Geingob sê oor 'vriend' Jack Huang

Die president het gister vir die eerste keer oor sy bande met die Chinese sakeman gepraat.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer -
Pres. Hage Geingob oorweeg sterk om sy aandeel in Africa Rising te verkoop.

Dié vennootskap van die president met die omstrede Chinese sakeman, mnr. Jack Huang, was rondom 'n dorpsontwikkeling oos van Avis.

Pres. Geingob het gister tydens die opening van die regbank se verrigtinge vir 2017 gesê hy is enkele weke gelede deur sy regsadviseur aangeraai om sy familie se aandele in dié gesamentlike projek te verkoop.

Hy sê dit was om die “heksejag” wat op Huang se inhegtenisneming verlede week gevolg het, te voorkom.

“Dit is toepaslik en geleë om nou, terwyl ons hier by die Hooggeregs­hof as die vesting van geregtigheid byeen is, die nasie in te lig dat ek 'n eed afgelê het om die Grondwet en ander landswette te handhaaf. Daardie wette moet ferm en regverdig toegepas word op almal, insluitend familie, vriende, sakevennote en ampsdraers,” het hy gesê.

Geingob het ook die versekering gegee dat, toe sy “vriend” in­ hegtenis geneem is en die nag in aanhouding deurgebring het, hy nie daarby ingemeng het nie.

Huang is verlede week op borgtog van N$1 miljoen vrygelaat nadat hy by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako gearresteer is.

Hy word verdink van betrokkenheid by die belastingontduiking-, bedrog- en geldwasserysaak van N$3,5 miljard wat die staat tans ondersoek.

Huang was op pad na Luanda in Angola om 'n groot saketransaksie te beklink toe hy in hegtenis geneem is.

Geingob het in sy openingsrede die regbank ook herinner aan sy “geregtigheidsplig” om vroue en kinders teen geslags- en gesinsgeweld te beskerm.

“Daar is nie ruimte vir geslagsgeweld in die Namibiese Huis nie en vanjaar moet ons almal, mans, vrouens en kinders, ons opnuut toewy daaraan om die land te bevry van enige voorvalle van geslags- en gesinsgeweld,” het hy gesê.

Afgesien hiervan het die staatshoof ook 'n beroep op die wetskrywers gedoen om die wetswysigings wat nodig is om swaarder strawwe teen stropery en die plundering van wildlewebronne op te lê, vir goedkeuring na hom te stuur.

Kommentaar

Republikein 2025-04-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer