Geingob luister na griewe
Geingob luister na griewe

Geingob luister na griewe

Die Namibiese president toer deur die land om oor landskwessie te gesels.
Augetto Graig
Augetto Graig - Die Namibiese president, dr. Hage Geingob, het tydens sy landswye toer vir stadsaalvergaderings geskrewe voorstelle uit die Otjozondjupastreek ontvang.

Op 12 Julie het inwoners van die streek tydens Geingob se besoek aan Otjiwarongo moontlike oplossings vir landskwessies aan hom oorhandig.

Geingob se toer het op 11 Julie op Jakkalsdraai en Otjituve in die Aminuis-kiesafdeling begin, waarna hy na Gobabis gereis het. Onderweg na Otjiwarongo het hy by Kalkfeld aangedoen.

Op Otjiwarongo was bykans 3 000 mense teenwoordig, onder wie tradisionele leiers, boere, sakelui, jongmense en verteenwoordigers van opposisiepartye.

Die eerste om daar sy voorstelle voor te lê, was die hoof van die Kambazembi koninklike huis, hoofman Sam Kambazembi, van Okakarara. Volgens hom moet die Okakarara-kiesafdeling in twee verdeel word weens die grootte daarvan, asook die groot bevolking daar. Die hoofman het gesê die tradisionele owerheid moet saam met die streek se kommunalegrondrade wetlik bemagtig word om onwettige heinings op kommunale grond af te breek. Tans kan dit net ingevolge ‘n hoërhofbevel gedoen word.

Ander kwessies wat geopper is, sluit in uitbreiding van kommunale grond, burgerskap van Ovaherero’s gebore in Botswana ná die volksmoord, die rol van die privaat sektor in ontwikkeling en die lewering van dienste.

Wat betref die droogtesituasie, het ‘n verteenwoordiger van die Otjozondjupa- kommunale boerevereniging, mnr. Ramana Mutjavikua, voorgestel die beleid oor plattelandse watervoorsiening moet hersien word en dat watertoevoer aan alle Namibiërs in plattelandse gebiede versterk word. Die feit dat sommige dorpies geen betroubare waterbronne het nie terwyl ander verskeie het, moet volgens hom aangespreek word.

Geingob se toer het ook ten doel om die doeltreffendheid van die land se droogteverligtingpogings te bepaal.

“Ons het een boorgat wat die hele Gam-gemeenskap voorsien, wat opeenhoping van mense en vee veroorsaak,” het ‘n Gam-inwoner, mnr. Samuel Maharero, gesê. “Ons vra dus dat die regering ? plan maak vir die gemeenskap.”

Die Landless People’s Movement se streekleier, mnr. Benjamin Khairabeb, het voorgestel die staatshoof moet ? wet instel om water- en kragtariewe te reguleer omdat dit noodsaaklike dienste is. Volgens hom word die koste vir dié dienste jaarliks verhoog sonder om verbruikers te raadpleeg en dit terwyl die verantwoordelike instansies aanhou groot winste maak.

Die Otjiwarongo-vergadering is ook deur visepresident Nangolo Mbumba, verskeie kabinetministers en adjunkministers bygewoon. Sedertdien het Geingob en sy afvaardiging soortgelyke vergaderings op Stampriet, Mariental, Keetmanshoop, Swakopmund en Omaruru gehou.

Vandag besoek die president die inwoners van Omuthiya en môre is hy op Khorixas. Vanaf 5 Augustus sal hy dag lange besoeke aan Ongwediva, Outapi, Eenhana, Nkurenkuru, Rundu en Katima Mulilo doen. Die toer eindig op 13 Augustus in Windhoek. – Bykomende inligting Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-03-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer