Geniepsige hou tref seweskode
Geniepsige hou tref seweskode

Geniepsige hou tref seweskode

Tien Afrika-spanne speel vir twee plekke in die 2018 Wêreldbeker en Statebondspele, maar Namibië se span is nie daar nie.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Dit was 'n pynlike en ongewilde en vernederende besluit, maar die Namibië Rugby-unie het weinig keuse gehad.

Só verduidelik die NRU se uitvoerende hoof, me. Elizma Theron, die nasionale beheerliggaam se onttrekking van die Namibiese sewesrugbyspan aan die Afrika-kampioenskap wat môre in Kampala, Uganda begin.

Die ambisie om nie net 'n kontinentale titel te wen nie, maar ook 'n regstreekse uitnodiging na die 2018 Hongkong-sewes oop te speel, is net meer as 'n week gelede doodgesmoor toe dit bekend geword het dat Namibië hom aan die toernooi in Kampala onttrek het.

Die Afrika-kampioenskap hou boonop vir die toptwee spanne die beloning van kwalifisering vir die 2018 Statebondspele, asook die 2018 Wêreldbeker sewestoernooi. Die tien mededingers in die toernooi is Ghana, Marokko, Uganda, Tunisië en Zambië (groep A), Botswana, Madagaskar, Mauritius, Senegal en Zimbabwe (groep B).

'n Geldtekort en die afwesigheid van 'n borg vir die Namibiese sewesspan is die sentrale rede vir die onttrekking, het Theron gister aan die koerant gesê.

“Die spertyd vir bevestiging was reeds verby en ons is gedruk vir 'n finale antwoord. Sonder 'n bevestigde borg was daar deurgaans die gevaar dat ons nie die toer sou kon bekostig nie en die raad moes die besluit neem om die NRU se aansien te beskerm. Dit was 'n ontsaglike moeilike situasie, maar uiteindelik was daar nie juis 'n ander keuse nie,” sê Theron.

Uiteraard is hierdie nuus nie met ope arms in die nasionale oefengroep ontvang nie, wat reeds vir bykans 'n jaar op die oefenveld was met die droom om hul doelwitte te bereik.

Die teleurstelling en frustrasie is vererger deurdat in die finale besluit nie met die sewesspan se bestuur gekonsulteer is nie en dat hulle bloot laas Maandag hieroor ingelig is nadat dit reeds gedane sake was.

Spanbestuurder Robbie Dickson sê 80 persent van die toerkoste word deur Afrika-Rugby gedek (vliegkaar­tjies, hotelverblyf en etes) en hyself en afrigter Jurie Booysen sou soos by minstens vier vorige geleenthede uit hul pad gaan om 'n plan te maak om uit hul eie sak of deur die werwing van private borge die gate te vul.

“Teen die tyd dat ons ingelig is, was daar nie meer omdraaikans nie, want ná Namibië se onttrekking het Rugby-Afrika die oop plek aan Mauritius aangebied, wat dit aanvaar het.

“Dit is hartseer vir die spelers wat so lank en so hard gewerk het, dat die mat onder ons voete uitgepluk is, maar ons hou aan om met die spelers te werk en om borge te soek om ons program te ondersteun.”

• Beter nuus is dat die Safland Sewes op Swakopmund komende November vir die tweede maal aangebied sal word. Dit behoort volgende week amptelik bekend gestel te word, sê Theron.

Laas jaar se eerste toernooi was 'n internasionale skouspel met lande soos Kenia, Duitsland, Zambië en Namibië wat hulself kon meet teen Suid-Afrika se Blitsbokke, wat dié voorseisoen geleentheid gebruik het om vir hul triomfantelike aanslag op die HSBC Wêreldreeks te slyp.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!