Geingob besoek Guinee, Kanada
Die Namibiese staatshoof het onderweg na New York 'n besoek aan Guinee en Kanada gebring.
Ronelle Rademeyer
Pres. Hage Geingob het Donderdag 'n werksbesoek aan Guinee gebring waar hy met pres. Alpha Condé vergader het voordat hy Vrydag in Ottawa, Kanada, met eerste minister Justin Trudeau samesprekings gevoer het.
Geingob en sy Guinese ampsgenoot het tydens die bilaterale samesprekings ingestem tot nouer samewerking op maritieme gebied en hawe-operasies ten einde die jeug te bemagtig en werk te skep, sê dr. Alfredo Hengari, sy perssekretaris, in 'n verklaring.
Groot klem is ook tydens die samesprekings op landbou en voedselsekuriteit gelê, en Geingob het gesê samewerking op die gebied van landbou moet dadelik begin.
Vier ooreenkomste is onderteken, naamlik 'n raamwerkooreenkoms vir samewerking, 'n ooreenkoms vir die totstandkoming van 'n gesamentlike kommissie, 'n politieke en diplomatieke samewerkingsooreenkoms, asook een vir die wedersydse visumvrystelling vir besoekers met diplomatieke en amptelike paspoorte.
Geingob het voorts Namibië se verbintenis benadruk tot 'n gemeenskaplike Afrika-siening oor internasionale aangeleenthede, die hervorming van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad en die Afrika-unie (AU) se ontwikkelingsbloudruk, Agenda 2063.
“Ek en pres. Condé het sienings gedeel oor die belangrikheid dat die mense van Afrika hul eie probleme oplos en vir ons twee lande om samewerking te verstewig, veral op die gebiede van landbou en mynbou. Ons het ook saamgestem oor die dringendheid van 'n finansieel-selfstandige Afrika-unie, maar om dit reg te kry, moet die beginsels van redelikheid en billikheid in die bydraes van lidlande gerespekteer word,” het Geingob ná afloop van die samespreking gesê.
Sy besoek die daaropvolgende dag aan die Kanadese eerste minister, mnr. Justin Trudeau, in Ottawa het gefokus op inklusiewe groei, handel en beleggings, klimaatverandering en geslagsgelykheid.
Geingob het Trudeau daarop gewys dat Namibië en Kanada gedeelde waardes as demokrasieë het en deel 'n geskiedenis van samewerking met dié land se steun vir Namibië se onafhanklikwording.
Hy het ook die Kanadese maatskappye in Namibië geloof vir hul beleggings en die voorbeeld wat hulle stel, en gesê dit dra by tot die tweede deel van Namibië se stryd vir ekonomiese emansipasie.
Hy het Kanada ook bedank vir opleiding wat verleen is aan die Namibiese polisie in die bekamping van misdaad, en gesê Namibië sal meer hulp verwelkom.
Geingob het ook 'n werksessies tydens middagete met die minister van internasionale handelsdiversifisering, mnr. Jim Carr, gehad. Dit is deur sakelui, akademici en ontwikkelingfinansiers bygewoon.
Die Namibiese staatshoof het daarna na New York vertrek waar hy die 73ste sitting van die VN se Algemene Vergadering later vandeesweek sal bywoon.
Môre sal hy op uitnodiging van die Noorweegse eerste minister, me. Erna Solberg, die inwydingsvergadering van die paneel vir die vestiging van 'n volhoubare oseaanekonomie bywoon.
Hy sal onder meer ook die Nelson Mandela-vredesberaad bywoon. Dit is 'n hoëvlakberaad van die VN oor wêreldvrede.
Die Namibiese afvaardiging keer weer Vrydag ná tien dae in die buiteland na Namibië terug.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie