Geldnood kniehalter regbank
Geldnood kniehalter regbank

Geldnood kniehalter regbank

Die voortslepende ekonomiese krisis in Namibië dreig om tydige geregtigheid in die wiele te ry.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die al groter wordende geldnood in die land lê sommige funksies van die regbank lam.

Gevolglik kon streekhowe verlede jaar net 20% van sake op hul rol afhandel.

Hoewel dit ’n verbetering op die vorige jaar se 6% is, is dit steeds ver onder die regbank se doelwit van 62%.

Landdroshowe, daarenteen, het 52% van hul strafsake opgelos vergeleke met 21% die vorige jaar.

Verlede jaar se prestasie het egter die mikpunt van 62% met 10 persentasiepunte misgeloop.

Hoofregter Peter Shivute sê die publiek verwag ’n regstelsel wat geregtigheid spoedig en regverdig lewer.

Hoewel hulle hul bes doen om regverdigheid te verseker, kan hulle nie alleen verantwoordelikheid aanvaar vir tydigheid nie, “omdat dit ’n funksie is van die beskikbaarstelling van hulpbronne”, het hy gisteroggend tydens die amptelike opening van die regsjaar gesê.

Shivute sê die ander twee staatsbene, die uitvoerende gesag en die wetmakende liggame, is verantwoordelik vir die toekenning van hulpbronne.

“Dit is ’n werklikheid wat die publiek, wat vertragings met die afhandeling van sake direk voor die deur van die regbank plaas, dikwels verkeerd verstaan,” het hy gesê.

Die hoofregter het gesê hoewel N$368 444 000 aanvanklik verlede jaar vir die regbank geoormerk is, is die bedrag tydens die halfjaarbegroting met N$8 253 000 gesny.

Hulle moes toe met N$360 191 000 sien en kom klaar.

Shivute sê 78% van hul begroting word aan salarisse bestee.

Dit beteken ongeveer N$280 948 980 van die hersiene begrotingsbedrag moet na personeelkostes omsien.

Boonop word die regbank deur erge personeeltekorte in die gesig gestaar.

Ofskoon 930 poste goedgekeur is, word net 718 van dié vakatures tans beklee.

“Ons moet 212 vakatures vul as ons ons bedrywighede optimaal wil voortsit,” sê Shivute.

Onder meer moet 16 poste vir hoërhofregters gevul word, terwyl 12 vakatures vir landdroste bestaan.

Dié poste sal egter nie gevul word nie “weens ’n tekort aan fondse”, het die hoofregter gister in die hooggeregshof gesê.

Hy sê selfs voor die halfjaarbegrotingsbesnoeiing het die regbank reeds gesukkel met “baie belangrike uitgawes wat die uitvoering van die sleutelmandaat moontlik kan ondermyn”.

Dit sluit in die betaling van getuies waarvoor N$4 miljoen benodig word, en reis- en onderhoudstoelae vir sekere hofsittings.

Al dié uitgawes word uit die bedryfsbegroting befonds.

“Dit beteken nie net is nuwe verhore in gevaar nie, maar deels voltooide sake kan dalk nie voltooi word nie.”

Op sy beurt het pres. Hage Geingob gister gesê die regering sal verseker die regbank bedryf hul sake in ’n omgewing waarin hulle nie aan onvanpaste openbare en institusionele druk blootgestel word nie.

Hoewel die regbank nie onnodig en oorbodig gevoelig moet wees oor geregverdigde kommentaar en kritiek op hul beslissings nie, is dit gevaarlik en onregverdig dat mense wie se daaglikse werk dit is om geregtigheid te laat geskied aan onbillike bespotting en beledigings onderwerp word, het die staatshoof gewaarsku.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer