Geingob klap die sweep

Met die aanvang van die jaar waarin rekenskap gegee sal word, het pres. Hage Geingob ingrypende veranderinge aan sy kabinet aangekondig.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn

Pres. Hage Geingob het gister tydens die eerste kabinetsitting dit hard en duidelik gestel dat hy die stryd teen korrupsie en onbevoegdheid ernstig opneem.

Hy het ook omvattende skuiwe aan sy kabinet aangekondig.

Dié skuiwe kom nadat Geingob verlede week die afdanking van me. Pendukeni Iivula-Ithana as minister van binnelandse sake en immigrasie en van mnr. Jerry Ekandjo as minister van sport, jeug en nasionale diens aangekondig het.

Die voormalige minister van stedelike en landelike ontwikkeling, me. Sophia Shaningwa, is verlede jaar tydens Swapo se kongres tot sekretaris-generaal van die party verkies.

Dit is ‘n voltydse pos en dus sal sy haar parlementêre setel behou al kan sy nie langer as minister dien nie.

ONTLEDERS SE MENING

Politieke waarnemers sê sy toespraak met die kabinetsopening en die skuiwe wat hy gemaak het, verdien vir Geingob ‘n regmerkie agter sy naam.

Wat nou gesien sal moet word, is hoe ver hy sal gaan om die beloftes van rekenskap wat geëis sal word tot uitvoer te bring.

Tog vra sommige ontleders hoekom die president individue wat korrup is nie afdank indien hy van hul korrupsie weet nie.

Die grootste lof kom vir die aanstellings van mnr. John Mutorwa en mnr. Tom Alweendo by die ministeries van werke en vervoer en myne en energie onderskeidelik.

Mnr. Frans Kapofi se skuif na die ministerie van binnelandse sake en immigrasie is ook verwelkom.

Dit wil ook vir ontleders voorkom of die president besef het dat mnr. Sacky Shanghala nie daarvoor opgewasse is om die belangrike portefeulje van prokureur-generaal te beklee nie en dat Geingob gevolglik teruggeval het op dr. Albert Kawana wat vantevore al die pos beklee het en oor wye ondervinding beskik.

Die aanstelling van dr. Peya Mushelenga by die ministerie van stedelike en landelike ontwikkeling was ook vir politieke waarnemers ‘n verrassing omdat sy akademiese agtergrond op die gebied van internasionale betrekkinge is. Sy bevordering is waarskynlik uit erkenning vir die werk wat hy as adjunkminister gedoen het en daarom is hy nou ‘n volle minister gemaak.

JAAR VAN REKENSKAP

Geingob het ook sy stem dik gemaak oor sommige ministeries.

“Ek hoop dit is nie waar nie, maar ek het gelees dat die ministerie van verdediging ‘n plaas ter waarde van N$45 miljoen gekoop het, terwyl hulle die troepe huis toe stuur. Ek weet nie of dit verlede jaar gedoen is nie. Minister, ons moet praat, want ek sien nie die dringendheid hiervan terwyl ons mense huis toe gestuur word nie,” het hy met verwysing na die minister van verdediging, mnr. Penda ya Ndakolo, gesê.

Die president het ook meer lig gewerp op wat hy met “die jaar van rekenskap gee” bedoel.

Hy sê 2015 was die jaar van beplanning. In 2016 is die Harambee-plan vir voorspoed in die jaar van implementering bekend gestel.

In dié jaar is ‘n prestasiebestuurstelsel in ministeries en in alle kantore en agentskappe van die staat ingestel. Met die oog op die versnelling van implementasie was 2017 die jaar van hertoewyding.

“Gevolglik moet dit as geen verrassing gekom het dat 2018 die jaar om rekenskap te gee is nie. Volgens die Oxford-woordeboek beteken rekenskap om verantwoording te doen vir goed wat ontvang of gedoen is, ‘n beoordeling van ‘n hofuitspraak, wraak of straf vir foute en wandade van die verlede. In die Bybelse weergawe is dit die oordeelsdag, wanneer almal geroep sal word om verantwoording vir hul dade te doen.

“Ek het dié tema met opset vir 2018 aanvaar om openbare ampsdraers tot verantwoording voor die nasie te roep oor die verwesenliking van verkiesingsbeloftes en die implementering van nasionale ontwikkelingsplanne,” het Geingob gesê.

BRIEWE AAN MINISTERS

Hy het reeds briewe aan verskeie politieke hoofde van ministeries en kantore geskryf waarin antwoorde van hulle geëis word oor aantygings wat teen hulle en hul ministeries of kantore gemaak is. “Ek is veral besorg oor aantygings van korrupsie, wanadministrasie en/of onbevoegdheid wat meestal teen die ministerie van werke en vervoer, die kantoor van die prokureur-generaal, die ministerie van myne en energie en die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gemaak word. Daar mag ander ministeries ook tot ‘n mindere mate wees,” sê Geingob.

Hy hoop om met die antwoorde wat die minister moet verskaf hulle die geleentheid te bied om hulself te verdedig waar die bewerings onwaar is en sodoende regstellende stappe, waar nodig, te neem.

LEWENSTYL-OUDITS

Geingob het ook ‘n kille waarskuwing aan politieke ampsdraers gerig: “Die vertroulike proses van lewenstyl-oudits het begin en sal uitgebrei word. Diegene wat tekortskiet, sal aan die gepaste wetstoepassingsagentskappe oorhandig word.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!