Geingob roskam Shanghala
Die president van Swapo het sy voormalige oogappel aangesê om eers na sy eie ‘situasie’ om te sien voor hy uit die tronk bevele aan die party gee.
Jemima Beukes
Pres. Hage Geingob het Saterdag gesê mnr. Sacky Shanghala, die voormalige minister van justisie, wie se verhoor met betrekking tot die Fishrot-korrupsieskandaal volgende week moet afskop, is in geen posisie om vir Swapo te sê wat om te doen nie.
Shanghala het verlede maand 'n dokument van 31 bladsye getiteld “A Modern Economic, Social and Political Programme - Namibian Socialism” uit sy tronksel geskryf waarin hy die party waarsku om te groei of andersins die risiko te loop om in die toekoms irrelevant te raak.
Mense in Swapo se binnekring sê die party se leierskap was nie beïndruk met Shanghala se waarskuwing nie, veral nie terwyl hy na bewering een van die meesterbreine agter die omkoperyskandaal is wat die reputasie van die party ernstige skade berokken het nie.
Transaksies waaroor die media berig het, het gewys hoe amptenare van Swapo betalings ontvang het wat aan Fishrot gekoppel was, glo om stemme ten gunste van sekere kandidate tydens die 2017-verkiesing te koop.
Die omkoopgeld is betaal in ruil vir buitensporige Namibiese visvangkwotas aan die Yslandse maatskappy Samherji, wie se betalings in die rekeninge van maatskappye beland het wat aan Shanghala en sy medebeskuldigdes in die saak gekoppel is.
’n Week gelede is Shanghala en sy Fishrot-medebeskuldigde, mnr. Bernhard Esau, tydelik uit Swapo se sentrale komitee geskors ná hul lot onlangs by 'n politburo-vergadering bespreek is.
Die besluit om die duo net tydelik te skors, het baie Swapo-lede verras, omdat die party se grondwet dit duidelik stel dat 'n lid van die sentrale komitee wat drie opeenvolgende vergaderings sonder ’n geldige rede misloop, outomaties van die struktuur verwyder sal word.
Shanghala en Esau is sedert November 2019 agter tralies en kon dus sedertdien nie enige vergaderings bywoon nie.
VEROUDERD
In sy skrywe uit die tronk het Shanghala gesê die regerende party se huidige politieke program is verouderd en nie omvattend nie.
Ironies genoeg het die party dié naweek sy eerste interaktiewe openbare debat getiteld “Sosialisme met Namibiese eienskappe” gehou, wat glo ruimte skep vir openlike gesprekke.
Geingob het Saterdag gesê die gesprek is nie deur Shanghala se raad geïnspireer nie, maar dat die party doen wat hy moet.
“Laat hy eers vir homself sorg. Hy moet eers na sy eie situasie daar (in die tronk) omsien. Ons moet doen wat ons vandag hier doen. Laat hy doen wat hý moet doen,” het Geingob gesê.
WAAR IS SWAPO SE JEUG?
Tydens sy voorlegging het Geingob teleurstelling uitgespreek oor die gedrag van die party se jeug en benadruk dat lede wat stamgebonde is nie rewolusionêr kan wees nie.
Die president het bygevoeg dat Namibië deur die Sowjetunie en Kuba gesteun is, maar tog toon jong Namibiërs geen solidariteit vir Namibië se betroubare bondgenote nie.
“Waar is die jeug van Swapo? Ek sien julle nie. Betoog julle teen die versperrings? Daardie mense het vir ons gesterf. Julle moet betoog of 'n stelling maak pleks daarvan om te skinder. Inteendeel is ons nóg meer anti-China. Wat het China aan ons gedoen? Ek hoor of sien nie in julle skrywes dat julle oor daardie kwessies praat nie. Met wie assosieer jy jouself as jy jouself rewolusionêr noem?” het hy gevra.
Hy het ook hul keuse van rewolusionêre rolmodelle bevraagteken en gesê hulle is te stil.
“Nie Karl Marx nie, nie Lenin nie, nie Castro nie en nie die Chinese Mao Zedong nie. Ek hoor net mense praat van Thomas Sankara van Burkina Faso. Ja, dit is die vlak wanneer mense van rewolusionêre rolmodelle praat. As daar 'n probleem in Venezuela of in Kuba is, sien ek nie jongmense betoog of enige iets doen nie. En julle wonder waar is die rewolusie.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie