Gemeenskap maak self skoon
Mense lewer toenemend spontaan hul vullis en herwinbare materiaal by die stortingsterrein af.
Tanja Bause
Binne 'n week nadat 'n herwinbare vullishouer in die Hadino Nghishongwa- informele nedersetting in die Samora Machel-kiesafdeling geplaas is, het 'n sorteringsbesigheid op die stortingsterrein ontstaan.
Die gemeenskap se herwinningsinisiatief is 'n gesamentlike projek deur die Recycle Namibia Forum (RNF), die munisipaliteit van Windhoek se afdeling vir soliede afval, die Development Workshop Namibia (DWN) en mnr. Ngunga Muyenga van Ngunga Investment.
Die projek is van stapel gestuur ter viering van Wêrelddag vir Herwinning vandag.
Volgens me. Anita Witt het die RNF juis besluit om die houer op die munisipale stortingsterrein te plaas om die gemeenskap in staat te stel om hul herwinbare materiaal by die versamelpunt te kan afgee.
“Twee weke nadat ons die houer daar geplaas het, het 'n hele sorteringsbesigheid begin. Die idee was dat mense van die gemeenskap hul herwinbare materiaal in die houer plaas en dat Ngunga Investment die houer kom leegmaak en die materiaal na hul sorteringsaanleg vat. Daar word dit gesorteer en gekompakteer sodat dit na die verskillende herwinbare materiaalaanlegte in Suid-Afrika vervoer kan word,” het Witt gesê.
Me. Bertha Gebhard is 'n DWN-gemeenskapsvrywilliger wat deur Ngunga aangestel is om mense oor herwinning en die gebruik van die houer in te lig.
Gebhard sê: “Sedert die uitbreking van hepatitis E in die informele nedersettings in 2018 lig ons die gemeenskap in oor hoe belangrik 'n skoon omgewing is, om nie in die bosse te ontlas nie, om hul hande gereeld te was veral nadat hulle die toilet gebruik het, en nou om te herwin.
“Die mense van die omgewing is reeds opgelei in die noodsaaklikheid van 'n skoon omgewing. Nou is die herwinning maklik. Die mense kom hier met hul vullis en ek sê in watter sak kom watter vullis en hulle sorteer dit daarvolgens. Niemand van die gemeenskap word betaal om hul vullis te sorteer nie; hulle doen dit omdat hulle in 'n skoon omgewing wil woon.
“As hulle 'n sak met gemengde vullis bring, sorteer ek dit volgens plastiek, karton en papier, glas of blikkies en sit die huishoudelike en nieherwinbare materiaal in die houer wat die munisipaliteit vir ons geplaas het.”
SKOONMAAKVELDTOGTE
Gebhard gaan ook na kroeë en cucawinkels en deel plastieksakke uit.
“Elke twee dag gaan haal ek die sakke weer. Die swart sakke is vir glasbottels en die bloues is vir plastiekbottels en die mense sit die bottels in die regte sakke, wat my werk makliker maak.”
DWN het vrywilligers wat drie dae per week in die informele nedersetting van huis tot huis gaan en mense inlig van die gevare van 'n vuil omgewing of om in die openbaar te ontlas. Hulle reël ook gereeld op Saterdae skoonmaakveldtogte waaraan die gemeenskap sonder vergoeding deelneem.
“Ek loop rond en skree 'Saterdag is 'n skoonmaakveldtog' en wanneer die dag aanbreek, is almal hier en help skoonmaak. Dit is hoekom jy nie meer vullis in die rivier of tussen die huise sien rondlê nie. Ons bly hier en net ons kan dit verander en skoonhou,” het Gebhard gesê.
Ngunga Investment is in 2013 begin en hulle het besluit om die gemeenskap se hande in herwinning te vat.
Ngunga sê: “Ons het gesien hulle maak reeds self skoon en toe het ons met die hulp van die ander vennote besluit om hulle te ondersteun. Ons kom haal die materiaal en kompakteer dit en vervoer dit na Suid-Afrika.
“Aan die einde van die maand bereken ons hoeveel tonne materiaal ons kom haal het en betaal vir Bertha daarvolgens.”
Die munisipaliteit en DWN het opleidingspanne wat in die volgende weke in die gemeenskap sal rondbeweeg en mense oor die belangrikheid van die sortering van huishoudelike afval inlig.
Mnr. Emvula Set het met 'n kruiwa vol glas bottels by die stortingsterrein opgedaag en begin om die bottels in die houer vir glas te plaas.
“Dit is my huis en ek wil nie meer in 'n vuil omgewing woon nie. Ons moet verantwoordelikheid vat en skoonmaak en dit so hou,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie