Geingob grom oor Erindi
Geingob grom oor Erindi

Geingob grom oor Erindi

Namibiërs kan meer doen om beleggers welkom te heet, meen die staatshoof.
Denver Kisting
Denver Kisting



Pres. Hage Geingob het gister gesê Namibiërs moet ophou om beleg­gers met hul gedrag te verjaag.

Volgens die staatshoof kan ­inwoners meer doen om die land 'n gunstiger ruimte vir veral moontlike beleggers te maak.

Hy het dié opmerkings gister by Staatshuis gemaak tydens 'n Mexikaanse miljardêr, mnr. Alberto Baillères (87), se welwillendheidsbesoek.

Die bejaarde entrepreneur het verkies om nie 'n woord aan die media te sê of enige vrae te beantwoord nie.

Hy het sy oë op die Erindi- private wildreservaat.

Geingob het gesê die man wou agter geslote deure hoor hoe veilig Namibië vir hom en sy geliefdes sal wees.

Hy het die president terselfdertyd privaat op die hoogte gebring van wat hy alles vir Erindi in die mou voer.

Die president het opnuut benadruk dit is nie net die regering se verantwoordelikheid om werksgeleenthede te skep nie.

'n Belegger van Baillères se statuur is in staat om werksgeleenthede te help skep, het Geingob gesê.

Die staatshoof het terselfdertyd gesê Erindi se verkoop is uit die regering se hande.

Volgens hom het dit aan die lig gekom toestemming is reeds verleen om die spogoord van die hand te sit toe me. Pendukeni Ivula-Ithana die minister van grondhervorming was.

Geingob het ook gister die media voor stok gekry wat nie hul deel doen om opbouend te wees nie. Dít het gekom nadat 'n joernalis by hom wou weet wat presies nog agter toe deure bespreek is. Volgens Geingob gaan dit nie die verslaggewer aan nie.



Bewaringspogings

Luidens 'n verklaring deur Baillères se skakelbeamptes beplan hy om die oord op te gradeer, die plante en diere te beskerm en om bewaringspogings uit te brei.

Die minister van grondhervorming, mnr. Utoni Nujoma, sy eweknie by finansies, mnr. Calle Schlettwein, en die prokureur-generaal, dr. Albert Kawana, was ook tydens gister se ­vergadering teenwoordig.

Vroeër vandeesmaand het dit aan die lig gekom die Namibiese regering hét magtiging gegee vir Erindi om aan die buitelander verkoop te word.

Dít kom ondanks 'n weergawe deur die eerste minister, dr. Saara Kuu­gongelwa-Amadhila, dat dié verlof nie toegestaan is nie.

Die regering kan nie vir Erindi verkoop nie omdat die spogoord nie aan hom behoort nie, het Kuugongelwa-Amadhila dae vantevore op 'n nuuskonferensie in die hoofstad gesê.

Dit het onlangs rugbaar geword nie net is die buitelander Baillères warm op die oord se spoor nie, maar die kooptransaksie is reeds in 'n gevorderde stadium.

Geingob het verlede week in die openbaar die verkoop van Erindi probeer regverdig.

Politieke partye het ook hul stem dik gemaak teen die beplande transaksie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!