Geloof, groente en groei

Berenice Croza kweek voeding vir liggaam én siel.
Yochanaan Coetzee
Yochanaan Coetzee - Me. Berenice Croza huil toe Republikein wil weet wat haar droom vir die reusegroentetuin in haar agterplaas in Mondesa is.

“Ek wil dit uitbrei sodat ek na ’n plaas toe kan trek, sodat ons mense kan oplei om die grond te bewerk, groente te plant en ons land te voed,” sê sy.

“My droom is dat ons Namibië met blare en bome bedek en dat elke Namibiër toegang tot gesonde kos het.”

Dié enkelma van twee sê God het haar in haar tienerjare geroep en opdrag gegee om ’n tuin te begin.

Maar op die ouderdom van 16 was sy nie opgewonde daaroor om haar dae as groentekweker te verwyl nie.

Geloof is soos ’n saad

“Soos alle jongmense was my aandag nie daarop gefokus nie. Dit was eers later, toe ek sonder werk was, wat ek weer lus was om tuin te maak,” sê Croza.

Aanvanklik het sy met ’n klein stukkie grond in hul huis se agterplaas begin. Al wat sy gehad het, was haar hande, ’n paar saadjies, Google en haar geloof.

Soos sy meer ervaring, navorsing en kennis ingewin het, het sy waardering begin kry vir die verhouding tussen ’n skepper en dit wat geskep word.

Soos die tuin gevorder het, wou meer en meer mense daarby betrokke raak, maar baie is deur die stadige pas en onvoorspelbaarheid van die natuur afgeskrik.

“Baie mense verwag net om te ontvang en wou nie moeite insit nie,” sê Croza.

“Toe ploeg ek en ’n enkele assistent alleen voort, maar ek moes haar maar terug Noorde toe stuur, omdat ons nie kon bekostig om haar te hou nie.”

Croza moes bedank uit die bestuur van die Swakopmund Gemeenskapsgroentetuin, maar sy was toegewy daaraan om ’n sukses van haar maatskappy, Rapha Yerakoht Farming Services cc, te maak.

Groen seisoen

Deur middel van die internet het Croza tuinbou geleer en haar tuin ontwikkel in ’n klein, tuisgemaakte kweekhuis wat amper uit sy nate bars.

“Ek was by die kerk toe ’n vriendin die voorstel gemaak het dat ek Old Mutual nader om my te borg. Ná ek met hulle in verbinding was en ’n voorstel by hulle ingedien het, het hulle my met materiaal en bronne ondersteun,” sê Croza.

“Dit het soveel gehelp, en het ons in staat gestel om die tuin op ’n volhoubare manier te bedryf en geld te genereer.”

Mauriza Fredericks, bestuurder van kommunikasie en transformasie by Old Mutual, sê: “Berenice Croza is nie net ‘n groot inspirasie vir haar gemeenskap nie, maar vir enige persoon wat onderneem om ‘n besigheid met verantwoordelikheid en aanspreeklikheid te begin.

“Sy is ‘n raakvatter en het al die eienskappe van die tipe individu met wie Old Mutual ‘n pad wil stap.”

Danksy Old Mutual se hulp kon sy haar tuin uitbrei tot ’n totale grondvlak van 75 vierkante meter.

Croza oes tans meer as 20 kg spinasie en 30 bondels koljander per week, wat sy aan plaaslike restaurante en bemarkers verskaf.

“Ek mik nou om dié syfers teen Desember te verdubbel, want die wins sal dit moontlik maak om ons volgende stap aan te pak,” sê sy.

“n Boer in ons streek het gehoor van ons tuin en het vir ons grond beskikbaar gemaak om ons droomgroenteplaas op te begin. Ons wag net dat die tyd reg is en die bronne beskikbaar,” sê sy.

Intussen verskaf dit Croza plesier om te sien watter verskil haar tuin op ’n daaglikse basis in haar gemeenskap maak.

“Ons maak baie kombo-pakkies met verskillende groente wat ons aan families wat die voeding nodig het, verskaf.

“Ek kweek ook beet, waarvan die blare vreeslik gesond is, maar dit word gewoonlik weggegooi. Ek skenk elke week 20 kg van die blare aan die kliniek in die DRC-nedersetting en die terugvoering is wonderlik. Soos ons groei, wil ons hulle meer ondersteun met gesonde groente vir die pasiënte,” sê Croza.

Hoewel sy steeds alles met die hand doen, sê sy dit gee haar tyd om met haar plante te praat en oor hulle te bid.

“Plante groei nie alleen nie. Soos hulle die liggaam voed, versterk hulle ook ’n mens se siel en ek hoop ons kan in die toekoms meer mense aan tuinbou blootstel sodat hulle ook voeding vir hul liggaam en gees kan kry,” sê sy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!