Geheime dokumente oor JFK-sluipmoord geopenbaar
Die meeste van die dokumente wat verband hou met pres. John F. Kennedy se sluipmoord in 1963, is oornag op die webwerf van die Amerikaanse Nasionale Argief gepubliseer.
Pres. Donald Trump het verlede week opdrag gegee dat sowat 2 800 geklassifiseerde regeringsdokumente oor die sluipmoord bekend gemaak word, waarna die kongres 26 Oktober as die sperdatum daarvoor vasgestel het, berig The Guardian.
Ontleders het reeds begin om die duisende bladsye, waarvan sommige handgeskrewe is, te bestudeer. Dit sluit in die CIA se sluipmoordteorieë en Martin Luther King Jr. se politieke oortuigings.
Die sluipmoord op Kennedy terwyl hy saam met sy vrou, Jackie, in 'n afslaandakmotor in Texas gery het, bly een van die mees ikoniese en omstrede gebeure in die moderne Amerikaanse geskiedenis.
'n Jaar ná die moord het die Warren-kommissie, wat deur Kennedy se opvolger, pres. Lyndon Johnson, aangestel is, tot die gevolgtrekking gekom dat die magtigste man in die wêreld deur Lee Harvey Oswald, 'n 24-jarige voormalige seeman, vermoor is met 'n geweer wat hy per pos bestel het.
CNN berig volgens die dokumente wat nou openbaar gemaak is, het Oswald twee maande voor die sluipmoord in geradbraakte Russies met 'n KGB-agent in Mexiko gepraat.
Die CIA het 'n oproep van Oswald na die Russiese ambassade op 28 September 1963 onderskep.
Oswald het met konsul Valeriy Vladimirovich Kostikova “in gebroke Russies” gepraat. Kostikova was 'n “geïdentifiseerde KGB-beampte”, lui die dokument. Volgens die dokument “is dit ongewoon vir 'n KGB-agent op 'n sensitiewe sending om openlike kontak met 'n Sowjet-ambassade te hê, maar “sulke kontak in amptelike omgewings kan veroorsaak word deur die agente se eie onverskilligheid”.
The Guardian berig dat 'n paar dinge tot dusver uit die dokumente duidelik is. Een daarvan is dat die FBI, volgens notas deur die New Orleans-afdeling van die buro, voor die sluipmoord probeer het om Oswald op te spoor.
'n Agent daar het geskryf dat Oswald volgens “Kubaanse bronne” van belang was en dat hy die inligting aan die Dallas-owerhede oorgedra het.
Luidens 'n memorandum het J. Edgar Hoover, direkteur van die FBI, die polisie in Dallas ná die sluipmoord op Kennedy gewaarsku dat Oswald, wat toe in polisieaanhouding was, 'n doodsdreigement ontvang het; tog het die polisie nie beskerming aan hom gebied nie. Oswald is later deur Jack Ruby doodgeskiet.
Hoover het begin om 'n samesweringsteorie te vrees. “Die ding waaroor ek bekommerd is,” het Hoover gesê, “is om iets uit te reik sodat ons die publiek kan oortuig dat Oswald die regte sluipmoordenaar is.”
Die dokumente het ook onthul dat Sowjet-leiers Oswald as 'n “neurotiese maniak wat dislojaal aan sy eie land en enigiets anders was”, beskryf het.
Hulle het ook gevrees dat daar saamgesweer is om Kennedy te vermoor, en dat dit deur 'n regse staatsgreep of deur Kennedy se opvolger, Lyndon Johnson, gereël was.
Hulle het ook gevrees dat 'n roekelose Amerikaanse generaal 'n missiel sou afvuur en dit 'n oorlog in die nadraai van Kennedy se dood sou veroorsaak, berig The Guardian.
Luidens die berig het die Kubaanse leier, Fidel Castro, in 1978 aan Amerikaanse wetgewers gesê dat Kuba nie in die komplot betrokke was nie.
Volgens 'n CIA-memorandum het die Kubaanse ambassadeur in Amerika in 1963 egter met “vreugde” op die nuus van die sluipmoord gereageer. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie