35% tot R1,6 miljard gestyg.

Die afskrywing van The Building Company en die styging in sy finansieringskoste het veroorsaak dat die groep se wins vir die boekjaar met 25% tot R2,1 miljard gedaal het.



Dividend

Die direksie het besluit om in die lig van die poging om sy skuldverhouding te verlaag, aan aandeelhouers 'n keuse te gee om tussen 'n skripdividend en 'n kontantdividend van 20,9c te kies. Dit is minder as die 27,8c in die vorige jaar.

Sy dividendbeleid bly dieselfde, naamlik 'n dividend wat drie keer deur sy verdienste gedek word.

Sy basiese verdienste per aandeel het met 22% tot 64,6c gedaal weens die ­afskrywing van die bates van The ­Building Company.

Die skripdividend verseker dat die kontant in die maatskappy behou word om sy skuld terug te betaal.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!