Geingob vat mynwerkers kort

Die mynwerkersvakbond se besoek aan Staatshuis het weens traagheid misluk.
Augetto Graig
Augetto Graig - Leiers van die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) het (Maandag) gisteroggend hul beplande vergadering met president Hage Geingob misgeloop.

Dít omdat hulle nie betyds daarvoor opgedaag het nie.

Tydens die vergadering, wat om 10:00 sou plaasvind, sou mnr. Cleophas Mutjavikua, die Erongostreek se omstrede goewerneur, bespreek word.

Op klankopnames wat in sosiale media versprei is, wil dit voorkom of die goewerneur die Chinese meerderheid-aandeelhouers van die Husab-uraanmyn raad gee oor hoe om die wekersvakbonde te ondermyn, en om van Namibiese werknemers ontslae te raak.

Mutjavikua het dié aantygings ontken.

Die visepresident, mnr. Nangolo Mbumba, die minister van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Erkki Nghimtina, die minister van myne en energie, mnr. Tom Alweendo, en ander topregeringsamptenare was gereed om die vakbond te ontvang.

Geingob wou eers by die media en toe by sy minister van presidensiële aangeleenthede, amb. Martin Andjaba, weet waar die MUN-leiers is.

Hy het selfs sy sekuriteitspersoneel gevra of hulle moontlik by die beheerpunt vertraag is. “Is hulle hier? Kom hulle?” wou hy weet.

Die president het gesê hy vermoed die unieleiers is deur ’n klagskrif van 112 Swakopmund Uranium-werkers afgeskrik, waarin versoek is dat dié vergadering afgestel moet word. Die klagskrif het die president se private kantoor Vrydag bereik.

Geingob het die uitvoerende direkteur van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, gevra om die klagskrif voor te lees.

Dit vereis dat die versoekte vergadering afgestel word en dat die MUN-leiers die mynwerkers by die Husab-uraanmyn besoek.

Swakop Uranium se tak van die vakbond sê leiers het nog nie hul mandaat ontvang nie, en moet koppe bymekaarsit word voor die president genader word.

“Ons het hulle nie gemagtig om met die staatshoof te vergader nie,” lui die klagskrif verder.

Geingob het die teenwoordiges verskoning gevra dat hul tyd gemors is en die vergadering verdaag.

Daarná het die media verteenwoordigers van die vakbond by Staatshuis se ontvangsarea aangetref.

Volgens mnr. Allen Kalumbu, die MUN se waarnemende president, is hulle bloot vertraag.

Geen rede vir die beweerde vertraging is verskaf nie.

Die MUN was ook nie van die klagskrif bewus nie, het Kalumbu gesê.

Mnr. Petrus Petrus, sekretaris van die MUN se westelike streek, het gesê: “Ons het meer as ’n duisend lede. Net sowat ’n honderd kan nie besluite namens al die werkers neem nie. Ons is die bedingingseenheid. Die klagskrif was nie van ons af nie,” het hy gesê.

Volgens Petrus moes die klagskrif van die myn se bestuur af kom, en is daarom direk aan die president se kantoor gestuur.

Alweendo het vakbondleiers vlugtig op Staatshuis se trappe voorgekeer.

“Julle vra vir ’n vergadering en kom 15 minute laat?” het hy gevra.

Daarmee het hy hom na sy voertuig begewe terwyl die MUN-leiers ook verdaag het.

Kalumbu het gesê die vakbond sal sy eie nuuskonferensie oor die verwikkeling belê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!