Genomika neem u00adprestasiemeting na hou00ebr vlak
Genomika neem u00adprestasiemeting na hou00ebr vlak

Genomika neem ­prestasiemeting na hoër vlak

Die begrip “genomika” en die waarde daarvan in seleksie en kuddeverbetering is breedvoerig op Hartebeestloop bespreek.
Die 2018 Hartebeestloop-­inligtingsdag wat op 17 Mei op dié plaas buite Stampriet aangebied is, het beesboere en ander belangstellendes hierdie jaar tot in die diepste dieptes van die bees geneem.

Meer as 100 boere het registreer vir die inligtingsdag wat jaarliks in samewerking met Agra aangebied word en aangevul word deur die teenwoordigheid en produkuitstallings van landbouverskaffers en ander rolspelers in die bedryf.

Die inligtingsdag gaan die jaarlikse Hartebeestloop Bonsmara-veiling vooraf.

Die begrip genomika en die belangrikheid daarvan is op uitstekende wyse by boere tuisgebring deur die eienaar van Hartebeestloop, dr. Joggie­ Briedenhann, wat die grootste deel van die program self aangebied het.

Vir diegene wat die dag bygewoon het, is die terme Blup-teelwaardes en GEBV-teelwaardes nie meer net vreemde, intimiderende woorde in iemand anders se boerderywoorde­skat nie.

Roelie Venter, uitvoerende bestuurder van die Namibië Landbou-unie (NLU), het met boere gesels oor die uitdagings in die landboubydryf en die insette deur georganiseerde landbou om hierdie kwessies te takel. Beide sprekers het die boodskap helder en duidelik deurgegee: Ons moet dít bestuur wat binne ons beheer is.

Die belangrikheid van data en meting vir suksesvolle boerderybestuur het ook soos 'n goue draad deur die aanbiedinge van die dag geloop.



Die dag is ingelei deur ds. Gerhard Liebenberg wat gaste motiveer het om gewortel te bly in God en ons geloof, al gaan ons deur moeilike omstandighede. Hy het dit gedoen aan die hand van Psalm 1 en die voorbeeld van 'n wingerdstok wat welig gegroei het op 'n sypaadjie in Londen en by nader ondersoek is gevind dat sy wortels onder die sypaadjie en strate tussen geboue heen hul weg gevind het na die Teemsrivier.



WAT IS GENOMIKA?

“Niks verander as niks verander nie, en niks gaan die tendens van genomiese ontwikkeling stop nie”, het Joggie gesê. Beeste is 150 jaar gelede geklassifiseer as melkbees, vleisbees of dubbeldoelbees; by toenterjare se skoue is vir voorkoms geselekteer en nie vir wins.

Soos rasse ontwikkel het, is beeste volgens die raseienskappe beoordeel en wenbeeste was dié wat visueel aan al die eienskappe van die bepaalde ras voldoen het.

Die nuwe generasies dink egter anders – hulle hou van mooi bees, dit moet fenotipies doeltreffend wees, maar dit moet ook wins genereer. Dit het Blup-teelwaardes gebring, gebaseer op stambome en prestasietoetsing en nou ook genomika. Die daarstel van Blup (Best Linear Unbiased Prediction) genetiese ontledings en teelwaardes is volgens Joggie “een reusestap” wat die vleisbeesbydryf vorentoe gegee het.

Joggie het verduidelik dat genomika, anders as genetika wat net op 'n enkele geen of eienskap fokus, 'n studie is van die genome, of stelle gene wat sekere eienskappe bepaal.

'n Genoom is 'n versameling DNS in 'n organisme en die genome van 'n organisme word saam as die bloudruk van die organisme beskou. Genomika kyk na hoe die gene interaktief werk om die ontwikkeling en groei van 'n organisme te beinvloed. Deur genomika kan bepaal word watter geen in die genoom 'n sekere eienskap bepaal en elke geen kry dan 'n geenmerker.

Joggie het vertel dat die Bonsmara-ras deur die jare visuele evaluasie volgens die norme vir funksionele en strukturele doeltreffendheid streng toegepas het, maar die enigste vleisbeesras in die wêreld is wat deur 'n volledig gedokumenteerde kruisteelprogram ontwikkel is met objektiewe aantekening van prestasiedata.

BLUP-TEELWAARDES

'n Blup-teelwaarde is 'n aanduiding van die waarde van die dier ten opsigte van 'n spesifieke eienskap en die vermoë om daardie waarde na sy nageslag oor te dra. Dit is veral eienskappe van ekonomiese belang en eienskappe wat hoog oorerfbaar is wat baie aandag kry. Ook hier is die Bonsmara 'n voorloper: “Miljoene produksie en reproduksie aantekeninge op miljoene beeste deur duisende telers vanaf die ontstaan van die Bonsmaras is in hierdie BLUP teelwaardes saamgevat. Bonsmara beeste is nie noodwendig beter omdat hulle Bonsmara is nie, hulle is beter oor die geweldige databank agter hulle – en dit geld vir enige ras”, het Joggie gesê

Genomies Merkerverrykte Teelwaardes (GEBV) het egter prestasiemeting na 'n volgende vlak geneem en bring die vleisbeesprodusent nader aan die vlak van presisieboerdery waarop die suiwelbedryf en akkerbou reeds is. Genomika en Blup-teelwaardes word kombineer om die beste moontlike genetiese ontleding en resultaat te gee.

Eienskappe soos groei, vrugbaarheid en karkaseienskappe is multigeen-eienskappe wat beteken dit word deur baie verskillende gene beïnvloed en Blup genetiese ontleding weerspieël die somtotaal van die uitwerking van hierdie gene.

Die hoeveelheid bydrae van 'n spesifieke geen tot die eienskap kan egter nie hierdeur bepaal word nie en dit is waar genomika belangrik is – vir die identifisering van genemerkers' dus individuele gene wat 'n sekere eienskap beïnvloed.

Die bepaling van GEBV word gedoen by 'n spesifieke laboratorium wat geakkrediteer is om genomiese ontledings te doen en dit word gedoen op sterthare van die betrokke dier wat getrek en aan die laboratorium gestuur word. Hierdie waardes word dan deur die registrerende instansie gekombineer met die bestaande Blup-waardes van die spesifieke dier en dit word by die data van die dier aangedui met 'n bepaalde simbool in die veilingskatalogus.

Die eienskappe wat in die katalogus is, is die merkers en 'n voornemende koper kan dus onmiddelik 'n idee kry van hoe die dier gaan presteer. Dit laat telers toe om meer akkuraat en vinniger te selekteer vir spesifieke eienskappe van ekonomiese belang in beeste en om hierdie inligting te gebruik om die eienskappe vinniger te verbeter.



VOORDELE VAN GEBV's

Die voordele van die gebruik van GEBV's vir die bulkoper is dat dit die akkuraatheid en voorspellingsvermoë van die teelwaardes van beeste betekenisvol verbeter. In teenstelling met BLUP waardes wat eers na drie generasies se prestasietoetsing werklik sinvol is, is GEBV-teelwaardes baie meer akkuraat om alreeds op 3-jarige ouderdom, wanneer bulle gewoonlik op veilings aangebied word, hierdie bulle se teelwaardes en prestasies baie meer akkuraat te voorspel.



Vir die teler het dit ook die voordeel dat dit moontlik is om diere op 'n baie jonger ouderdom reeds te selekteer en te bepaal of hulle enige bydrae in die kudde gaan maak of nie.

Joggie het beklemtoon dat die “miljoene” produksie- en reproduksie-aantekeninge in 'n teler se ras en beeste en hulle verwantes nodig is voordat die pad van genomika en GEBV-teelwaardes gestap kan word; om die werklike voordeel van GEBV-teelwaardes te kry moet volgehoue prestasietoetsing gedoen word.



Nadat almal die begrip en belangrikheid van genomika onder die knie gekry het, het Joggie verduidelik wat die voordele van genomika sal wees in Namibië se drie hoofproduksiestelsels by grootveeproduksie naamlik speenkalwers, vervangingsverse en osse.



Roelie Venter het in sy aanbieding aangesluit by Joggie en ter inleiding gesê dat ons in geloof leef, maar ontwikkel deur wetenskap en dat ons die voordele wat die wetenskap ons bied moet gebruik. Hy het ook beaam wat Joggie gesê het naamlik dat as 'n produsent se boerderybestuur, weidingsbestuur, entprogramme en beplanning nie op standaard is nie, genetika niks gaan beteken nie.

NLU

Roelie het die langtermydoelwitte van die NLU uitgelig. Die basis van die NLU is die 68 boereverenigings. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is dat georganiseerde landbou relevant bly en werk met die doel om 'n omgewing skep vir winsgewende en volhoubare boerdery.

Hy het uitgebrei oor faktore wat 'n invloed op produksie het soos die politieke omgewing, bemarking, natuurlike hulpbronne en sosio-ekonomiese faktore.

Die NLU bestee baie om doeltreffende navorsing te doen om onder meer die Namibiese landbouproduksiewaarde te bepaal. Groot veranderinge het in die vleisbedryf plaasgevind wat in die 1990's meer as 80% van die totale bedryf uitgemaak het en nou slegs tussen 50 en 60%, met die sterker prestasie van ander bedrywe egter 'n ligpunt.

Die lewendehawesektor bly steeds die sektor met die grootste impak op landelike eknonomie. Roelie het 'n uiteensetting gegee van die impak wat die lewendehawebedryf het op die totale ekonomie deur die waardeketting vanaf die verskaffing van insette benodig, tot die produksie, veiling, vervoer, abattoir en bemarking.

Hy het ook uitgelig wat “ die anderkant van die storie” van die NLU, die uitdagings, is.

Dit sluit onder andere in beskerming vir bedrywe; die kostes om by markte uit te kom en aan die markvereistes te voldoen. Boere is prysnemers en regverdige pryse sal slegs betaal word as daar genoeg kompetisie in die mark is. Die waardetoevoeging wat vereis word is tot voordeel van Namibië, maar ten koste van sekere bedrywe. Dit kan totaal vernietig word soos reeds gemerk kan word met die skaapbemarkingskema – skaapproduksie het sedert die implimentering van die skema gedaal van 1,2 miljoen skaap per jaar na 700 000.

“Produsente kan nie betaal vir 'n industrialisasiebeleid nie. Ons ondersteun waardetoevoeging maar ons kan nie daarvoor betaal nie”, het hy gesê. As primêre produksie vernietig word, word die hele waardeketting vernietig en almal verloor – boere, die regering én die verbruiker.

Roelie het ook weer eens beklemtoon dat rekordhouding geweldig belangrik is – inligting en syfers in die bedryf is nie voldoende nie en dit lei tot wanopvattings.

Om die lewendehawebedryf terug te kry op 'n volhoubare pad, is dit volgens Roelie nodig dat daar 'n lewende uitvoermark en toegang na die SADC-lande moet wees, 'n sterk plaaslike mark en internasionaal kompeterende uitvoerabattoirs en nie beperkings soos die skaapbemarkingskema nie.

“'n Klomp goed gebeur waaroor ons min beheer het en dit vat ure en dae om ondeurdagte besluite om te draai. Intussen kan ons as produsente maar net beheer neem oor dit waaroor ons beheer het: ons produksie/ha, ons uitgawes en wins en volhoubare bestuur van ons hulpbronne. Die NLU het tans 'n projek aan die gang wat produksie/ha meet deur die syfers te gebruik van 47 deelnemers. Data soos hierdie is waardevol om lede in staat te stel om hul eie produksie te kan meet,” het hy gesê.

Die NLU se fokus vir 2018 is onder andere om die regering te oortuig dat 'n lewendehawebemarkingsomgewing sonder enige beperkings die beste is vir die Namibiese ekonomie; die ontwikkeling van 'n landelike veiligheidstrategie; sekerheid rakende grondeienaarskap; goeie samewerking met ander landbou-unies en ondersteuning aan opkomende boere as 'n belangrike inset om suksesvolle grondhervorming te bewerkstellig.

Na nog 'n heerlike ete voorsien deur die Agra-span wat as gasheer vir die dag al die etes en verversings voorberei het, is daar rondom die veilingskraal vergader. Met die veilingskatalogus in die hand het gaste geleer om die waardes soos aangedui in die katalogus te lees en die visuele eienskappe van die onderskeie bulle is aan die hand daarvan bespreek onder leiding van Hennie Snyman van die Bonsmara-beestelersgenootskap.

Aan die einde van die dag tree die span van Agra Veilings aan by die groot vure om die vrug van al die harde werk van Namibiese beesboere - sappige biefstuk – na smaak van elke gas te braai, terwyl nog 'n suksesvolle Agra Hartebeestloop-inligtingsdag op tipiese Namibiese manier, met 'n heerlike saamkuier, afgesluit word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!