Gelyke geleenthede vir studente met gestremdhede
Gelyke geleenthede vir studente met gestremdhede

Gelyke geleenthede vir studente met gestremdhede

Sonder onderrig sal mense met gestremdhede agterbly en nie ten volle deel van Namibië se sosioëkonomiese ruimte kan word nie, sê die adjunkminister.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Die bewilliging van N$2,5 miljoen deur die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) sal studente met gestremdhede in staat stel om hul ­tersiêre opleiding te voltooi en ­gevolglik ten volle deel van die ­arbeidsmark te word.

“Ons probeer die speelveld na die beste van ons vermoëns meer gelyk te maak om gelyke geleenthede te skep vir mense met gestremdhede, en om hulle toe te laat om deel te neem, mededingend in die arbeidsmark te wees en onafhanklik te kan leef,” het die adjunkminister van aangeleent­hede oor gestremdhede, me. Alexia ­Manombe-Ncube, tydens die bekendstelling van die ongeskiktheidstoelae-program (DGP) gesê.

Sy het na die wet van toepassing op die Nasionale Raad (NR) vir mense met gestremdhede verwys, waarin Namibië die beginsels vir ­deelname, integrasie en gelyke geleenthede aanvaar, soos gedefinieer deur die Verenigde Nasies (VN) se wêreld­program vir aksie, sowel as na die standaardreëls vir gelyke geleent­hede vir mense met gestremdhede.

“Die doel is om lewensgehalte te verbeter deur die waardigheid, ­welstand en bemagtiging van mense met ­gestremdhede te bevorder. Dit word gedoen deur hulle in staat te stel om gelykheid, volle deelname, ­onafhanklikheid en selfverwesen­liking te bereik,” het Manombe-­Ncube gesê.

Sy het gesê die regering sal voorkeur gee aan mense met gestremdhede deur struikelblokke te verwyder sodat hulle dieselfde lewensgehalte as hul landgenote kan geniet.

Sy het beklemtoon dié inisiatief van die NSFAF wil verseker mense met gestremdhede voltooi hul tersiêre opleiding en kan daarna ten volle deel van die arbeidsmark word.

“Sonder onderrig sal mense met ­gestremdhede agterbly en nie ten volle deel van die Namibiese sosioëkonomiese ruimte kan word nie.”

Die adjunkminister het gesê die versorging van mense met gestremdhede is in die verlede as hul familie­lede se verantwoordelik beskou.

Ingryping is deur welsynorgani­sasies gereël sonder dat die ­regering se verantwoordelikheid op dié gebied aangespreek word.

Dit sluit kwessies soos toegang tot gesondheidsorg, onderrig, werks­geleenthede, dienslewering, ontspanning en openbare vervoer in.

“Dié welsynmodel het veroorsaak dat mense met gestremdhede ontmagtig is en hulle van die hoofstroom-samelewing isoleer.”

In teenstelling hiermee het 'n mense­regtebenadering tot die ­ontwikkeling van mense met ­gestremdhede 'n veel beter kans om gelyke geleent­hede te skep, het die adjunkminister gesê.

“Dít behels die proses waardeur die verskeie stelsels van die samelewing en die omgewing beskikbaar en ­toeganklik vir alle inwoners gestel word.”

As deel van die proses van gelyke geleentheidskepping, sê Manombe-Ncube, moet mense met gestremdhede gehelp word om meer verantwoordelikhede te aanvaar.

“Hulle moet die ondersteuning wat hulle nodig het binne die normale strukture van die samelewing ontvang op gebiede soos onderrig, gesondheid, werksgeleenthede en maatskaplike dienste.”

Sy het gesê gelyke regte beteken alle individue se behoeftes is ewe belangrik en beleidsrigtings moet hiervolgens beplan en aanvaar word.

“Alle hulpbronne moet op so 'n manier ingespan word om te ­verseker elke individu het gelyke geleenthede tot deelname.”

Manombe-Ncube het beklemtoon studente met ondersteuningsbehoeftes moet hul onderrig op die mees gepaste manier ontvang, wat onder meer gebaretaal en braille insluit.

Die kantoor van die visepresident, die ministerie van aangeleenthede oor gestremdes en die NSFAF het in 2018 ooreengekom om 'n ongeskiktheidstoelae-program (DGP) op die been te bring.

Die program word deur die kantoor van die visepresident en die ­ministerie van aangeleenthede oor gestremdes gefinansier.

Die NSFAF is verantwoordelik vir die administrasie en dit word deur die ministerie van hoër onderwys, opleiding en vernuwing ondersteun.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!