Geheime wapen (16) skiet CCD aan flarde
Geheime wapen (16) skiet CCD aan flarde

Geheime wapen (16) skiet CCD aan flarde

Die samestelling van die halfeindstryde komende Saterdag is Wanderers (1) teen Trustco United (4); WHS Old Boys (2) teen CCD Tigers (3).
Andrew Poolman
Andrew Poolman – In die tradisieryke annale van Namibiese klubkrieket was daar sweerlik nog min spelers wat so ’n dramatiese impak in hul debuutwedstryd in die premierliga gemaak het as Jack Brassell, wat eers einde volgende maand 17 jaar oud word.

Met sewe paaltjies vir net nege lopies in 9 boulbeurte, insluitend ’n driekuns, het hy Saterdag CC Tigers op hul tuisveld in Pionierspark verniel en verneder.

Om te sê die skoolseun van Swakopmund se vertoning het uit die bloute gekom, sou ’n erge onderskatting wees. Die gekombineerde kusspan, die MR24/7 Welwitschias, het hierdie seisoen geen wedstryd in die 50-boulbeurtpremierliga gewen nie en kon Saterdag op die CCD-veld opnuut ook net ’n onvleiende 76/9 op die telbord plaas.

“Dis die beste wat ek nog in my lewe geboul het,” het Brassell agterna aan die koerant gesê – nadat hy die sentrale figuur was wat gesorg het dat CCD Tigers vir net 52 uitgeboul word, om die kusspan met 24 lopies te laat wen.

Brassell sê hy het in graad 1 begin krieket speel toe hy in Edugate op Otjiwarongo begin skoolgaan het. In graad 3 het sy gesin na Swakopmund verhuis en hy het by Pro-Ed Akademie ingeval, waar hy in graad 8 begin eerste span speel het. Hy het toe ook by die JCCA-klub aangesluit, maar het verlede jaar by die nuut gestigte klub Pro-Ed Old Boys aangesluit.

Saterdag was hy verras toe die Welwitschias se kaptein, Matthew de Gouveia, hom die nuwe bal gee om die eerste boulbeurt af te stuur. Hoewel Brassell, ’n regterarm mediumsnelbouler, aanvanklik op sy senuwees was om na die ervare nasionale aanvangskolwer Stephen Baard te boul, het hy ná net vier balle vir Baard vir 0 uitgehaal toe De Gouveia hom gevang het.

“Die eerste paaltjie het ons span baie selfvertroue gegee,” sê Brassell. In sy tweede beurt het hy CCD se jong aanvangskolwer Ryan Moffett (0) b.v.p. betrap, voordat nommer drie Joshuan Julius (10) ook kort daarna moes terugstap. Ook nie lank nie, of Brassell het sy vierde slagoffer gehad – Jaden Cloete (3), uitgevang deur Tangi Nuuyoma.

Die kusspan het feesgevier toe Brassell vir sy vyfde paaltjie die gevaarlike nasionale speler Nicol Loftie-Eaton (2) laat uitvang- maar dit was boonop bloot die begin van sy driekuns, met die volgende twee balle wat ook Ramon Wilmot (geboul vir 0) en Tawanda Sithole (gevang De Gouveia vir 0) se einde beteken het.

CCD was op 18/7 ná 8.5 boulbeurte, met Brassell wat al die paaltjies geneem het. Pikky ya France (22 van 34 balle, 2x6) het vergeefs die skade probeer teenwerk. In hul jaagtog na die klein telling van 77 het CCD jammerlik gefaal tot 52 almal uit, met Reynard van Zyl (2/12 in 3) wat die stert help opruim het.

Hoewel Stephen Baard een van die tiener se slagoffers was, het dié Wêreldbeker-kolwer agterna sy lof uitgespreek: “Ek het eers tydens die wedstryd uitgevind dat dit sy debuut was! Ek was baie beïndruk met die spoed en areas wat hy geboul het vir ’n jongman van sy ouderdom. As hy senuagtig was, het dit nie so gelyk nie. Hy het gelyk of hy presies weet wat hy doen en hy het dit met selfvertroue gedoen.

“Hy het elke paaltjie verdien en dit maak my bitter gelukkig om te weet ons het sulke talent in ons pyplyne vir die toekoms.”

• Tydens Welwitschia se vroeër kolfbeurt het Walter Fokkens (24 van 71 balle, 1x6) hard gewerk om dinge aan die gang te hou. Sy aanvangsmaat Herman van Zyl (12) en die 22 ekstras (tien wydlopers) was die enigste ander dubbelsyfers te midde van die gesukkel teen CCD se drietal nasionale draaiboulers Pikky ya France (3/7 in 4.1), Mauritius Ngupita (2/14 in 6) en Nicol Loftie-Eaton (2/12 in 6).

“Na my mening was die CCD-veld in die beste toestand wat ek dit nog ooit gesien het. Die buiteveld was mooi groen, maar die kolfblad was ’n paradys vir die boulers. Die bal het baie beweeg van die blad af en sommige dele se wip het hoog opgeskiet, so dit was moeilik vir kolwers,” het Brassell gesê.

• Welwitschia se skrale buitekans om nog tot die halfeindronde deur te dring, het egter gister gesneuwel toe sy uitgestelde wedstryd teen Trustco United nie kon plaasvind nie. Beide spanne het nie genoeg spelers beskikbaar gehad nie.

Gevolglik bly die samestelling van die halfeindstryde komende Saterdag soos verwag: Samsung Wanderers (1) teen Trustco United (4); Ceiling Centre WHS Old Boys (2) teen CCD Tigers (3).

WANDERERS KLOP UNITED

In die kleedrepetisie vir hul semifinaal het United op Gemsbokpark ’n makkerige nederlaag met agt paaltjies teen Wanderers gely.

United is in 27.3 boulbeurte vir 91 lopies uitgeboul – ’n redelike dramatiese ineenstorting nadat hulle op 58/1 was. Shaun Fouché (24 van 42 balle, 3x4) het die beste gevaar, maar ná Lo-han Louwrens (14 van 15 balle, 3x4), Michael van Lingen (13 van 16 balle, 1x4) en Adam Bassingthwaighte (16 van 30 balle, 1x4) het die lopies en grenshoue heeltemal opgedroog.

Bernard Scholtz se draaiballe het hom ’n puik 4/7 in 5.3 boulbeurte besorg, terwyl Jan Frylinck ook sy giftige self was (3/38 in 9). Karl Birkenstock met 2/22 in 4 en Louis Peters (1/17 in 4) het ook bygedra.

Wanderers se lopiejaagtog het op koers gebly ondanks die verlies van die aanvangskolwers Niko Davin (24 van 11 balle, drie viere, een ses) en JC Balt (27 van 32 balle, 2x4 1x6).

Karl Birkenstock (24 nie uit nie van 41 balle, 2x4) en JJ Smit (12* van 4 balle, 1x4 1x6) het die taak afgerond.


FOTO
Jack Brassell se 7/9 in nege boulbeurte het ‘n driekuns ingesluit en verseker dat sy span se beskeie totaal van 76/9 ‘n wentelling was. Foto Batch Loftie-Eaton

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!