Geliefde Godsman sterf ná skietongeluk
Francoise Steynberg
Terwyl ’n geliefde oudpredikant van die NG Kerk, dr. Jan Woest, vir sy lewe ná ’n skietongeluk geveg het, het Namibiërs verenig in gebed en na die Namibiese Bloedoortappingsdiens gestroom om bloed te skenk.
Woest het gisteroggend in die intensiewesorgeenheid van die Rooms-Katolieke hospitaal in die hoofstad gesterf nadat hy Maandag met ’n skietwond daarheen gehaas is.
Hy sou Vrydag (1 Mei) 62 jaar oud geword het.
“Susters en broers, Jan het die nag oorleef. Maar die prognose is nie goed nie. Hoewel die chirurgie geslaagd was, reageer hy nie op mediese behandeling nie. Met mediese steun is sy bloeddruk baie laag en die nierfunksie ingeperk. Die skok op sy liggaam is besig om sy tol te eis. Ons hoop op ’n wonderwerk,” was die laaste boodskap wat sy vriende gisteroggend vroeg voor Woest dood ontvang het.
Intussen het vriende en verskeie Windhoekse sakelui Dinsdag en gister by die Namibiese Bloedoortappingsdiens bloed geskenk wat nou skaarser tydens die Covid-19-pandemie is.
“Ons wil graag almal bedank vir die meelewing in dié tyd. ’n Spesiale woord van dank aan die tientalle mense wat gaan bloed skenk het om vir Jan te ondersteun. Ons weet dat hy sou gesê het ‘dis hoe die kerk van die Here lyk’. Ons bid saam vir Nicolene, sy kinders en geliefdes,” was die NG Kerk van Namibië se aankondiging gister op hul Facebook-blad oor hul oudleraar se afsterwe.
Volgens Woest se vriend en algemene sekretaris van die NG Kerk in Namibië, ds. Thijs van der Merwe, het Woest se skietongeluk Maandag omstreeks 15:30 in die veld op sy plaas naby Dordabis plaasgevind.
Hy het glo sy 30.06-jaggeweer agter sy kussing in sy voertuig ingesit en ’n skoot het per ongeluk afgegaan. Die skoot is van agter deur Woest se boud en bekken en het by sy bobeen uitgekom.
“Hy het hulp ontbied en sy vrou, Nicoleen, en sy seun Nico het hom in die veld gekry. Nico, wat medies gekwalifiseer is, het vir hom ’n drup opgesit voor hy na die hospitaal gehaas is,” het Van der Merwe gesê.
Woest was twee keer in die teater om die hewige bloeding weens die swaar bloedverlies te stop, maar sy toestand het kritiek gebly.
Woest, wat op Keetmanshoop grootgeword het, het in Februarie verlede jaar as leraar afgetree, maar was volgens Van der Merwe steeds besig om “baie belangrike vryskutwerk” vir die sinode te doen.
Woest het sy doktorale graad in teologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en het in 1988 by sy eerste gemeente in Bothasig in die bediening getree.
Woest was vanaf 1993 tot 2004 leraar van die Leonardville-gemeente en daarna was hy vir 15 jaar by die sinode betrokke waar hy veral toegespits was op gemeenteontwikkeling en om die bediening te vernuwe.
“Hy het baie gedoen om teologie in Namibië te ontwikkel en het teologiese opleiding aan baie predikante en ouderlinge oraloor in die land gegee. Hy was ook die verteenwoordiger van die Namibiese Evangeliese Teologiese Seminarie (Nets),” het Van der Merwe gesê.
Hy beskryf sy vriend as gewild, geliefd, innemend, super-intelligent, maar baie nederig.
Woest word deur sy vrou en drie volwasse seuns, Pieter-Jan, Friedrich en Nico, en twee skoondogters, Wilmari en Anra, oorleef.
Volgens Van der Merwe sal Woest moontlik op sy plaas begrawe word, maar begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie