Geingob reageer op Nanso-uitlatings
Gratis tersiêre onderrig sal nie werk as die land nie die middele daarvoor het nie, sê die staatshoof.
Denver Kisting – President Hage Geingob het gisteroggend gesê studente wat nie hul studielenings terugbetaal nie is skuldig aan kontrakbreuk.
Hy het by monde van sy woordvoerder, dr. Alfredo Hengari, aan Republikein gesê sy standpunt oor die saak is duidelik.
“Wat bestaande lenings betref, het mense ’n verpligting om dit terug te betaal. Dit is ’n skending van die voorwaardes (van die ooreenkoms) as hulle nie betaal nie.”
Wat president Geingob wél toegegee het, sê Hengari, is om reeds tydens 2015 by die nasionale konferensie oor armoedeverligting aan te dui dat daar ’n behoefte is om van lenings na beurse te beweeg.
Dít strook volgens Hengari met die gees van Geingob se Harambee-welvaartsplan, wat ten doel het om álle Namibiërs ekonomies te bemagtig.
“Maar dit is op geen manier van toepassing op bestaande leningsooreenkomste nie,” maan Hengari.
In dié Oktober 2015-toespraak sê Geingob die regering staan reeds pa vir sowat 80% van die werksaamhede van Namibiese tersiêre instellings. Dié hulp geskied deur middel van subsidies.
Hiernaas, het Geingob toe gesê, vind tersiêre studente voorts ook baat by die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF).
“Wat die weg vorentoe betref, moet ons wegbeweeg van ’n skema waardeur studente lenings moet terugbetaal na ’n beursstelsel wat studente in staat sal stel om ná hul gradeplegtigheid dadelik ’n welvaartsportefeulje op te bou in plaas daarvan om met skuld graad te vang.”
Hengari het gister gesê hoewel besprekings rondom gratis tersiêre onderrig ’n nodige gesprek is, kan die afskaffing van studiegeld nét gebeur wanneer daar voldoende hulpbronne is. “Die president kan nie môre gratis tersiêre onderrig in werking stel terwyl hy weet die regering beskik nie tans oor die vermoë om dit te finansier nie.”
Hy sê egter gratis tersiêre onderrig is “in beginsel die rigting vir die toekoms”.
Die Namibië Nasionale Studente-organisasie (Nanso) het verlede week ’n storm ontketen toe hy hom beroep het op sy lede om nie hul NSFAF-skuld terug te betaal nie – selfs diegene wat reeds begin het om terug te betaal en dié wat dit kan bekostig.
Nanso se streeksekretaris, mnr. Shoki Kandjimi, het verlede week in die hoofstad gesê Nanso het reeds tydens 2015 besluit alle lenings moet in beurse omskep word.
Derhalwe, sê hy, is hulle baie bekommerd oor onlangse nuus dat die teenoorgestelde voorgestel word.
“Hiermee trek ons te velde teen en verwerp daardie voorgestelde beleid en voel sulke idees is anti-arm, anti-studente en teen ’n beroep op gratis tersiêre onderrig.”
Die studenteleier sê NSFAF moenie van sy mandaat afwyk om studente finansieel by te staan nie.
Wat die terugbetaling van skuld aan die hulpfonds betref, sê Kandjimi: “Nanso en die studenterade van hoëronderwysinstellings in die Khomasstreek hou vol studente sal nie die geld terugbetaal nie. Ons wil dit onomwonde stel dat ons nie geld van lenings sal terugbetaal nie. Dit is ons ouers se geld en ons sal nooit gedruk word om enigiets terug te betaal nie.”
Kandjimi sê Nanso distansieer hom van vorige uitlatings deur ’n ander Nanso-lid wat ’n beroep op studente gedoen het om wél lenings terug te betaal.
Kandjimi het toe aangevoer hul veldtog is geskoei op ’n onderneming van president Geingob oor gratis tersiêre onderrig.
Die fonds is tans in omstredenheid gehul nadat vroeër bevestig is geen nuwe studente sal vir die huidige akademiese jaar hulp van die NSFAF ontvang nie.
Die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing se permanente sekretaris, dr. Alfred van Kent, het onlangs benadruk die fonds sal voortaan binne die perke van sy begroting moet bly, maar NSFAF sal terselfdertyd rekening moet hou met ’n verwagte toename in die hoeveelheid geldige aansoeke om finansiële hulp.
Daar is toe onthul toelae kan afgeskaf word en met lenings vervang word.
Mnr. Olavi Hamwele, die NSFAF-amptenaar gemoeid met menslike hulpronne en korporatiewe aangeleenthede, het by navraag gesê hulle reken Nanso se standpunt is onverantwoordelik én onpatrioties om mense op te sweep om nie aan die vereistes van wetgewing te voldoen nie.
Hiernaas, sê Hamwele, sal die volhoubaarheid van NSFAF se werksaamhede gekortwiek word wanneer studente nie hul skuld vereffen nie.
Die toepaslikheid van die fonds om toekomstige menslike hulpbronontwikkelingsbehoeftes te finansier om vereiste ekonomiese doelwitte te haal, kom ook in die gedrang, het hy gewaarsku.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie