Geingob trots op elke Olimpiër
Namibië het gewis nog nie die stryd gewonne gegee in sy twee tienerjariges se dispuut met Wêreldatletiek oor deelname aan die 400 meter nie.
President Hage Geingob het volle vertroue dat Christine Mboma nóg 'n Olimpiese medalje benewens haar silwer in die 200 meter sou verower het, indien sy toegelaat sou word om in haar sterkste en gunsteling-item, die 400, mee te ding.
Geingob het Dinsdagaand 'n dinee by Staatshuis aangebied vir die land se 2020 Olimpiese span wat vandeesweek uit Tokio teruggekeer het.
Die atlete, spanbeamptes en hul families – insluitend Mboma en haar medefinalis in die vroue 200 meter, Beatrice Masilingi – is getrakteer by die dinee wat ook deur visepresident Nangolo Mbumba en talle ministers, adjunkministers en ander hoë lui bygewoon is.
Die staatshoof het gesê die Olimpiese span het Namibië met eer verteenwoordig. “Almal van julle was ware ambassadeurs – vanaf die openingseremonie tot in jul kompetisie met die heel bestes van ander lande,” het Geingob gesê.
Oor Mboma het hy melding gemaak van die vele hindernisse wat sy moes oorkom om tweede in dié onvergeetlike naelloopfinaal te kom, met net die Olimpiese kampioen Elaine Thompson-Herah voor haar.
“Ons weet as die resies 'n paar treë langer was, sou niemand by haar kon bybly nie. Sy moes noodgedwonge haar fokus op die 200 meter plaas; in haar gunsteling afstand sou haar kanse nog beter gewees het.”
Sy opmerking verwys na Wêreldatletiek se omstrede beslissing om Mboma en Masilingi se uitnodiging vir die 400 meter te onttrek op grond van die bevinding dat beide se natuurlike testosteroonvlak hoër as die neergelegde beperking vir atlete oor dié afstande (400 meter tot een myl) is.
Die minister van sport, jeug en nasionale diens, me. Agnes Tjongarero, het intussen aan ons susterkoerant Namibian Sun gesê haar ministerie het reeds met hul eweknie in Suid-Afrika gekonsulteer oor die moontlike pad vorentoe om Wêreldatletiek se standpunt uit te daag.
OLIMPIESE KOMITEE BETREK
“Ons wil nie die saak van nuuts af begin nie, maar eerder konsulteer en uitvind hoe ver hulle al gevorder het,” het Tjongarero gesê, met verwysing na die buurland se jarelange stryd om hul Olimpiese kampioen Caster Semenya se saak op verskeie vlakke te beveg.
“Ons wag ook op die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee; hulle is by Wêreldatletiek geaffilieer en enige besprekings behoort via hulle te geskied,” het die minister gesê.
Semenya het tevore haar voet neergesit en geweier om medikasie te gebruik om haar testosteroonvlak te verlaag tot op die toegelate vlak om in die 800 meter te mag meeding. Sy het haar jarelange hofstryd reeds tot by die Wêreldhof vir arbitrasie in Sport (CAS) gevoer, wat egter steeds in die guns van Wêreldatletiek bevind het.
– Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie