Geingob: Volksmoord het hard geslaan
Geingob: Volksmoord het hard geslaan

Geingob: Volksmoord het hard geslaan

Denver Kisting
Denver Kisting - Pres. Hage Geingob het nie gisteroggend doekies op Gibeon omgedraai nie.

Tydens die amptelike seremonie om wyle kapt. Hendrik Witbooi se Bybel en sweep terug te verwelkom, het hy gesê die volksmoord het ’n diep letsel op Namibiërs gelaat.

“Die gevolge van die marteling, gesamentlike straf en die uiteindelike rasseuitwissing van Namibiërs deur Duitse soldate word tot vandag toe ervaar.”

Geingob het gesê die énigste weg vorentoe is as die Duitse regering toegee dit was volksmoord en ’n gepaste verskoning uitreik.

“Dit is met dié werklikheid in gedagte wat ons vandag hier byeen is,” het Geingob gesê.

’n Gebeurtenis soos dié van gister roep weens die land se geskiedenis pynlike herinneringe op, maar die terugkeer van die artefakte bied die land die geleentheid om een van sy helde te vereer.

Hy het gewaarsku die geleentheid moenie uitgebuit word vir politieke gewin soos die toenemende neiging blyk te wees nie.

Die staatshoof het ook gevra dat persoonlike geskille opsy gesit word in belang van die seremonie.

Swartbooi klap sweep

Die leier van die Landless People’s Movement (LPM), mnr. Bernadus Swartbooi, het die afgelope week in ’n onderhoud met One Africa Television teen me. Katrina Hanse-Himarwa uitgevaar.

Hy braak onder meer gal omdat die minister van onderwys, kuns en kultuur “met haar kaal hande” aan die sweep geraak het.

Swartbooi spoeg voorts vuur daaroor dat die sweep oneerbiedig uit die land geneem is en met die terugkeer glo weer sonder respek hanteer is.

“Hoe kan ’n minister só met ’n rewolusionêr se sambok speel? Vuil hande het die Bybel en die sambok geneem. Vuil hande van vuil mense van ’n vuil regering fasiliteer die terugkeer daarvan. Daardie sambok sal hulle geestelik die hel uit bewind sambok,” sê hy in die video, wat wyd die rondes doen.

Hy het ook gesê Hanse-Himarwa praat veels té veel en moet leer om stil te bly.

Hanse-Himarwa, wat tans op aanklag van korrupsie in die hoërhof teregstaan, het ’n Namibiese afvaardiging na Duitsland gelei om die artefakte terug na Namibië te vergesel.

Republikein het gistermiddag die video via WhatsApp aan die minister gestuur en haar daaroor om kommentaar genader.

Haar bondige antwoord was 12 lag-emotikons.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!