Geldknyp dwing Griekwas, Boland om poste te sny
Geldknyp dwing Griekwas, Boland om poste te sny

Geldknyp dwing Griekwas, Boland om poste te sny

Rugby
Brenden Nel - Suid-Afrikaanse rugbyunies is in 'n geldelike knyp met hul inkomste wat seisoen ná seisoen krimp.

Verskeie unies het nie Kersbonusse aan hul personeel betaal nie, geen salarisverhogings word deur sommige vir 2020 in die vooruitsig gestel nie en twee, die Boland en Griekwas, is luidens Rapport se inligting met afleggings besig.

Die Westelike Provinsie onderhandel met enkele personeellede oor hul toekoms. Die Blou Bulle Rugbyunie het vroeër vanjaar 'n herstruktureringsproses afgehandel, wat tot twee vrywillige en een verpligte aflegging gelei het.

Die Haaie het besluit om die afdeling wat drank aan die unie verskaf, uit te kontrakteer. Dit het tot ses afleggings gelei.

Die geldelike verknorsing waarin verskeie unies hulle bevind, het selfs meegebring dat SA Rugby se begroting in Desember net vir drie maande goedgekeur is.

Veral die kleiner unies is onder groot geldelike druk en is nie tevrede met die toedeling wat hulle van SA Rugby kry nie.

Volgens Piet Heymans, uitvoerende hoof van die werknemersvakbond Sport Employees Unite (SEU), is die huidige finansiële situasie uiters kommerwekkend.

“Dit is duidelik dat daar indringend na die finansiële volhoubaarheid van die rugbystelsel gekyk moet word en dat daar baie duidelike prosesse en deursigtigheid moet wees oor hoe rugbyunies bestuur word,” het Heymans aan Rapport gesê.

“Die ander aspek wat aandag moet kry, is hoeveel beroepspanne Suid-Afrika regtig kan bekostig.

“Is dit nie tyd om te kyk of die kleiner unies se rolle dalk verander het nie en dat daar meer op ontwikkeling en gemeenskapsrugby gefokus moet word, eerder as om in 'n professionele omgewing mee te ding wat geweldig baie hulpbronne verg om kompetisies te wen?

“Die huidige kompetisiestrukture is nie werklik meer relevant nie en moet dringend hersien word. 'n Goeie voorbeeld is dat daar by sekere klubwedstryde duisende mense teenwoordig is, terwyl daar by 'n provinsiale wedstryd skaars 500 toeskouers is.

“Dit bewys duidelik dat die fokus verskuif het. Daarom behoort die besluitnemers in SA Rugby kennis te neem hiervan en moet hulle werklik gaan kyk wat die behoefte van die rugbyondersteuners is en hoe nuwe neigings aangewend kan word tot voordeel van almal wat by rugby betrokke is.”

Volgens Heymans kan beter korporatiewe bestuur baie help om rugby volhoubaar te maak.

“Dit is altyd hartseer dat werknemers die prys betaal vir die besluite wat deur die besluitnemers geneem word. Die korporatiewe bestuur van rugbyunies is ook iets waarna gekyk moet word.”



AFLEGGINGS

Griekwas se president, Jannie Louw, het aan Rapport bevestig dat hul afleggingsproses amper voltooi is, met net een pos wat nog uitgeklaar moet word.

Louw het per WhatsApp laat weet die volgende poste is geskrap:

• Die poste van die uitvoerende hoofde kommersieel en nie-kommersieel. Die twee poste word saamgevoeg en Arni van Rooyen is as uitvoerende groephoof aangestel. Riaan Vorster het 'n skeidingspakket aanvaar;

• Albei die ontwikkelings­beampte-poste. Alvero Baartman en Jaco Bezuidenhout het skeidingspakkette aanvaar;

• Die pos van ontvangsdame. Natasha du Plooy het 'n skeidingspakket aanvaar;

• Die pos van finansiële beampte is nog in dispuut weens Gerrie Cloete wat tans op siekverlof is. Onderhandelinge word op 13 Januarie hervat;

• Daan Slabbert tree einde 2020 af en dan sal die pos van stadionbestuurder ook verval.

Louw het verduidelik dit is nie net die geldknyp wat hulle gedwing het om te herstruktureer nie, maar rugby wat geweldig baie verander het.

“Daar is twee redes hoekom ons herstruktureer. Die een is lewensvatbaarheid en die ander is om 'n struktuur te hê om jou strategie te ondersteun.

“Die opvatting dat die besluit bloot 'n finansiële een is, is verkeerd. Besighede moet voortdurend aanpas,” sê Louw.

“Rugby se landskap het baie verander en dit het 'n internasionale besigheid geword. Ons lewe nie in daardie beskermende omgewing van die verlede nie. As jy jou nie posisioneer om die besigheidsomgewing internasionaal te hanteer nie, is jy in die moeilikheid.”– Netwerk24/Rapport

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!