Gelyke toegang vir beter landbouproduktiwiteit
Gelyke toegang vir beter landbouproduktiwiteit

Gelyke toegang vir beter landbouproduktiwiteit

Gelyke toegang tot grond, die uitbou van kapasiteit, geldelike steun en geleenthede vir waardetoevoeging is nodig vir alle lande om hul landboupotensiaal te realiseer, sê president Hage Geingob.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – “Die produktiwiteit van landbou kan nie ­verbeter word sonder gelyke toegang tot grond nie. Die Namibiese regering plaas dus die herverdeling van grond hoog op die agenda.

“Tot dusver is vele mense hervestig in 'n poging om die wandade van die verlede reg te stel.”

Pres. Hage Geingob het Namibië verlede Donderdag by die Verenigde Nasies (VN) se Wêreldvoedselstelselberaad in New York verteenwoordig.

In sy toespraak het hy gesê in die verlede is talle landsburgers by ekonomiese aktiwiteite uitgesluit, maar ook van hul grond vervreem.

“Hervestiging alleen is nie genoeg nie. Die uitbou van kapasiteit, geldelike steun en geleenthede vir waardetoevoeging is nodig vir alle lande om hul landboupotensiaal te realiseer.

“Die gevolge van klimaatsverandering vererger die voorkoms van droogtes en werp kosproduksiestelsels in ontwikkelende lande omver. Dus is die toepassing van veerkragtige landboupraktyke om produktiwiteit en produksie te verhoog onafwendbaar.

“Ons benodig die steun van die inter­nasionale gemeenskap om toegang tot die gepaste tegnologie te verkry.”

Die president sê daar behoort ook na die herstel van grond gekyk te word en verwoestyning moet teengewerk word.

“Hierdie benadering sal help met die volhoubare gebruik van grond en meer daarvan beskikbaar maak om produktief te gebruik.”

Geingob sê dis belangrik dat die ganse mensdom sy omgewing beskerm deur onder meer bewaringspogings van die oseane en die volhoubare benutting van oseane se hulpbronne te versterk.

“Dit behels die toepassing van internasionale wette soos vervat in die VN se konvensie oor oseane. Ten opsigte hiervan sal ontwikkelende lande soos Namibië hulpbronne vanuit verskillende oorde moet mobiliseer.

Tydens die Wêreldvoedselstelselberaad, 'n eerste van sy soort, word hoofsaaklik gefokus op bydraes deur staatshoofde en regeringsafgevaardig­des. Lidlande van oor die wêreld heen is genooi om virtueel aan die geleentheid deel te neem.

Behalwe vir Namibië en ander SADC-lande, het wêreldleiers soos president Alberto Fernández van Argentinië, Katrín Jakobsdóttir, eerste minister van Ysland asook die eerste minister van Japan, Yoshihide Suga, aan die beraad deelgeneem.

Ander belangegroepe, insluitend die jeug, kosprodusente, inheemse bevolkings, die burgerlike samelewing, navorsers, die private sektor asook finansiële leiers het ook hieraan deelgeneem.

Die doel van die beraad is om vordering met die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) te bewerkstellig deur 'n voedselstelsel-benadering te volg. Dit moet gedoen word deur die onderlinge verbindings van voedselstelsels teen globale uitdagings soos honger, klimaatsveranderinge, armoede en ongelykheid in te span.

Die beraad is op Wêreldvoedseldag in Oktober 2019 deur die VN se sekre­taris-generaal, António ­Guterres, aangekondig.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer