Geingob onder vergrootglas

Terwyl die land se derde demokraties verkose president môre ingehuldig word, is meningsvormers opnuut verdeeld oor waarheen hy en sy span die land lei.
Denver Kisting
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob sê die ongelykheid in Namibië is sy grootste kommer.

Ondanks die veiligheidsnetwerke wat hy en sy regering daargestel het, is die gaping tussen ryk en arm “die grootste ding; my kommer basies”.

Eenheid – of die gebrek daaraan – onder Namibiërs dra ook tot sy sorge by, sê die staatshoof.

Syns insiens steek stamgebonde uitsprake veral onder die jeug toenemend kop uit. Dit bekommer hom, sê hy.

Geingob sê hy weet vrede is vervelig, maar Namibiërs behoort trots te wees die afgelope 30 jaar is gekenmerk deur relatiewe vrede en bestendigheid.

Hy sê die Namibië van 21 Maart 1990 is nie dieselfde plek as die een vandag nie.

“Dinge het verander. Dit is wêrelde van mekaar verwyder.”

Geingob het die afgelope week in aanloop tot die herdenking van die land se 30ste onafhanklikwording gesê hy hoop ook om onthou te word vir iemand wat Namibiërs se geluk ter harte geneem het.

Hy word môre vir sy tweede en laaste termyn as president ingehuldig.

Oor die jeug en hul stamgebonde ingesteldheid verskil die sosioloog dr. Ellison Tjirera van hom.

Behalwe dat dié dosent van mening is die jeug is kwaad en gefrustreerd weens die ekonomiese ellende van die land, leer hul daardie stamgebondenheid by die ouer garde, sê Tjirera.

Die een man wat waarskynlik die felste kritiek op die Hage Geingob-administrasie lewer, is die politieke wetenskaplike, mnr. Job Amupanda.

Nadat pres. Geingob Woensdagmiddag aangekondig het sy topdrie van sy eerste termyn – visepresident Nangolo Mbumba, eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila en adjunk- eerste minister Netumbo Nandi-Ndaitwah – bly onveranderd, het Amupanda gesê hy is geensins verras nie.

Hy het nuus vir dié wat wel geskok was, het die vuurvretergrondaktivis toe gesê: “Vir diegene van julle wat kla oor Geingob se kabinet (topvier), het julle regtig geglo die man sal sy medepensioenarisse agterlaat vir jong zombies wat hande klap? Net omdat julle jul geslag agterlaat het om voor iemand in die stof te kruip, dink julle die pensioenarisse sal dieselfde doen?”

‘Geen verandering’

Mnr. Graham Hopwood, die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR), het die afgelope week gesê Geingob het nog nie sy belofte nagekom dat sake nie langer soos gewoonlik bedryf sal word nie.

Amupanda sê die president en sy regering stel net in kosmetiese verandering belang. “Hulle stel nie belang in wesenlike verandering nie.”

Dr. Panduleni Itula, die eertydse onafhanklike presidensiële kandidaat, wat tweede in November se verkiesing geëindig het, stem saam met Amupanda. “Hierdie is kosmetiese veranderinge voorgelê om die indruk van verandering te wek. Minimale veranderinge inderdaad.”

Volgens hom “sou geen leier sinvol wees om ’n nasie met honger mae uit te daag nie”.

Geingob het op 31 Desember 2019 aan die land verklaar: “Ek het dit duidelik gemaak tydens die laaste kabinetsvergadering van 2019 dat ons nie langer sake soos gewoonlik kan bedryf nie.”

Hopwood het by navraag gesê: “Nadat hy en Swapo verlede jaar stemme verloor het, het hy belowe dit sal nie langer ‘sake soos gewoonlik’ wees nie en hy sou die lesse leer van ’n teleurstellende prestasie.”

Maar, sê die ontleder, teen Dinsdag het Geingob ’n ander deuntjie begin sing.

Hopwood sê die president “se luim het verander na een waar hy nie enige foute wil erken nie – aan sy kant en aan dié van die regering – of dat verandering nodig is nie. Ons sal moet wag en sien of hy sy kabinet sal regskud, maar op die oomblik lyk dit baie soos ‘sake soos gewoonlik’.”

Oor kritiek dat hy nie die jeug in senior poste aanstel nie, het Geingob Woensdag gesê die jeug word nog reggemaak.

Boonop, het hy gesê, loop Republikein die aankondiging van die res van sy kabinet vooruit.

Amupanda het gesê hy is “natuurlik” teleurgesteld in Geingob se aankondiging.

Geingob sê hy het al verskeie kundiges in die private sektor genader om die politiek te betree. “Hulle stel nie belang nie.”

Itula sê dit is ongehoord vir die president om reeds sy topspan aan te kondig.

Hy sê Geingob moes gewag het tot ná sy inhuldiging.

“Alle aanstellings is ongrondwetlik tot ’n president ingehuldig is, maar wat verwag jy van dié wat grondwetlike oortredings van verkiesings aanvaar?”

Geingob het dié week gesê hy kom wel sy belofte aan die land na deur die aantal ministeries te verminder om die verskillende sektore meer vaartbelyn te maak.

“Deur dié veranderinge te maak, het ek in gedagte gehou daar is ’n behoefte om die regeringstruktuur meer optimaal te maak om nuwe lewe te gee aan ons planne vir ekonomiese herstel en groei terwyl die behoefte aan vernuwing en kontinu?teit gebalanseer moet word.”

Hy het die aantal ministeries van 26 na 19 verminder.

Oor die aantal adjunkministers het hy gesê dit behoort van meer as 30 na omtrent die helfte gesny te word.

Teen druktyd was dié getal nog onbekend.

Geingob sê die regering sal bespaar deur bedrywighede saam te snoer en duplisering uit te sny.

In ’n poging om die regering se salarisrekening te verminder, moet mense op 60 jaar aftree en diegene wat 55 jaar of ouer is, word aangemoedig om op vervroegde aftrede te gaan.

Ministers sal ook nie voortaan meer toegang tot 4x4-voertuie hê nie, het Geingob gesê. Hulle sal moet vir lief neem met die Mercedes Benz tot hul beskikking.

Sou hulle grondpad moet ry, kan hulle ’n voertuig uitboek, sê hy.

Die staatshoof het benadruk die regering is nie ’n werkskepper nie, maar moet ’n gunstige omgewing skep sodat die private sektor werksgeleenthede kan skep.

Geingob sê mense wat aan verkiesings deelneem en nie vrede kan maak wanneer hulle nie wen nie, is die probleem.

Sonder om Itula by name te noem, het hy gesê in plaas daarvan om hul nederlaag te erken en te aanvaar, wend hulle hul keer op keer tot howe.

Itula het hom onsuksesvol tot die hoogste hof in die land, die hooggeregshof, gewend in ’n poging om ’n herverkiesing te laat geskied.

Die hof het bevind die gebruik van elektroniese stemtoestelle (EVM’s) in November se verkiesing was geskoei op ’n onregmatige en ongrondwetlike besluit maar ’n herverkiesing is nie geregverdig nie.

Die volbank regters was van mening Itula en sy regspan kon nie enige wesenlike ongerymdhede uitwys nie.

Maar, het die hof gelas, tot EVM’s nie in samewerking met ’n naspeurbare papierspoor gebruik kan word nie, moet verkiesings voortaan deur tradisionele stembriewe behartig word.



Vieringe saai amok

Reeds voor môre se 30ste onafhanklikheidsvieringe deur Geingob afgestel is weens die uitbreking van Covid-19, het die staatshoof deurgeloop onder kritiek.

Die sekretaris-generaal van die jeugliga van die Popular Democratic Movement (PDM), mnr. Bensen Katjirijova, het gesê ’n mens vier nie jou verjaardag wanneer jy siek is nie.

Omdat Namibië tans siek is, behoort die land se 30ste herdenking van onafhanklikwording ook nie gevier te word nie, het hy volgehou. “Ons land is ’n gemors.”

Me. Duminga Ndala, sy eweknie by die Landless People’s Movement (LPM), het hom gelyk gegee.

Volgens haar sal hulle môre eerder gebruik om diens te doen in die gemeenskap, byvoorbeeld om gratis sanitêre doekies te versprei.

Ndala sê 30 jaar nadat die land uit die kloue van apartheid en kolonialisme bevry is, is dit nie meer genoeg om politieke vryheid te vier nie.

Dr. Alfredo Hengari, die woordvoerder van pres. Hage Geingob, het toe beklemtoon: “’n Nasie gaan oor geskiedenis, grensgebied, regering en gedeelde aspirasies. 21 Maart 2020 is ’n mylpaal vir ons gemeenskaplike agenda – drie dekades van vryheid en demokratiese instellings.

“Uitdagings bly – hulle is gesamentlik en ons moet hulle almal saam as ’n verenigde groep pak.”

Hengari sê die dag wentel nie net om die land se demokraties verkose president nie. “Dit handel oor Namibiërs wat ons oorwinnings moet vier.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!