Geliefde ruimteman verhuis na sterre
Geliefde ruimteman verhuis na sterre

Geliefde ruimteman verhuis na sterre

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – “My ou maat is weg, my ou ander helfte is weg.”

Só het 'n verslae me. Kalfie van Zyl (62), vrou van die geliefde ruimteman en bekroonde wetenskaplike dr. Japie van Zyl (63), kort voor saktyd gister die tyding van sy dood gedeel.

In daardie stadium het ­Namibiese familie en vriende angstig gewag op nuus uit Pasadena, Kalifornië, waar medici teen ligdag “'n lewensfunksietoets sou doen en op die volgende stap besluit”.

Van Zyl het Maandag 'n ­massiewe hartaanval gehad nadat hy vroeg­oggend in die woonbuurt waar hulle woon, gaan draf het. Hy het sedertdien nooit sy bewussyn herwin nie.

Sy jonger broer, die mariene bioloog dr. Ben van Zyl, het kort voor dié nuus uit Swakopmund aan Republikein gesê dokters by die Huntington-hospitaal sou vroeg gisteroggend (­Kaliforniese tyd, laatmiddag in Namibië) 'n ­lewensfunksietoets doen.

Hulle sou op grond van die uitslag op die volgende stap besluit. Die tydver­skil tussen Namibië en Kalifornië is nege ure.

Van Zyl het in Maart verlede jaar ná 33 jaar van diens by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL), as direkteur van sonnestelselverkenning afgetree. Hy was tydens sy loopbaan by dié ruimte-administrasie by altesaam 20 suksesvolle ruimtesendings betrokke.

Die Nasa-medalje vir uitmuntende openbare diens is in Augustus verlede jaar aan Van Zyl by die Goddard-ruimtesentrum naby Washington D.C. ­toegeken. Dit plaas hom in dieselfde liga as die ruimtevaarders Neil Armstrong, Buzz Aldrin en Michael Collins wat ook met dié uitgelese medalje vir hul deelname aan die suksesvolle maanlanding 51 jaar gelede vereer is.

Ná sy aftrede het Van Zyl die maat­skappy, Hydrosat, gestig wat met satelliettegnologie opnames doen van die waterverbruik van gewasse vir landboukundige beplanningsdoeleindes en verbeterde voedselsekuriteit.

Hy het ook saam met ander weten­skaplikes die maatskappy, Fast Detect, gestig en was die laaste maande besig met die vervaardiging van 'n blitstoetsmasjien wat binne minute bepaal of 'n pasiënt Covid-19 het, asook wat sy of haar viruslading is.

'n Oudskoolmaat en jarelange ­vriendin van Van Zyl en sy vrou, die joer­nalis en landbouskrywer Marietjie van Staden, sê “oral in sy handel en wandel” het hy 'n diep indruk gemaak.

“Wat 'n briljante man! As kaalvoetseun van Kaokoland het die ruimte hom reeds gefassineer. Op skool op Outjo was hy die toonbeeld van ­ongelooflike talent – geniaal, sportief, ­musikaal en 'n sterk leier – alles in een,” het sy gesê.
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!