Geingob onder skoot oor hospitaalbesoek
’n Verrassingsbesoek aan ’n beleërde gesondheidsinstelling het ’n storm ontketen.
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob word uit talle oorde gekap oor sy verrassingsbesoek die afgelope Vrydagmiddag aan die Katutura-staatshospitaal.
Mnr. McHenry Venaani, die leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het Saterdag gesê: “Dis ’n refleksreaksie van ’n mislukte stelsel.”
Hy sê Geingob kan nie so ’n stap doen en dan die toedrag van sake probeer verdedig nie. “Jy moet waarneem, opsom en reageer.”
Venaani sê hy kan hom nie oor die staatshoof se bedoelings uitlaat nie, “maar sy reaksie was verkeerd”.
Geingob is tydens Vrydagmiddag se besoek deur Namibian Sun, Republikein se susterkoerant, gevra oor die beroerde toestand van ’n saal waarin wangevoede kinders behandel word.
Hy het onder skoot beland – veral in die sosiale media – oor die manier hoe hy die vraag hanteer het.
Venaani sê: “Hierdie probleme is nie nuut nie. As die regering dit wou verander, sou hulle.”
‘ONEGTE BEDOELINGS’
Mnr. Mike Kavekotora, die leier van die Rally for Democracy and Progress (RDP), sê hy reken Geingob se bedoelings was nie eg nie.
“Hy is eenvoudig onder druk uit alle oorde en moet op ’n manier die inwoners tevrede stel deur voor te gee dat hy omgee.”
Kavekotora sê hy voorsien nie dat enigiets goeds uit Vrydagmiddag se besoek sal kom nie. “Ons het nog altyd volgehou Swapo het hul visie verloor. Hulle kyk, maar kan nie sien nie; hulle hoor, maar kan nie begryp wat Namibiërs in die gesig staar nie.”
Die ontleder mnr. Graham Hopwood meen die president se bedoeling was goed. “Ongeskeduleerde besoeke aan lukrake mediese instellings sal in die toekoms waarskynlik sinvol wees wat die bepaling van die presiese probleme en oplossings betref.”
Maar, maan hy, die minister van gesondheid en maatskaplike dienste – en nie Staatshuis nie – moet die hoofrolspeler wees.
Dít behels gereelde terugvoering aan die publiek via die media oor vordering rondom infrastruktuur en oor beskikbaarheid van medikasie, sê Hopwood.
Dr. Hoze Riruako, ’n politiekewetenskapdosent, reken ook Geingob se bedoelings was opreg. “Daar word so baie gepraat oor die haglike toestand van sommige sleutelregeringsinstellings. Ek is oortuig deur daardie instellings te besoek, sal die president die nodige aandag op hulle vestig – eindelik sal hulle die aandag geniet.”
Me. Esther Muinjangue, die leier van die National Unity Democratic Organisation (Nudo), sê die politieke klimaat in Namibië verander tans teen ’n vinnige pas.
Almal, insluitend die president, moet wakkerskrik, sê sy.
Sy reken Geingob se besoek was ’n politieke skuif in ’n poging om gesien te word nader aan die mense te beweeg. “Hy moes dit vyf jaar gelede gedoen het. Nou probeer hy die land beïndruk.”
Muinjangue sê sy verneem die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, het Saterdag die Opuwo-staatshospitaal besoek. “Onthou die tussenverkiesing in Opuwo Landelik is Maandag (vandag), en November het ons streek- en landelike verkiesings. So, dit behoort hul beweegrede te verduidelik. Politici moet mensgesentreer wees wat ek nie sien nie.”
Mbumba het gister nóg sy foon geantwoord nóg op boodskappe gereageer.
Mnr. Ivan Skrywer van die Landless People’s Movement (LPM), meen Geingob se besoek verteenwoordig té min té laat. Boonop, sê hy, is dit ’n polities misrekende skuif. “Die president het ontaard in ’n reaksionêre mens.”
Geingob sal alleen weet wat die doel vir sy besoek was en of hy daardie doelwit bereik het, sê sy mede-Swapo-lid, die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, dr. Panduleni Itula.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie