Geloof, hoop en liefde
Die egpaar Johann en Daniel en hul seuntjie, Lucas, wil niks anders doen as om net te wéés nie. Hulle maak vandag hul harte en huis vir Denver Kisting oop.
Dis Saterdaglaatmiddag. Eie aan dié tyd van die dag is die lug soel, maar tekens van ’n naderende winter begin suutjies voelers uitsteek.
Die geesdrif in Johann (Pottie) Potgieter, ’n reuseman van by die twee meter, se stem tel plotseling spoed op.
Hy kyk my stip in die oë: “Dit gaan oor my gesin. Ek gaan my gesin ten koste van alles beskerm.”
Pottie, ’n 45-jarige boorling van Tsumeb, en sy lewensmaat, Daniel (Danny) Digashu (28), seun van Limpopo in Suid-Afrika, is al nege jaar ’n paartjie en vier jaar getroud.
Hul seuntjie, Lucas (10), of Shimi, soos hulle hom liefderik noem, is al so lank deel van hulle lewe as wat hulle saam is.
Vir Shimi is hulle Pappa en Dad.
In 2017 het die gesin, wat tot in daardie stadium in Suid-Afrika gewoon het, besluit om na klein Lukas se Pappa se geboorteland toe te trek.
Behalwe om ’n bydrae tot dié land se ekonomie te lewer, wou sy ouers hom ook in dié rustiger, vreedsamer en meer vredeliewe buurland grootmaak.
Die enigste uitdaging: Sy Pappa se vaderland omarm nie hul gesin nie.
Omdat Lucas wettiglik ook sy Namibiese Pappa se kind is, is Namibië oukei met hom.
Sy Pappa en sy Suid-Afrikaanse Dad se huwelik is egter ’n ander storie.
Omdat Namibië nie selfdegeslaghuwelike wettiglik erken nie, is die gevolge dat Danny eindelose probleme met burgerskap, werk en verblyf in die land ervaar.
Hierdie strewe om te wees, is besig om sy tol op verskeie vlakke te eis. Johann sê: “Ons moet raap en skraap finansieel net om teen die regsmonster te baklei.”
Boonop het die owerhede, in wie se hande hul lot is, nog in geen stadium belang gestel om te hoor wat hulle as gesin te sê het nie.
“Ons is nog nie één keer as gesin vir ’n onderhoud ingeroep nie.
“Op ’n hoë vlak het ons nog net sarkasme ervaar. Hierdie ding moet nou na ’n kant toe kom. Dis ’n frustrasie. Ons wil net ons regte beskerm hê.”
Oor dié regte het pres. Hage Geingob in Augustus op die vooraand van sy 77ste verjaardag bondig aan Republikein verklaar: “Die regte van seksuele minderhede word gewaarborg.”
En, is Pottie en Danny dit eens, hulle baklei nie teen die Namibiese regering nie.
Hul stryd gaan om hul reg om gewoon te wéés – nes enige ander straight gesin.
Pottie sê die afgelope naweek: “Ons operate op geloof, maar ons kan soveel meer doen.”
In hierdie stadium, terwyl ’n hofgeding oor hul toekoms voortsleep, mag Danny nie werk nie.
Daarnaas moet hy kort-kort by die ministerie van binnelandse sake en immigrasie gaan aanmeld vir die hernuwing van sy tussentydse verblyfpermit.
Pottie maak korte mette van homofobe se kritiek teen hul huwelik en hul gesin: “As al die ander mense dieselfde energie, tyd, liefde en omgee in hul gesinne sit as wat ons doen, sal die wêreld ’n baie beter plek wees. Gebruik jou tyd, energie en liefde vir jou eie gesin. My gesin doen niks aan jou nie.”
En dít is wat hulle hul blinkoogseuntjie daagliks leer: om nie te veroordeel nie en om liefdevol te wees en geloof te hê.
Die ondersteuning – selfs uit stereotipiese brandewynbrigade-oorde én die geledere van sommige werknemers van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie – oorweldig hulle, vertel die mans op hul kleinhoewe buite die hoofstad.
Lucas en ’n maatjie speel elders op die werf en kom loer net elke dan en wan in.
“Dit laat my baie goed oor die land en die toekoms voel,” vertel Pottie oor die ondersteuning.
Danny vertel hy sukkel altyd om “oor hierdie binnelandsesakekwessie wat ons in die gesig staar, te praat sonder om woedend te word”.
Vandag, sê hy, voel hy kalmer en kom die woorde makliker.
Hy sê Lucas was sedert sy geboorte deel van sy lewe en woon al langer as vier jaar permanent by hom en Johann.
Die spruit, hul enigste, is sedert Maart 2017 amptelik hul eie danksy ’n hoërhofbevel in Suid-Afrika.
Hulle het dieselfde jaar opgewonde besluit om die pad saam met hul hondekroos van vier Namibië toe aan te pak.
“Klein Lucas was baie opgewonde om uiteindelik sy Pappa se familie te ontmoet, oor wie hy staaltjies gehoor en van wie hy al geskenke ontvang het. Ons wou altyd gehad het Lucas moet albei kante van die familie leer ken. Dit is waarom ons so bly was om Namibië toe te kon trek sodat dít uiteindelik kon gebeur.”
Lucas se geboortemamma, Ramokone Digashu, is reeds in 2014 oorlede.
Kort nadat hy sy ouma aan sy Pappa se kant, ouma Engela Potgieter, leer ken het, is sy ongelukkig ook oorlede. Dié skielike slag was hard.
Dit was egter nog nie einde van die gefolterde familie se pyn nie – verlede Desember het Johann se ouer broer, Danie, in ’n motorfietsongeluk omgekom.
“Die sin wat ons maak uit al dié verliese is dat Lucas bevoorreg genoeg was om hulle te kon leer ken en hulle hom. En hulle kon die oorblywende gedeelte van die geleende tyd deurbring om ons seun te leer ken.”
Oor die swaard oor hul koppe sê Danny: “Aangesien ons huwelik nie in Namibië erken word nie, staar talle uitdagings ons in die gesig as ’n gesin en as ’n paartjie.
“Ondanks die uitdagings moet ek sê ek is baie gelukkig dat ons hofbevel om wettige voogdyskap vir Lucas sonder vooroordeel aanvaar word.”
Sý individuele ervaring is egter geen pretloop nie, sê Danny.
“Die probleem wat ek het, is dat ek nie hier mag woon of werk nie ondanks die feit dat my man en kind permanent hier woon. My werksvisum en die appèl daarteen is afgekeur.”
In dié stadium word hy as ’n besoeker geag en moet elke drie maande gaan aanmeld om te hoor of die Namibiese owerhede hom vir ’n nuwe tydperk van 12 weke sal toelaat om saam met sy gesin te wees.
“Jy kan jou net voorstel hoe dit voel om ’n besoeker te wees in jou eie tuiste vir so ’n lang tyd. Hoe onduidelik die toekoms lyk.”
Hy is uitgelewer, sê hy.
“Ek mag geen vorm van werk verrig nie, wat beteken ek is in so ’n limbo dat alles ’n gemors is. Die feit dat ek nie mag werk nie, beteken dat alles op Johann neerkom wat finansies en alles anders betref. Dit is frustrerend en baie swaar op ons as ’n gesin. Tot dusver moes Johann vir alles pa staan wat nie net onregverdig is nie, maar ook messed up.”
#IamLucas
Lila Swanepoel, vervaardiger en bekende plaaslike filmmaker, sê sy is baie trots op dié inisiatief.
“Ek is super trots en voel geëerd om deel te wees van dié geskiedkundige en simboliese beweging. Na my mening stel egte gelykheid liefde op die voorgrond en dit is nooit oukei vir die fundamentele regte van mense om oop vir bespreking te wees nie. Dit gaan van alle Namibiërs vereis om saam met Lucas en sy pa’s te staan om hierdie positiewe tyd van verandering met liefde, meelewing en sonder diskriminasie te omarm.”
Danny sê die doel van dié veldtog is om te probeer om fondse in te samel om minstens hul stygende regskostes te help dek.
Die egpaar maak ook saam musiek en het as Sounds of Liberation hul eerste musiekvideo (https://www.facebook.com/soundsofliberationnam/videos/512652179266304/) aan hul seun gewy.
Danny sê: “Ons wil ook net ons wees. Ek dink dis onnodig om deur al dié goed te gaan net sodat ons kan wees en dit maak my só, só hartseer dat al hierdie wette wat eeue gelede geskryf is so maklik die mensefaktor kan kanselleer.
“My lewe en my gesin blyk so aanstoot vir die samelewing te veroorsaak sonder dat ons enigiets gedoen het aan daardie einste samelewing behalwe om te bestaan.”
Vir hom is die oplossing voor die hand liggend: “Jy hoef ons nie te verstaan of te bevraagteken nie. Weet net dat ons ís en sal aanhou om te wees, want dis wie ons is. Ons hoef nie onsself te verduidelik of te regverdig nie – nes heteroseksuele gesinne nie hulleself aan die regering hoef te verduidelik nie.”
Hy kry spoed: “Plaas julleself as heteroseksuele paartjies in ons skoene met kinders betrokke en stel julle voor hoe dit sou gevoel het as die rolle omgedraai was en julle behandel is soos ons behandel word. Ek sien nie hoekom een huweliksertifikaat van Suid-Afrika hier kan erken word en ’n ander van presies dieselfde land nie erken word nie nét weens die feit dat dit tussen twee instemmende volwassenes van dieselde geslag is nie.”
Danny sê sy gesin se sending is eenvoudig.
“Ons probeer net ons lewens lei, ons kind grootmaak en hom die beste van die lewe gee. Die jaar is 2019; die lewe het so baie ontwikkel; die mensdom het ontwikkel; alles het en ontwikkel steeds. Ek weet nie hoekom die wette nie saam met die mense vir wie dit veronderstel is om te geld, kan ontwikkel nie.”
Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, het verlede jaar op ’n openbare forum vir pres. Geingob gelyk gegee: Die regering het niks teen gay mense nie.
Sý veral diskrimineer nie teen lede van die lesbiese, gay, biseksuele en transgender (LGBT-) gemeenskap nie, het sy toe aangevoer.
Trouens, een van haar persoonlike assistente identifiseer as gay en hulle het ’n baie noue band, het sy by die #BeFree-beraad van die eerste dame, me. Monica Geingos, onthul.
Sioka het gesê Namibiërs moet hulle op artikel 3 van die land se oppergesag, die Grondwet, beroep wanneer daar teen hulle gediskrimineer word.
Dié artikel huisves die Grondwet se handves vir menseregte en handel onder meer oor niediskriminasie en gelykheid.
Dit bepaal ook dat die waardigheid van álle mense onskendbaar is.
Sioka se opmerkings in November was drie maande nadat Geingob sy ondubbelsinnige waarborg gegee het.
Kragtens Namibië se gemenereg is anale seks met toestemming tussen volwasse mans egter ’n misdaad.
Voorts kan paartjies van dieselfde geslag ook nie tans wettig in die land trou nie.
Hoewel Geingos se veldtog tot dusver veral geslagsgegronde geweld help bekamp het, fokus die volgende been later vandeesmaand onder meer op die LGBT-gemeenskap.
Sioka was ’n gas by Geingos se geleentheid verlede jaar en het gereageer op ’n vraag van ’n maatskaplike werker in die gehoor.
Volgens dié man word hulle verbied om transvroue en gay mans in te sluit in aangeleenthede wat met geslagsgegronde geweld verband hou.
Sioka het volgehou sodanige klagtes het nie haar kantoor bereik nie.
Sy het die maatskaplike werker uitgenooi om sulke voorvalle onder haar aandag te bring.
In Julie verlede jaar het me. Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van onderwys, kuns en kultuur gesê LGBT-kinders is steeds die teiken van diskriminasie, ’n geboelie, teistering en intimidasie op skool.
Opvoeders, die skoolbestuur, admistrateurs en kenners het ’n sleutelverantwoordelikheid om die heteronormatiewe kultuur by skole voor stok te kry en om aktief ’n veilige en inklusiewe skoolomgewing te skep, het Steenkamp benadruk.
Volgens haar bied die nasionale leerplan ruimskoots geleenthede waartydens omvattende seksopvoeding ontgin kan word.
Sy sê dit het veral betrekking op aangeleenthede wat met geslag, seksualiteit en diversiteit verband hou.
Naas hul hondekroos Milo (10), Mufasa (5), Apache (ook 5) en die vierjarige Nala het die gesin drie perde wat hulle almal gered het: Amina wat tussen 16 en 17 jaar oud is en Duma, ’n hings van tussen drie en vier jaar oud.
Duma het hom onlangs by Amina en die drie maande oue Uzuri aangesluit, wat die gesin aangeneem het nadat Amina se vul doodgebore is en Uzuri se ma haar verwerp het.
Die skrophoenders Ginger en Jumpy handhaaf die klankbalans op dié rustige landgoed waar dié gesinnetjie niks anders wil doen as om te wees nie . . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie