Geldtekort kan hoopvolle jeug pootjie
Geldtekort kan hoopvolle jeug pootjie

Geldtekort kan hoopvolle jeug pootjie

Afrika Jeugspele
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Op 'n vergadering by die Namibiese Nasionale Olimpiese Komitee (NNOK) is verskeie sportkodes via hul verteenwoordigers ingelig dat die NNOK nie geld het om sy atlete na Algiers vir die Afrika Jeugspele te stuur nie.

“Ons moes gisteraand (Dinsdag) op 'n vergadering van die NNOK hoor dat daar vir 'n hele paar kodes nie geld is om die Jeugspele by te woon nie. Weens begrotingsbesnoeiing benodig die NNOK nog N$400 000 om al sy atlete te stuur,” lees 'n SMS aan die koerant.

Die NNOK het op 23 April sy vereiste kwalifiserende standaarde vir die Afrika Jeugspele bekend gemaak, wat vanaf 16-26 Julie in Algiers aangebied word. Atlete moes voor 10 Junie aan goedgekeurde streek-, kontinentale of internasionale kompetisies deelneem en onder die beste vyf in Afrika gereken word om deur die IFS gekies te word. Die Vereniging van Nasionale Olimpiese Komitees vir Afrika sou nie inskrywings later as 10 Junie aanvaar nie.

Vyf-en-dertig sportkodes is deur die NNOK geoormerk om aan die Afrika Jeugspele deel te neem, waar presteerders kan kwalifiseeer om later vanjaar by die Olimpiese Jeugspele in Argentinië te kompeteer.

Kodes wat wel “veilig” is, is atletiek, strandvlugbal, hokkie, karate, roei, sewesrugby en driekamp. Indien die NNOK nie binne die volgende dae geld kry nie, kan atlete van die voorgenome reis na Algiers vergeet.

Maar daar is tog nege hoopvolles wat feitlik van 'n plek verseker is.

“Nege atlete wat deel van ons Olimpiese Jeugspele-beurs is, het reeds hul plekke bespreek. Dié atlete sal egter aan die kwalifiserende standaarde moet voldoen wat die Internasionale Federasies daargestel het. Hulle is Adrian Grobler (boogskiet), Sadé de Sousa, Ivan Geldenhuys (atletiek), Alexander Miller (fietsry), Nadine Flemming (ruiterkuns), Lance Potgieter (gimnastiek), Heleni Stergiadis, Ronan Wanternaar (swem) en Hafeni Asino (stoei),” lees die NNOK se plasing op Facebook.

Op 'n nuuskonferensie het mnr. Abner Xoagub, president van die NNOK, gesê vanjaar gaan deelname nie oor kwotas nie, maar oor atlete wat moet kwalifiseer.

“Dit gaan 'n moeilike kompetisie wees. Ons fokus is op kwalifikasie. Slegs atlete wat die vereiste standaarde bereik, sal oorweeg word. Namibië se deelname aan die Olimpiese Jeugspele sal deur kwalifiserende byeenkomste bepaal word wat deur die onderskeie wêreldfederasies goedgekeur is,” het die president gesê.

Namibiese atlete sal in Algerië deel wees van die sowat 4 000 atlete van oral in Afrika, terwyl die Olimpiese Jeugspele in Buenos Aires vanaf 6 tot 18 Oktober nagenoeg 3 900 atlete van 209 nasies sal lok.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer