Geldsake knou veeartseny
Geldsake knou veeartseny

Geldsake knou veeartseny

Veeartsenykantore op onderskeie dorpe sit glo dikwels sonder sekere noodsaaklike dienste.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Veeprodusente sê kragonderbrekings en ander tekorte kniehalter dienste by staatsveeartsenykantore, maar hou owerhede vol dié kantore se munisipale rekeninge word wél betaal.

Mnr. Percy Misika, uitvoerende direkteur van landbou, water en bosbou, het gereageer op klagtes wat Republikein ontvang het oor veeartsenykantore op verskeie dorpe in die land wat glo dikwels sonder elektrisiteit, sekere medisynevoorraad, telefoonlyne en drukkerspapier sit.

Misika het erken die ministerie ervaar uitdagings met hul begroting en sê alle veeartsenykantore word hierdeur geraak. Hy sê ook as gevolg hiervan kon onder meer die gereelde inentingsveldtog teen bek-en-klouseer en longsiekte (CBPP) nog nie van stapel gestuur word nie.

Volgens Misika betaal die ministerie wel vir munisipale dienste en as die dienste afgesny word, is dit waarskynlik te wyte aan beamptes se swak samewerking.

Misika het benadruk hoewel betalings soms láát kan gemaak kan word, is wanbetaling nie ‘n kwessie nie.

Veeprodusente in die Mariental-, Otavi-, Outjo-, Otjiwarongo- en Gobabis-omgewing sê die situasie is so erg dat hulle al hul eie kragopwekkers aan dié kantore moes leen sodat noodsaaklike dienste soos die registrasie van vee en die uitreiking van permitte verrig kan word.

BEKOMMERD

Outjo se staatsveeartsenykantoor se elektrisiteit is “kronies aan en af”, sê mnr. Piet Gouws, voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO).

“Ons is diep bekommerd oor die begroting wat aan die direktoraat van veeartsenydienste toegeken word. Dit is die enigste gemagtigde liggaam wat ons land se nasionale dieregesondheidstatus moet handhaaf,” sê Gouws.

“Dit is noodsaaklik dat die begrotingstekort aangespreek word, veral wat die instandhouding van byvoorbeeld veterinêre heinings betref,” sê Gouws.

Volgens hom kan veeboere self danksy die Vleisraad aanlyn vir NamLits registreer of permitte uitneem, maar daarvoor is internettoegang nodig – iets waarmee baie veeprodusente op hul plase sukkel.

‘n Voormalige staatsveearts, wat annoniem wou bly, stem saam met Gouws dat internetprobleme veeboere van staatsveeartsenykantore afhanklik maak.

“Ek is bekommerd dat die probleme ernstige uitdagings vir Namibië se naspeurbaarheid- en permitstelsels kan inhou.

“Veeprodusente moet permitte kan uitneem wanneer hulle dit benodig, anders bestaan die gevaar dat hulle diere sonder permitte kan probeer skuif,” sê hy.

VEEPRODUSENTE SÊ

‘n Veeprodusent op Mariental sê die veeartsenykantoor kan dikwels nie die nodige dienste aan hom lewer nie en hy is al na ‘n kleiner tak op Maltahöhe verwys.

Onlangs was daar nie drukkerspapier nie, ander kere was hul elektrisiteit af, sê hy.

Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van Otjiwarongo se boerevereniging, wat ook op die uitvoerende raad van die Namibië Landbou-unie dien, sê hy moes sowat vier jaar gelede sy eie kragopwekker aan Otjiwarongo se staatsveeartsenykantore leen.

Hy het veeboere uit die Otjiwarongo-omgewing se bewerings bevestig, waarvolgens staatsveeartsenykantore by tye sonder elektrisiteit, drukkerspapier en telefone sit en bygevoeg dit kom steeds voor.

Misika sê hy dra nie kennis daarvan dat boere op Otjiwarongo staatsveeartsenykantore op dié manier steun nie. Hy sê hy is bewus van een geval op Mariental waar ‘n staatsveearts die ministerie se munisipale rekening uit sy eie sak help betaal het.

Mnr. Piet Stoman sê Otavi se kantore sit ook by tye sonder elektrisiteit en beweer dié kantoor moes al elektrisiteit van ‘n nabygeleë huis “leen” sodat hul rekenaar kon werk.

Terselfdertyd sê mnr. Kalli von Kühne van Witvlei-boerevereniging en streeksverteenwoordiger van die nege boereverenigings in die Gobabis-omgewing, hulle steun die Gobabis-kantore by tye met kragopwekkers en brandstof.

“Tog kon ons tot dusver die noodsaaklikste sake verrig en is daar ‘n goeie verstandhouding tussen veeprodusente en dié veeartsenykantoor,” sê hy.

Mnr. Kobus van der Merwe, streekverteenwoordiger van boereverenigings by Karasburg, sê hoewel ‘n staatsamptenaar glo ook vantevore sy eie kragopwekker gebruik het om elektrisiteit aan dié kantore te verskaf, gaan dit die afgelope maande goed op Karasburg.

Op klagtes dat die staat se dieregesondheidspersoneel se vervoer na plase betaal moet word, het Misika verduidelik veeboere is vir dié koste verantwoordelik.

“Wanneer die staat se dieregesondheidspersoneel kommersiële plase moet besoek vir byvoorbeeld inspeksies of ander doeleindes, geld ‘n beleid dat die veeprodusent ‘n bedrag per kilometer aan die staatstesourie betaal.

“Die personeel gebruik hul eie voertuie vir die reise en eis dit teen maandeinde weer van die tesourie af terug.

“Die geld word nie direk aan die dieregesondheidspersoneel betaal nie,” het Misika gesê.

Misika sê landbouleiers weet sy deur en die van die ministerie staan oop wanneer hulle probleme ervaar.

UITDAGINGS EN BEGROTING

In die landboubegrotingspos wat op 30 April vanjaar deur die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, aan die parlement voorgelê is, erken die minister begrotingstekorte tydens die 2018-’19-boekjaar het tot sekere uitdagings gelei.

Die uitdagings raak die hele ministerie en nie slegs die direktoraat van veeartsenydienste nie.

!Naruseb het gesê dit behels dat sekere munisipale dienste nie betaal is nie, sekere vakante poste nie gevul is nie en ‘n tekort aan kantoorbenodigdhede ontstaan het.

“Ook het dit tot probleme met die aanskaffing van die nodige materiaal en voorraad vir noodgevalle soos byvoorbeeld vir beheermaatreëls van bek-en-klouseer asook die uitbreking van die herfskommandowurm gelei,” het hy gesê en bygevoeg die begroting vir inligting- en kommunikasietegnologie asook hul motorvloot was onvoldoende.

Volgens !Naruseb het toewysings aan sy ministerie gedaal van ‘n gemiddeld van 4,6% oor die afgelope 11 jaar tot die huidige 2,9% van die nasionale begroting.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!