Gemeenskapskerk op Elisenheim ingewy

Dit is die eerste en enigste kerk op dié landgoed noord van Windhoek.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg



Die Elisenheim-gemeenskaps­gemeente se kerkgebou is Sondag amptelik deur dr. Fourie van den Berg ingehuldig en sowat 100 mense het dié geskied­kundige geleentheid bygewoon.

Van den Berg is tans die leier-leraar van die NG Kerk se ­Eros-gemeente, maar hy is die organiseerder van kerkdienste in hierdie kerkgebou, wat deur die Elisenheim-gemeen­skapsgemeente se artikel 21-maat­skappy gebou is.

“Die kerkgebou sal nou deur verskillende kerkdenominasies gebruik word om eredienste aan te bied. Die doel is dat dit mettertyd 'n gemeen­skapsgemeente sal word wat nie uit enige denominasie bestaan nie, maar uit al die denominasies in een ­gemeente,” het Van den Berg gesê.

“Dit sal 'n eerste in Namibië wees. Dit is ook die eerste en enigste kerk op Elisenheim.”

Van den Berg sê indien daar enige aansoeke is om eredienste op Sondae aan te bied, word dit verwelkom. Die eerste erediens sal op Sondag 20 Mei om 09:00 plaasvind.

“Sondae om 09:00 sal Protestantse dienste aangebied word, wat insluit dié van onder meer die NG, Hervormde, Gereformeerde, Metodiste, Baptiste, Lutherse en Presbiteriaanse kerke, en om 18:00 Pinkster- en vernuwingsdienste,” verduidelik Van den Berg.

Hy nooi almal uit: “Selfs al is jy nie lid van enige kerkdenominasie nie, is almal welkom om enige dienste volgens jou voorkeur by te woon.”



GEMEENSKAPSENTRUM KOM

Van den Berg sê die kerkgebou is die eerste fase van 'n gemeenskapsentrum wat later die gemeenskap sal dien.

Dit sluit in 'n groot saal wat meer as 'n 1 000 mense kan huisves en sal dien as 'n veeldoelige gebou vir sport- en kultuuraktwiteite, 'n nasorgsentrum vir kinders, 'n pre­primêre skool en speelparkie, 'n restaurant en deli, asook mediese fasiliteite wat onder meer 'n kliniek en apteek sal insluit.

“Die projek van meer as N$2 miljoen is uitsonderlik omdat alle professionele dienste gratis gelewer is.”

Hartlike dank word uitgespreek aan Barnard Mutua-argitekte, WV Construction, Buhr en Fouchè De Leeuw-groep as bourekenaars, Dr. Weder Kauta & Hoveka as regsverteenwoordigers, Heinz Associate Engineering en De Waal Construction Engineering as siviele ingenieurs en Mtuchler Consulting Services as projekbestuurders.

“Die kerkgebou is 'n wonderwerk en pryk daar in 'n rekordtyd van 15 maande ná ons dit op papier begin het,” sê Van den Berg.

“Ná die sooispitseremonie het dit slegs ses maande geneem tot die gebou Sondag ingehuldig is.”

Volgens Van den Berg is die kerkgebou meer as N$3,2 miljoen werd.

Troues, begrafnisdienste, troosdienste en vergaderings kan ook in die kerkgebou gehou word.

Kontak me. Annelien Muller by 081 646 5745 vir besprekings.

Die kerkgebou is op erf 93 in Elisenstraat op 'n koppie met 'n mooi uitsig op die Elisenheim-landgoed geleë.

Kommentaar

Republikein 2025-03-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer