Geldgebrek strem landbouprojekte

Minister sê veral waterinfra­struktuur moet vanjaar ontwikkel word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Weens ekonomiese en finansiële uitdagings, is min vordering met verskeie landbou-ontwikkelingsprojekte gemaak.

Dit sluit die voltooiing van die Neckartaldam, die Uvungu-Vungu suiwelprojek en twee Groenskema-projekte in die Zambezistreek in.

Die minister van landbou, water en bosbou, mnr. John Mutorwa, het gister tydens sy jaarlikse ministeriële­ beleidsverklaring gesê die hoofredes hiervoor is 'n gebrek aan kontantvloei.

“Ten spyte van amptenare se harde werk, het die finansiële probleme ook die voltooiing van die nasionale landbou-tegnologiesentrum in Ongwe­diva, die Ondangwa sentrale veeartseny laboratoriumprojek, asook die abattoir en vleisverwerkingsaanleg op Rundu gestrem,” het hy gesê.

Mutorwa het gewaarsku dat 2017 nog meer uitdagend kan wees, veral omdat die land ná die droogte moet herstel.

“Verlede jaar was 'n besonder moeilike jaar vir die landbou-, water- en bosbousektor van die land. Ons het die mees verwoestende droogte in menseheugenis ervaar. Die gevolge daarvan is steeds sigbaar omdat die meeste van ons damme kommerwekkend leeg is.

“Dit is belangrik dat beplande programme wat verband hou met droogtehulp, die ontwikkeling van water­bronne en watertoevoer moet voortgaan, sover die beskikbare geld dit toelaat. Daar is nie 'n alternatief nie,” het Mutorwa gesê.

Hy het gesê veral die Neckartaldam, wat na verwagting vanjaar voltooi sal word, is belangrik vir Namibië se vooruitgang.

“Dit is die eerste dam wat ná Onafhanklikwording voltooi is. Al die ander damme en water-infrastruktuur is voor die tyd voltooi, toe Namibië se bevolking nog heelwat kleiner was.

“Dit het tyd geword dat ons ernstig aandag moet gee aan die ontwikkeling van water-infrastruktuur. Die kus het ook 'n ernstige tekort aan water en ons sal seewater moet gebruik, hoewel dit duur sal wees.”

Mutorwa het verder 'n beroep op die SADC-sekretariaat gedoen om akkerbouers in die streek te steun in hul bekamping van die herfs-kommando­wurmplaag.

Dié wurm het ook na Namibië versprei en saai verwoesting onder gewasse in die noordelike kommunale gebied. Dit het intussen ook na die Mieliedriehoek versprei.

“Asof die droogte nie verwoestend genoeg was nie, moet die streek se akkerbouers nou dié nuwe uitdaging oorkom. Plaaslike regeringsamptenare bied reeds steun aan kommunale akkerbouers deur middel van 'n spuitprogram. In ander gebiede het boere reeds self gekoördineerde aksie geneem om die plaag te bestry.

“Ek wil 'n beroep op die SADC-sekretariaat doen om akkerbouers deur middel van raad en steun by te staan,” het Mutorwa gesê.

Hy het amptenare gevra om 2017 'n jaar van hertoewyding te maak, in ooreenstemming met wat president Hage Geingob in sy nuwejaars­toespraak gesê het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!