Genade en hoop
Dit was laat op 'n Vrydagmiddag wat ek Kanaan binne ry. Dit moes eens op 'n tyd die beloofde land gewees het, maar daarvan is niks te siene of oor nie.
Ek kyk na die barre vlaktes en bewonder die uitgeteerde skaap se uithouvermoë wat soos benerige sakke kop onderstebo vir die Februarie-son in 'n kameelboom se skadu probeer wegkruip. Toe ek voor die opstal stop, kom 'n swartkopvrou in 'n rooi rok uit. Sy, haar groen oë, rooi lippe en swaaiende heupe is die enigste lewe op die werf. Dit lyk asof sy gaste verwag het, want haar keurige grimering gee lewe aan die doodsheid van die omgewing terwyl haar reukwater sag teen my kom nestel.
Ons groet terwyl haar man ook nader staan. Sy kakieklere is vol salpeterkolle van die sweet. Sy oë is moeg en lê versonke en leweloos teen sy bruin gebrande gelaat. Hulle is Mara en Kobus Smal.
“Ek is Mara. Dit beteken bitter. Bitter soos die lewe hier,” sê sy. Kobus stel hom sag voor en nooi my vriendelik om onder die peperboom se skadu te gaan sit. Sy bring koffie sonder melk. “Jammer, hier is niks om te melk nie,” sê Kobus en wys in die algemene rigting van waar die res van die plaas se kaal vlaktes in die hittegolwe sidder.
“Ek is voos en moeg gebid,” prewel Kobus. Dit het jare laas hier gereën. “Alles is vrek. Die meeste vee, die veld. Ek ook. Daar is nie meer geld vir voer nie. Gelukkig is Mara nog hier. Dit is al wat my nog staande hou, anders het ek al lankal boedel oorgegee,” sê hy mankoliekerig terwyl sy oë na niks in die ooste tuur.
Daardie nag word ons wakker van
'n benoude gehamer aan die voordeur waar Herman, die plaasvoorman, staan. “Oom-hulle moet asseblief kom help, dis Bets. Die baba wil nou kom en ek weet nie wat om te doen nie!” sê hy doodbenoud.
'n Halfuur later maak Baba Beukes haar opwagting. Ons was pas terug by die opstal toe die plaaslyn se noodlui weerklink. Die weerlig het een van die plase in die distrik se veld aan die brand geslaan. Almal help. Die wat nie met pompe water op die vlamme spuit nie, ry water in 200 liter-dromme aan. Dit is laat die middag toe ons weer op Kanaan stop. Mara staan buite en huil. Baba Beukes het nie oorleef nie.
Daardie nag begin dit te reën. Ek staan op en stap by die voordeur uit na waar Mara en Kobus in die genade uit die hemel staan. Sy oë is toe terwyl hy saggies sy dankbaarheid aan sy Skepper betoon en die trane saam met die druppels op sy wange strome vorm. Mara hou hom vas soos net 'n vrou haar man kan vashou. Ons stap terug die huis in terwyl Kobus buite bly staan. Sy maak koffie en ons drink dit in 'n swanger stilte.
Ek het weer gaan slaap toe Kobus my kom wakker maak. “Herman het kom roep,” sê hy met rooi oë. “Hy sê daar is groot fout met Bets. Ons moet gaan kyk wat aangaan.” Ek staan buite by Herman toe die gehuil van die pasgebore seuntjie opklink. Nes die reën wat na die brand op die dorre geskroeide aarde geval het om nuwe lewe te bring, skenk Bets nuwe lewe vir haar en Herman.
Vir die volgende twee weke wat ek op die plaas is, reën dit aanhoudend. Kobus vertel my dat hy in sy 35 jaar op Kanaan nog nie so iets beleef het nie. Toe ek die Maandagoggend vertrek, is dit met die ruitveërs wat ritmies saam wieg. Toe ek Kobus en Mara groet, kon ek dit in sy oë sien. Daar was 'n nuwe vuur van dankbaarheid wat brand. 'n Nuwe toekoms van hoop en genade wat op Kanaan wag.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie