Gekonkel by Steinhoff glo al lank aan die gang
Die Steinhoff-skandaal, wat in Suid-Afrika as die grootste tot nog toe in die sakesektor beskryf word, word nou ook in Duitsland as een van die grootste bestempel.
Dis omdat Bruno Steinhoff, ’n jare lange aandeelhouer en direkteur van die maatskappy wat sy naam dra, ’n Duitse burger is.
Steinhoff het boonop twee jaar gelede (einde 2015) sy hoofnotering in Frankfurt gekry en miljarde euro by beleggers gekry wat in sy skuldbriewe belê het.
’n Ondersoek deur Duitse joernaliste, wat vir die koerant Süddeutsche Zeitung werk, in samewerking met Moneyweb van Suid-Afrika, het begin met ’n reeks berigte oor hoe Markus Jooste, die voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, na bewering die boeke van die maatskappy probeer kook het.
Jooste word as ’n jare lange vertroueling van die Duitse miljardêr beskryf.
Interne e-posse toon vir die eerste keer hoe hy en senior uitvoerende bestuurslede van Steinhoff in Duitsland na bewering die boeke probeer manipuleer het.
Die e-posse laat Süddeutsche Zeitung en Moneyweb tot die gevolgtrekking kom dat die beweerde manipulering van die boeke selfs verder terug strek as wat Steinhoff in die openbaar erken.
In die somer van 2014, lank voor die eerste agterdog oor die maatskappy se boeke, het Jooste met ’n bestuurslid en ’n voormalige bestuurder van Duitsland per e-pos sekere transaksies bespreek.
Die e-posse toon na bewering hoe hy beplan om die verbruikerskredietboek van die JD-groep van Suid-Afrika (wat Steinhoff ’n paar jaar vantevore gekoop het) te verkoop en dat ’n maatskappy wat deur die voormalige bestuurslid beheer word dan omtrent R1,9 miljard se kommissie uit die transaksie kan verdien.
Die plan is dan dat die maatskappy ’n deel van die kommissie weer terugbetaal aan Steinhoff om sy wins te verhoog.
Dit blyk glo uit die e-posse die drie was toe reeds onder heelwat druk oor vorige transaksies van 2011, skryf Süddeutsche Zeitung.
Ten tyde van die gesprek het Steinhoff uit die bloute die naasgrootste meubelkleinhandelaar in die wêreld, naas Ikea, geword.
Süddeutsche Zeitung berig Bruno Steinhoff se onderneming – wat ontstaan het deur meubels in Oos-Duitsland te koop en dan teen lae pryse te verkoop – het in ’n ondeursigtige konglomeraat ontwikkel wat in Duitsland veral vir sy Poco-winkels bekend was.
Groot internasionale banke, insluitend Commerzbank, DZ-Bank en BayernLB, het die aggressiewe uitbreiding van die groep teen honderde miljoene euro gefinansier.
Steinhoff was verlede jaar nog die 24ste grootste maatskappy op die Frankfurtse aandelebeurs, was miljarde euro’s werd, die Europese sentrale bank het van sy skuldbriewe op sy boeke gehad en groot pensioenfondse het in sy aandele belê.
“As ’n mens nou daaroor dink en na sy state kyk, is dit merkwaardig dat twyfel nie vroeër oor die sakemodel ontstaan het nie,” skryf Süddeutsche Zeitung.
“Steinhoff is ’n moeilik ontsyferbare mengelmoes van kettingwinkels wat teen afslagpryse goedere verkoop in Afrika, Australië, Amerika en Europa.”
Sommige van die meer as 2 000 maatskappye wat aan die groep behoort het, kon selfs in die Panama Papers en Paradise Papers opgespoor word. Die berigte oor die sogenaamde Panama Papers en Paradise Papers is op uitgelekte inligting van regsfirmas in belastingtoevlugsoorde gegrond wat toon hoe rykes en maatskappye belasting probeer ontduik.
Nie Jooste of die twee mense wat saam met hom in die berigte genoem word, wou kommentaar lewer op die berigte van Moneyweb of die Süddeutsche Zeitung nie.
Ook Bruno Steinhoff wou nie daarop reageer nie.
Netwerk24 het al telkemaal sedert Desember by Jooste en sy prokureur kommentaar probeer kry en dit is elke keer van die hand gewys of geen reaksie is gekry nie. – Netwerk24/Bykomende bronne: Moneyweb, Süddeutsche Zeitung

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie