Geingob se kabinetsplan bevraagteken
Geingob se kabinetsplan bevraagteken

Geingob se kabinetsplan bevraagteken

’n Politieke ontleder meen onnodige posisies is weer eens geskep.
Denver Kisting
Denver Kisting – Mnr. Graham Hopwood, ’n politieke ontleder, het gistermiddag gesê pres. Hage Geingob se verkleining van die kabinet is geen ernstige herstrukturering of eens ’n verkleining nie.

Hy sê: “Soos in die verlede word onnodige poste geskep. Hoekom het ons ’n minister van parlementêre aangeleenthede wat veronderstel is om met ’n ander onnodige been van die regering – die aangestelde streekgoewerneurs – te kommunikeer?”

Om alles te kroon, sê Geingob, bly die poste van direkteur-generaal van die nasionale beplanningskommissie (NPC) en die prokureur-generaal voortbestaan, sê Hopwood.

Volgens hom kan ’n beleggingsraad in die presidensie wel vrugte afwerp omdat dit ekonomiese ontwikkeling kan aanhelp.

Hopwood sê sommige samesmeltings maak sin.

“Die inlywing van die ministerie van veiligheid en sekuriteit by binnelandse sake en immigrasie neem ons na die situasie meer as 10 jaar terug en is ’n logiese besluit.”

Dieselfde geld vir die samesmelting van grondhervorming en landbou, sê Hopwood.

Hy sê die ministerie van armoedeverligting was ’n mislukking en moes by die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste gevoeg gewees het.

Volgens hom moes die ministerie van geslagsgelykheid ’n onafhanklike ministerie gebly het, omdat die kwessies wat dit moet bestry dringend is, soos geslagsgelykheid.

Hopwood meen die ministerie van inligting en kommunikasietegnologie behoort niks meer as ’n departement binne die eerste minister se kantoor te wees nie.

Geingob se aankondigings kan die koste van die regering deur ’n paar ministeriële en uitvoerende direkteur-salarisse verminder, maar sal min doen aan die probleem met die oorvol staatsdiens en die regering se salarisrekening, sê hy.

Hoewel pres. Geingob gistermiddag die aantal ministeries van 26 na 19 verminder het om kostes te bespaar, kon hy nie sê presies hoeveel die regering met dié plan sal spaar nie.

Geingob se topstruktuur bly onveranderd, het hy gesê.

Dit sluit die visepresident, die eerste minister en ’n vise-eersteminister in.

Die SME-ontwikkelingsrol van die huidige ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling ressorteer voortaan onder die minister in die presidensie, terwyl die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel voortbestaan.

Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie en dié van veiligheid en sekuriteit sal voortaan as een funksioneer, het Geingob aangekondig.

Die departement van veteranesake sluit voortaan by die ministerie van verdediging aan.

Water word voortaan by landbou en grondhervorming gevoeg, terwyl bosbou by die omgewing en toerisme gevoeg word.

Geingob sê hulle het daaroor kop gekrap, maar het uiteindelik besluit om steeds twee ministeries van onderwys te behou – onderwys, kuns en kultuur en hoër onderwys, tegnologie en vernuwing.

Die aanklaer-generaal-pos sal voortaan deur “’n professionele persoon” beklee word wat nie ’n LP is nie en administratiewe steun by die ministerie van justisie ontvang, sê Geingob. Dié persoon sal “na die kabinet genooi word”.

Kragtens ’n aanbeveling deur die hoëvlakpaneel oor die ekonomie (HLPE) sal die ministerie van staatsdiensondernemings uitgefaseer word sodra sy mandaat voltooi is.

Geingob kon nie sê tot wanneer dit sal duur nie.

Hy sê voorts hy beplan nie om aan sy aantal raadgewers te raak nie en kan selfs dié getal vermeerder.

Die funksies van geslagsgelykheid, armoedeverligting en maatskaplike welstand sal deur die visepresident se kantoor – in samewerking met ’n minister – hanteer word, het hy gesê.

Die ministeries van internasionale betrekkinge en samewerking, finansies, stedelike en landelike ontwikkeling, gesondheid en maatskaplike dienste, werke en vervoer, mynbou en energie, visserye en mariene hulpbronne bly ook onveranderd.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer