Geingob bring hulde aan Heita
Geingob bring hulde aan Heita

Geingob bring hulde aan Heita

Die medialandskap in Namibië is armer sonder Desie Heita.
Denver Kisting
Denver Kisting - Pres. Hage Geingob sê die ontslape joernalis Desie Heita (39) het 'n ­waardevolle bydrae tot die Namibiese joer­nalistiek gemaak.

Geingob het gistermiddag by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, gesê hy het met hartseer van Heita se ontydige dood kennis geneem. “President Geingob loof die uitstekende bydraes van wyle mnr. Heita tot die groei van die medialand­skap in Namibië,” het Hengari in 'n verklaring namens die staatshoof gesê.

Geingob het voorts gesê die land het 'n hardwerkende en toegewyde joernalis verloor.

Toivo Ndjebela, 'n kollega van Heita, het gistermiddag aan Republikein gesê: “Desie het professionaliteit in die ware sin van die woord beliggaam. Hy het sy werk ernstig opgeneem en sou nie sy naam (“byline”), soos hy dit gestel het, by 'n Mickey Mouse-storie sit nie.”

Hiernaas, sê Ndjebela, was Heita 'n baie georganiseerde joernalis wat nie oorhaastig met 'n berig was nie “totdat hy alle feite gehad het”.

Oor sy geliefde kollega sê Ndjebela voorts: “Hy het verstaan die joernalistiek is nie 'n 8 tot 5-werk nie en sou my dus altyd vra of daar énigiets was wat ek wou hê hy moes doen voor hy loop. As ek ja geantwoord het, het hy dadelik weggespring met die taak. Die Namibiese joernalistiek sal armer wees sonder hom.”

Heita sou later vandeesmaand 40 jaar oud geword het.

Sy liggaam is gister net ná middernag onder die hek by sy huis in Klein Windhoek ontdek, het komm. Silvanus Nghishidimbwa, die polisiebevelvoerder van die Khomasstreek, gister gesê.

Daar word vermoed die hek het hom doodgeval. Hy was ten tye van sy heengaan die adjunk­redakteur van die dagblad New Era.

'n Senior werknemer van die koerant het gisteroggend gesê hul redaksie is platgeslaan deur die nuus oor Heita se dood.

Nghishidimbwa het gistermiddag gesê geen misdaad word vermoed nie.

Heita se motor is na wat verneem word luie­rend op sy erf aangetref.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer