Geleenthede wink vir beesuitvoere
Geleenthede wink vir beesuitvoere

Geleenthede wink vir beesuitvoere

Die sakeplan vir 'n private beesuitvoerabattoir is bykans gefinaliseer en die forum sal binne weke na beleggers uitreik.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Die Forum vir die Beesvleis­waardeketting (BVCF) is op die punt om hul planne vir 'n winsgewende uitvoerabattoir 'n werklikheid te maak.

Hulle sal reeds in die komende weke na beleggers uitreik, terwyl gesprekke met oorsese vleisverwerkers reeds op belowende geleenthede dui.

“Ons is op die punt om die sakeplan te finaliseer. Dit behoort binne die ­volgende weke te gebeur, waarna daar na beleggers uitgereik sal word.

“Ons eerste fokus is om dit 'n maat­skappy te maak wat deur die boere self beheer word. Afhangende van hoeveel boere betrokke gaan wees, is ons eerste mikpunt om 'n belegging van N$100 miljoen uit die boerderygemeenskap te verhaal,” het die BVCF se voorsitter, mnr. Mecki Schneider, aan Republikein gesê.

“Ons sal dus binne die volgende weke na boere vir ondersteuning uitreik.”

Schneider sê dit is 'n kapitaalprojek van sowat N$250 miljoen en dat hulle ook 'n soortgelyke bedrag benodig om lopende kostes binne die eerste twee jaar te dek. Nadat oorsese uitvoermarkte vasgemaak is, sal die onderneming baie meer winsgewend raak.

“Die forum is besig om na markte te soek en was reeds in verbinding met oorsese vleisverwerkers. Dit lyk baie belowend, maar dit is nie maklik om by hulle in te kom nie. Ons sal goed voorbereid moet wees.

“Daar bestaan egter 'n groot mark wêreldwyd vir natuurlik geproduseerde vleis en ons wil dit benut.

“Ons is op die punt om dit 'n werklikheid te maak. Sake lyk belowend.”

“Ek wil beklemtoon ons sal steeds alle opsies vir samewerking oorweeg, veral as dit minder koste-intensief is. As dit nie realiseer nie, moet ons voetwerk egter reg wees om te belê in nuwe infrastruktuur en 'n moderne ­fasiliteit om vleis uit te voer,” het Schneider gesê.



HUISWERK gEDOEN

Hy het bygevoeg die forum het reeds dieptenavorsing gedoen, insluitend oor die geskikte uitleg van so 'n bedryf.

Hulle het ook reeds 'n visfabriek op Walvisbaai genader, wat hul onderneming volgens sekere kernbeginsels bestuur, wat samewerking moontlik sal maak.

“Ons het na tien of 11 moontlike persele tussen Kombat en Windhoek gekyk en eindelik op twee tussen Windhoek en Okahandja gefokus.

“Vir so 'n perseel speel talle faktore 'n rol. Water, vervoer en ­elektrisiteit is belangrik. Die fasiliteit moet op die hoofroete vanaf die Noorde na Windhoek geleë wees. As ons goeie ­personeel wil lok, behoort dit naby die hoofstad te wees.”

Die huidige fasiliteite is oud met ou infrastruktuur – dit kos geld in terme van onderhoud. Die plan is om 'n vaartbelynde, vinnige en goed ­georganiseerde privaat slagbedryf vir die uitvoermark te bewerkstellig.

Schneider sê hulle het ook reeds na die besigheidstruktuur gekyk en besluit dit sal 'n maatskappy met aandeelhouers wees.



BUITELANDSE VALUTA

“Op die oomblik bestaan daar leemtes in die slagbedryf en ons kan beter doen. 'n Groep produsente kyk tans hierna en ons hoop dat ons die slagmark kan uitbou om spesifiek ons uitvoermark te kan behou. Dis van kardinale belang.

“Ek sê gereeld al die bedrywe in Suider-­Afrika waarmee dit goed gaan, het een ding in gemeen – dit verdien geld in Amerikaanse dollar.

“As ons ons vleis in Amerikaanse dollar of euro kan verkoop, sal dit baie meer winsgewend wees en daarom mag ons nie daardie mark verloor nie.

“Ons is bekommerd dat ons slagmark agteruitgaan. Beesprodusente voel ons kry nie ons regmatige prys nie, weens verskeie redes.”

Schneider sê 'n studie deur die produsente, wat verlede jaar afgesluit is, het die onvolhoubaarheid van die slagmark vir boere uitgewys en tot die ­stigting van die forum gelei. Die forum het tans 250 lede.

Wat gaan hulle anders doen om seker te maak die waardeketting is volhoubaar?

“Punt nommer een – hierdie is 'n private inisiatief. Enige private inisia­tief is meer winsgedrewe. Ons wil ­natuurlik die hoogste prys vir die boere betaal – dit is ons hooffokus.

“Die maatskappy moet egter steeds funksioneer, maar ek dink ons kan dit báie meer winsgewend doen.”

Schneider sê die speenkalfbedryf bly van kardinale belang.

“Die slagbedryf se grootste kompetisie is die speenkalfbedryf, maar kompe­tisie is goed, want dit maak enige waardeketting meer doeltreffend.

“Dit sal egter sleg vir Namibië wees as die slagbedryf faal, want dan is ons alleen aangewese op speenkalwers. Dit beteken ons is afhanklik van Suid-Afrikaanse voerkrale se pryse, wat in rand betaal,” sê hy. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!