Geingob se Europese toer in oënskou
Verantwoordelike ontwikkeling bevorder
Augetto Graig
Gewigtige gesprekke op verskeie fronte met staatshoofde, sakelui en verteenwoordigende beamptes van wêreldorganisasies was op president Hage Geingob se program tydens sy afgelope Europese toer. Die president het Saterdag laataand op Eros-lughawe in die hoofstad geland.
Hy het reeds op Vrydag 11 Februarie in Frankryk die Een Oseaan-beraad op versoek van president Emmanuel Macron toegespreek.
Geingob het sy medewêreldleiers ingelig oor Namibië se betrokkenheid by ’n hoëvlakpaneel wat poog om die see binne enige nasionale grense teen 2025 volhoubaar te bestuur, asook Namibië se ondersteuning van die hoëvlak koalisie vir mariene biodiversiteit in maritieme gebiede buite nasionale jurisdiksie, bekend as Habitat. Dié inisiatief is by die geleentheid bekend gestel en is gemik op die bewaring van oseane buite nasionale grense.
Geingob sê Habitat moet klimaatsverandering aanpak en deur verbeterde en meer billike bestuur van die wêreld se oseane, volhoubare visvang beskerm en ook plastiekbesoedeling en kuserosie bekamp.
“Namibië is in die finale stadium van die ontwikkeling van ’n volhoubare beleid vir ’n Blou Ekonomie. Die doelwitte van die beleid is onder meer om biodiversiteit, produktiwiteit, veerkragtigheid en die intrinsieke waarde van Namibië se mariene en akwatiese ekosisteme effektief te beskerm, in stand te hou en te herstel.
“Namibië ontwikkel ook groen waterstof as ’n manier om die impak van klimaatsverandering en die gevolge daarvan op stygende seevlakke en aardverwarming te beperk,” het hy gesê.
Geingob het verlede Woensdag spesifiek die hawe van Antwerpen in België besoek as deel van die ontwikkeling van die logistieke middelpunt en groenwaterstof-strategie vir Namibië.
Benewens ’n voorlegging oor die strategie van die Antwerpen-hawe om ’n groenwaterstof-ekonomie as deel van sy energie-oorgang te ontwikkel, is Geingob en die eerste minister van België, Alexander De Croo, op ’n toer deur die groenwaterstof-aanlegte van die Belgiese maatskappy CMB.Tech geneem.
CMB.Tech het reeds ’n aanvanklike belegging van meer as N$300 miljoen in die Erongostreek gemaak, om groenwaterstof-hulpbronne saam met plaaslike Namibiese vennote te ontwikkel. Geingob is ook die nuutste waterstofaangedrewe bote, vragmotors en swaardiensvoertuie gewys.
“Vir werkskepping is deel van ons strategie om Namibië te vestig as ’n logistieke en groen waterstof-spilpunt en sentrum van uitnemendheid,” het hy volgens sy kantoor daar gesê. Die president het ook die geleentheid in België gebruik om Antwerpen se historiese wêrelddiamantsentrum te besoek.
Die diamantbedryf is reeds sedert die 15de eeu in dié stad gevestig waar meer as 80% van vandag se ongeslypte diamante ter waarde van meer as 30 miljard euro per jaar verhandel word. Ongeslypte diamante is die tweede mees uitgevoerde produk vanaf Namibië na België, ter waarde van meer as US$106 miljoen in 2020. Geslypte diamante ter waarde van US$5,4 miljoen is ook in dieselfde periode uitgevoer.
In sy boodskap aan beleggers in die diamantsektor het Geingob gesê hy is trots op die vlak van aansien wat Namibiese diamante in Antwerpen, ’n wêreldklas-diamantsentrum, geniet.
Hy het beleggers egter daaraan herinner dat die Namibiese regering sterk in ’n wen-wen-vennootskap met die bedryf glo met ’n sterk klem op waardetoevoeging en werkskepping. Hy het gesê Namibië is ’n vreedsame land met ’n sterk bestuurstruktuur, gebaseer op die Grondwet en die oppergesag van die reg.
Daarom is Namibië ’n veilige bestemming vir beleggers, gewaarborg deur ’n wêreldklas wetlike raamwerk, het hy die beleggers verseker. Geingob het Vrydag en Saterdag aan die sesde beraad van die Afrika-unie en Europese Unie deelgeneem, waar hy onder meer ook met staatshoofde van Malta, Nederland en die Europese Unie Kommissie vergader het. – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie