Gerat teen plunder-planne
Verskeie plaaslike ondernemings het gister reeds van die items op hul rakke op veiliger plekke gaan stoor.
Elvira Hattingh – Die polisie, sekuriteitsverskaffers asook winkelsentrums sê hulle is gerat daarvoor as dreigemente vir die plunder van Windhoekse inkoopsentrums vandag realiseer.
Dit volg ná sekere individue geweld op sosialemediaplatforms teenoor inkoopsentrums in Windhoek aangehits het – soortgelyk soos dié tans in Suid-Afrika, waar verskeie sakeondernemings geplunder is.
Niemand kon tot dusver vasstel hoe ernstig die dreigemente is nie.
In die plaaslike sosiale media is mense egter landswyd aangemoedig om vandag inkoopsentrums soos beide Maerua Mall en Grove Mall, Khomasdal Hyper en Wernhil binne te val.
“Ons gaan vat wat ons wil, how long will we be Swapo's baby,” skryf iemand wat homself eers as die “General van Okuryngava” (sic) en later as “General Malume” beskryf. Talle ander aanhitsende boodskappe het ook gesirkuleer.
Verskeie plaaslike ondernemings het gister reeds van die items op hul rakke op veiliger plekke gaan stoor, wat televisiestelle asook wapens en ammunisie insluit.
POLISIE
Intussen het hoofinsp. Elifas Kuwinga van die Namibiese polisie (Nampol) gesê hulle ondersoek die saak en is gereed om wet en orde te handhaaf.
Hy sê 'n ondersoek is van stapel gestuur en die plan is om diegene agter die sosialemediaboodskappe vas te trek. “Ons is gereed vir diegene wat sulke goed beplan en is op hul spoor – ons sal nie met hulle speel nie,” het Kuwinga gister aan Republikein gesê.
Hy het beklemtoon die polisie is altyd gereed vir enige gebeurlikhede.
Kuwinga het sakeondernemings aangeraai om sekuriteitsmaatreëls te verskerp en die publiek gemaan om hul van plundering te weerhou.
“Die land sal seerkry, nie net in terme van die ekonomie nie, maar ook as dit kom by dié wat reeds sukkel om hul daaglikse brood te verdien of nie werk het nie. Almal sal swaarkry,” het hy gesê.
“Boonop is so 'n aksie strafregtelik,” het hy gewaarsku. “Ons is 'n vreedsame nasie, kom ons hou dit so.”
Hy het ook lede van die publiek bedank wat oor die algemeen inligting met die polisie deel en die dreigende boodskappe reeds na hulle toe aangestuur het.
“Solank die polisie en lede van die publiek kan hande vat en saamwerk, sal ons sulke goed stuit, nog voor dit gebeur. Ons sê dankie vir die samewerking.”
ONDERNEMINGS
Die Grove Mall se bemarkingsbestuurder, me. Corlia van Tonder, het gister gesê hulle is in gesprek met hul sekuriteitsdiensverskaffers asook Nampol oor die dreigemente, maar dat die bedreiging en risiko wat dit vir inkoopsentrums inhou, nog nie vasgestel kon word nie.
“Ons sal voortgaan om die situasie te monitor. Ons het sekere voorkomingsmaatreëls en -prosesse ingestel om die risiko te verminder en sal dienooreenkomstig met belangegroepe kommunikeer,” het sy gesê.
Maerua se sentrumbestuurder, me. Johadrie de Villiers, het 'n omsendbrief aan winkelhuurders gestuur om te sê die geldigheid van die dreigemente kon nie vasgestel word nie, maar dat hulle ook met hul sekuriteitsdiensverskaffer en Nampol in gesprek getree het en dat noodplanne ingestel is, sou die dreigemente realiseer.
Sy het winkeleienaars aangemoedig om seker te maak hul personeel berei noodprosedures voor, indien nodig en voeg by hul sekuriteitskameras en sekuriteitskantore sal dag en nag beskikbaar wees.
Mnr. Piet Stoman, Agra se handelsmerk- en kommunikasiebestuurder, het gister gesê hulle het vertroue in hul stelsels as genoegsaam teen moontlike plundering. "Sekuriteit is altyd een van ons sleutelprioriteite . . ."
Hy het bygevoeg hulle het ook die grootste vertroue in Namibië se veiligheids- en sekuriteitsowerhede en hul vermoë om op te tree indien nodig.
Die sekuriteitsmaatskappy G4S se bedryfsdirekteur, mnr. Steve Mertens, het in 'n omsendbrief aan kliënte gesê hulle sal nou saam met Nampol werk om seker te maak die krisis wat in Suid-Afrika afgespeel het, gebeur nie ook in Namibië nie. Hulle moedig kliënte aan om gereed te wees vir enige gebeure.
Talle Namibiërs het in die sosiale media skerp kritiek teen enige plundering uitgespreek.
Verskeie meen hulle sal nie toelaat dat “die bietjie wat in ons land oor is, verwoes word nie.”
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie