Geingob kondig noodtoestand af
Die staatshoof sê dié drastiese stap was nodig om lewens te beskerm.
Denver Kisting
Die énigste manier om op die openbaregesonheidsnoodgeval wat deur Covid-19 veroorsaak is, te reageer, is 'n noodtoestand.
Só sê pres. Hage Geingob.
“Hoewel die pandemie wat ons vandag in die gesig staar geen presedent het nie, is ons vol vertroue dat om saam te werk, die verspreiding van virus en lewensverliese doeltreffend kan beperk, en die gesondheid van dié wat geraak is, kan herstel.”
Volgens hom is 'n noodtoestand die enigste manier om mense se reg op vryheid van beweging in te perk.
Dit kom nadat twee gevalle van dié virus die afgelope naweek in Namibië bevestig is.
Geen nuwe gevalle is tot dusver bevestig nie.
Dr. Kalumbi Shangula, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê die kabinet het gisteroggend op die volgende aanvullende maatreëls besluit:
• Opskorting van die uitreik van visums by aankoms by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako en die inwerkingstelling van 'n reisverbod op buitelandse burgers (deur lug of see) van geraakte lande, naamlik die Schengen-state, China, Iran, Korea, die Verenigde Koningryk (VK), die Verenigde State van Amerika (VSA) en Japan. Dié verbod sal gereeld hersien word.
• 'n Tydelike reisopskorting van 30 dae vir Namibiërs of permanenteverblyfreghouers, behalwe vir spesiale gevalle met vooraf magtiging deur die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste en binnelandse sake en immigrasie. Uitsonderings sal geld vir mense wat mediese hulp benodig of noodsaaklike dienste, soos humanitêre bystand, trokdrywers wat kos en ander benodighede bring en Namibiërs wat terugkeer. Verpligte skandering en kwarantyn, waar nodig, sal geskied.
• Alle reise vir plesier, besigheid en sosiale redes word opgeskort, en Namibiërs wat elders woon en Namibië wil besoek, word aangemoedig om dié reise uit te stel.
• Om te verseker mense kan aanhou werk, moet internasionale vergaderings óf deur amptenare by buitelandse missies bygewoon word óf deur middel van tele-/videokonferensies.
• Alle geskeduleerde internasionale vlugte en private huurvlugte móét by Internasionale Lughawe Hosea Kutako of die Walvisbaai Internasionale Lughawe land.
• Alle geskeduleerde passasiervlugte, insluitend private huurvlugte na en van lande waar die virus aktief oorgedra word, word met onmiddellike effek vir 30 dae opgeskort. Dié verbod sluit noodvlugte en vrag uit.
• Vliegtuie moet goed ontsmet word en lughawepersoneel moet behoorlik opgelei word oor voorkoming en beheer.
• Skandering vir Covid-19 is verpligtend by alle grensposte.
• Namibiërs of permanente verblyfhouers wat terugkeer van hoërisikolande sal onderwerp word aan selfkwarantyn en
• Suid-Afrikaanse grensposte, insluitend lughawens, bly oop sodat Namibiërs kan terugkeer en besoekers huis toe kan gaan en om nie handel tussen dié twee lande te onderbreek nie.
Ekonomie voel Covid-byt
Die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, sê N$134 miljoen is onmiddellik beskikbaar gestel vir die bestryding van die virus in Namibië. “Teen dié tyd weet almal waarskynlik die pandemie het 'n beduidende impak op die ekonomie.”
Ofskoon alle ekonomieë geraak word, sal kleiner ekonomieë die byt meer voel, sê hy. Die toerismesektor is basies tot stilstand geruk, sê hy. Omdat daardie sektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk minder gaan wees, sal die regering ook minder belasting van hulle ontvang, sê Schlettwein.
“Ons sal nie dieselfde vermoë hê om die begroting te befonds nie.”
Mnr. Pohamba Shifeta, die minister van die omgewing en toerisme, sê afleggings in die toerismebedryf is onvermydelik.
Mnr. Tjekero Tweya, die minister van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, sê hy vergader vandag met verteenwoordigers van kleinhandel, verspreiding, vervaardiging en die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI) om met 'n plan vorendag te kom.
Mense in dié bedryf wat aflegging van werknemers oorweeg, word aangemoedig om alternatiewe, soos verlof, te oorweeg, sê hy.
Die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, sê die werksaamhede van die parlement kan nie opgeskort word nie, omdat dit byvoorbeeld die tertafellegging van die nasionale begroting in die wiele sal ry.
Sy sê 'n noodtoestand was ook nodig om hulpbronne vinniger te mobiliseer.
Aochamub gehospitaliseer
Volgens die adjunk- eerste minister en minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het amb. Albertus Aochamub, die Namibiese ambassadeur na Frankryk, Maandagaand positief getoets vir Covid-19.
Hy word tans in die hospitaal behandel, het sy gesê. Sy het sy toestand as “oukei” beskryf.
Eerste dame onder kwarantyn
Pres. Geingob het gesê die eerste dame, me. Monica Geingos, self-kwarantyn ook tans “in 'n ander kamer” nadat sy van 'n buitelandse reis af teruggekeer het.
Die noodtoestand sal vir sewe dae duur behalwe as die Nasionale Vergadering dit verleng tot 'n maksimumtydperk van ses maande, sê die prokureur-generaal adv. Albert Kawana.– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie