‘Gemeenskap vat nie verantwoordelikheid’
Al wat weer hoop vir die land en sy gesondheidspersoneel sal bring, is as die getalle mense wat teen Covid ingeënt is, meer as die aantal gevalle is.
Henriette Lamprecht – “Ek het net sewe beddens vir Covid-pasiënte beskikbaar; van ons 19 Covid-pasiënte lê reeds noodgedwonge op trollies in die gang met ’n kombers. Weet jy hoe oneties voel ek? Dis nie hoe ek verpleeg nie; dis nie my hospitaal nie. As daar nou ’n noodgeval inkom, weet ek nie waarheen gaan ek met so ’n pasiënt nie.”
Wanneer en tot watter punt trek ons die streep, het me. Hannelie Botha, bestuurder van die Lady Pohamba Private Hospitaal in Windhoek, in ’n onderhoud met Republikein gevra.
“Hier lê gesonde mense met geen onderliggende toestande nie, maar die gemeenskap vat nie verantwoordelikheid nie. Nou moet ons oneties optree, teen ons waardesisteem en ons gee mense matrasse met ’n kombersie oor. Dis nie die beeld wat jy wil hê nie.”
Volgens Botha sit hospitale (staat en privaat) nou met ’n dilemma omdat inwoners nie bereid is om deel te neem aan die nasionale immuniseringsveldtog teen Covid nie, wat reeds nege weke gelede afgeskop het.
“Ek voel regtig die gemeenskap wat nou daar lê, kon ’n verskil gemaak het. Hulle sou nie daar gelê het, of soveel ventilators nodig gehad het nie. Hulle sou dalk daar gelê het, maar nie so siek gewees het nie.”
Buiten die gebrek aan beddens, erken Botha, is daar nêrens ventilators oop nie.
“Wat maak ek met ’n slagoffer van ’n motorongeluk, ’n jong vrou wat ’n jong ma is? Wat maak ek met die 30-jarige met ’n hartaanval? Hulle het mos ewe veel reg op die lewe!”
Lady Pohamba is saam met Rhino Park deel van die inentingsprogram en Botha erken sy het nie meer personeel om hiermee te help nie.
“Ek het nou twee verpleegsters en ’n ambulansman. Die publiek raak nou ongeduldig, want hulle moet nou in rye staan en is nie bereid om te wag nie. Jy het nege weke tyd gehad om ’n verskil te maak!”
Dit is in inwoners se hande om oorlaaide en oorwerkte gesondheidspersoneel te help, sê Botha.
“Ons kan nie meer nie; dis baie selfsugtig van die gemeenskap en berokken ons gesondheidsorg baie skade.”
Volgens Botha is pasiënte in die derde golf “veel sieker en heelwat jonger” en is hul verblyf in die hospitaal ook veel langer. Sy verwys ook na post-Covid-sindroom, wat sowat die helfte van die pasiënte in die hospitaal se gewone intensiewesorgeenheid het.
“Die verlengde uitwerking is veel erger.”
Sy erken dit sal “wonderlik” wees as die aantal inwoners wat ingeënt is, hoër as die gevalle begin styg.
“In my en my personeel se gemoed sal dit ’n kwessie wees van ‘byt net nog ’n bietjie vas, dit sal beter gaan’. Maar nou voel dit soos ’n doodloopstraat, ’n magtelose gevoel, want jy kan nie jou maksimum gee nie en jy het al hierdie etiese storms om jou kop.”
Mense neem geen verantwoordelikheid om hulself en hul familie te beskerm nie, maar as die nood druk, “is dit ons verantwoordelikheid en word ons gekruisig omdat pasiënte weier.”
IMMUNITEIT: ‘HOE OP AARDE?’
Me. Esmé Botes, bestuurder van Rhino Park, sê: “Ons druk ons pasiënte in gate wat ons nie eens geweet het ons het nie”.
Volgens Botes het die vier private hospitale in Windhoek, tesame met Welwitschia en Cottage aan die kus, Vrydag 108 Covid-pasiënte gehad met net 84 plekke wat eintlik hiervoor beskikbaar is.
Volgens Botes is nog nie eens 2% van die Namibiese bevolking ingeënt nie.
“Nou moet ons die 98% van die res van die bevolking dienste weier oor 2%. Is dit nie onregverdig nie? In drie maande is net 75 000 mense ingeënt; hoe op aarde gaan ons immuniteit kry? Dit gaan nooit gebeur nie.”
Sy erken “ons kan niks méér doen as wat ons nou doen nie. Jy kan nie meer mense invat as wat jy verpleegpersoneel het om na hulle om te sien nie. Dis oneties en uiters onverantwoordelik.”
Sy beklemtoon: “Ons is nie ongevoelig nie. Dit is verskriklik om deur ’n hospitaal te stap en te sien hoe mense soebat, of jou bel en jy weet jou hande is afgekap.”
Botes erken sy verstaan nie waarom gesondheidswerkers hulle nie laat inent nie; “dis die mense wat met hierdie pasiënte werk, wat dit sien.”
Die grootste struikelblokke tans in beide staats- en private hospitale is ’n gebrek aan personeel, suurstof wat baie noukeurig bestuur moet word en ’n tekort aan beddens.
“Ek het nege beddens. Ek moes drie mense in my kraamsaal opneem en twee in pediatrie, omdat ek nie meer plek in my sale het nie. Ons het meer pasiënte as waarvoor ons ingerig is.”
Botes het haar kommer uitgespreek oor pasiënte wat nou noodgedwonge tuis moet aansterk.
“Wie monitor hom? Dit veroorsaak dat die pasient langer by die huis bly as wat hy moes en teen die tyd wat hy by hospitaal kom, is sy toestand van so aard dat ons sukkel om hom aan die lewe te hou.”
Met verwysing na elektiewe chirurgie sê Botes dit is iets wat fyn bestuur moet word.
“Dis beter om nou elektief te doen, want die ou is vinniger in en uit die hospitaal, as wat jy ’n noodoperasie doen wat die pasiënt langer moet bly.”
Gesondheidswerkers is “moeg, werk reeds vir maande sonder ophou, sien net die siek en doodgaan en is vreesbevange hulle vat die virus huis toe”.
“Al wat moraal gaan optel, al wanneer wêreldwyd hoop gaan kom, is as jy sien mense is ingeënt en getalle neem af.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie