Gemeenskappe oor miltsiekte gewaarsku
Gemeenskappe oor miltsiekte gewaarsku

Gemeenskappe oor miltsiekte gewaarsku

Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, het vandag in die Nasionale Vergadering bevestig dat plaaslike gemeenskappe in die Noordooste gewaarsku is om nie aan enige karkasse te raak of vleis daarvan te eet nie.

Dit volg ná 109 seekoei- en 20 buffelkarkasse in die vloedvlakte van die Okavangorivier in die Bwabwata Nasionale Park deur natuurbewaarders gevind is wat vermoedelik weens miltsiekte gevrek het.

Shifeta sê die streeksgoewerneur, die streeksraadslid van die Mukwe-kiesafdeling, die gesondheidsdirekteur van die streke van Kavango-Wes en Kavango-Oos, die bestuur van die Elephant Tusk-operasie en die HaMbukushu tradisionele owerheid is van die situasie ingelig.

Die minister sê sy personeel het vanaf 1 tot 7 Oktober hoë mortaliteitsgevalle van seekoeie en buffels in die vloedvlaktes waargeneem, waarna die lugwaarneming op 4 en 7 Oktober plaasgevind het en die totaal op 109 seekoei- en 20 buffelkarkasse getel is.

"Daar word sterk vermoed dat miltsiekte die oorsaak van die vrektes is en dat die lae vlak van die Kavangorivier gelei het dat die antraksbakterie aktief geword wat natuurlik in die omgewing voorkom," het Shifeta gesê.

"Omdat die kwessie 'n staatsgekontroleerde siekte is, val dit onder die mandaat van die ministerie van landbou, water en bosbou en die natuurbewaringskantoor op Rundu het die staatsveearts op die dorp ingelig."

Shifeta sê die staatsveearts het ook aan die lugwaarneming op 7 Oktober deelgeneem. Op 9 Oktober het die staatsveearts monsters na die laboratorium geneem om die presiese oorsaak van die vrektes te bepaal. Daar word steeds monsters geneem.

"Die vernieting van die karkasse het begin en sal voortgaan soos dit prakties is. Personeel van die ministerie van die omgewing en toerisme het tot dusver van net drie karkasse ontslae geraak. Die karkasse is op beide land en in die water," sê die minister.

Hy sê die streekskantoor het die proses begin om beskermende toerusting te verkry vir personeellede wat by hierdie situasie betrokke is en 500 weggooibare maskers is aan personeel gegee.

"Weens die aard van miltsiekte is plaaslike gemeenskappe ter voorkomingsmaatreël gewaarsku om nie aan enige karkasse te raak of enige vleis van dooie wild te eet nie, het Shifeta gesê.

Hy het ook bevestig dat 'n hoëvlak afvaardiging van die ministerie van landbou, water en bosbou Bwabwata môre gaan besoek. 'n Derde mortaliteitstelling per boot word vir Donderdag beplan.

Die seekoeibevolking word op 3 000 beraam en daar is sowat 7 000 buffels. Die bevolking van seekoeie in die westelike gebied van Bwabwata ('n strook van 24 km langs die Okavangorivier) het spesifiek van sowat 384 diere in 2013 tot 539 in 2017 vermeerder, het Shifeta gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!