Gemeenskap bal vuiste teen vulstasie
Gemeenskap bal vuiste teen vulstasie

Gemeenskap bal vuiste teen vulstasie

Greenwell Matongo se inwoners is bekommerd 'n nuwe vulstasie in Evelinestraat in die hoofstad kan 'n brandgevaar inhou.
NAMPA
Bure van 'n perseel in Windhoek se Greenwell Matongo is vol vrae oor 'n nuwe eiendomsontwikkeling in hul buurt.

Hulle het hul bekommernis uitgespreek dat as daar 'n brand by die vul­stasie in Evelinestraat sou uitbreek, dit vinnig na die nabygeleë huise en sinkhuisies kan versprei.

Die inwoners wou ook weet hoe die Windhoekse munisipaliteit (CoW) die sonering van twee woonerwe na 'n sakeperseel kon toelaat.

Sommige het gesê hulle was bewus die perseel word vir sakedoeleindes gesoneer, aangesien die munisipaliteit openbare kennisgewings opgerig het, maar hulle het nie geweet dit sou vir die oprigting van 'n vulstasie gebruik word nie.

Hoewel sommige inwoners opgewonde is oor die vooruitsigte wat hiermee gepaard gaan, soos werksgeleenthede en ontwikkeling, is sommige veral om veiligheidsredes teen die projek gekant.

Mnr. Jackson Nguvauva woon twee erwe van die perseel en het gesê dit is onregverdig dat die munisipaliteit 'n vulstasie naby huise kan laat oopmaak, ná verskeie besware in 2020 gemaak is.

“Hulle het ons nie eers geraadpleeg voordat hulle met die bouwerk in die middel van ons huise en in 'n baie beknopte ruimte begin het nie,” het hy aan Nampa gesê.

Volgens Nguvauva het inwoners ook die voormalige raadslid vir die Samora Machel-kiesafdeling, mnr. Fanuel Shivute, van hul griewe in kennis gestel.

Toe hy om kommentaar genader is, het Shivute gesê hy het ook teen die konstruksie beswaar gemaak, maar daar het dadels van sy pleidooie gekom. Volgens hom het hy die saak persoonlik met die voormalige burgemeester, me. Fransina Kahungu, bespreek.

Die huidige raadslid, mnr. Nestor Kalola, het met sy voorganger saamgestem en gesê in die geval van 'n brand sal CoW vir nalatigheid aanspreeklik gehou moet word.

Mnr. Harold Akwenye, die CoW-woordvoerder, het gesê die besigheid is geleë op twee woonerwe wat gesoneer is, volgens hom 'n algemene praktyk. Hy het beskuldigings van korrupsie as bog afgemaak en gesê die proses was deursigtig. Volgens hom is al die nodige beplanningsprosedures vooraf gevolg.

Hy het ook aantygings ontken dat die inwoners nooit geraadpleeg is nie, en gesê openbare kennisgewings is in plaaslike koerante geplaas en kennisgewingborde is in die omgewing opgerig.

Goedkeuring sluit volgens Akwenye 'n omgewingsklaringsertifikaat in.

Volgens Akwenye is alle veiligheidsmaatreëls waaraan die eienaar van die vulstasie moet voldoen in hierdie sertifikaat vervat.

Mnr. Isack Mukete, die algemene bestuurder en woordvoerder van Liongate Investment, wat dié vulstasie besit, het gesê die ontwikkeling is deur die stadsraad goedgekeur nadat daar aan al die voorgeskrewe prosesse voldoen is, wat openbare deelname insluit.

Hy het aangevoer geen besware is van die gemeenskap ontvang nie.

“Die voorstel van 'n vul­stasie is ingedien op grond van die behoefte aan so 'n onderneming. Dit behels die ontwikkelingsmoont­likhede en die vooruitsigte dat Evelinestraat die beginpunt vir verdere sake-ontwikkeling kan wees,” het hy opgemerk.

Mukete het gesê internasionale standaarde word nagekom om die veiligheid van beide mense én die omgewing te verseker.
– Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!