Geregtigheid vir diere bly 'n hersenskim

Die huidige Dierebeskermingswet 71 van 1962 is byna 60 jaar oud en is nog nooit hersien, aangevul of opgedateer nie.
Jana-Mari Smith
Jana-Mari Smith – 'n Baanbreker-wetsontwerp op die beskerming en welsyn van diere wat laat in 2019 deur die voormalige minister van justisie, mnr. Sacky Shanghala, van stapel gestuur is en wat na verwagting middel-2020 geproklameer sou word, het vasgeval te midde van die minister se val, die pandemie en die oordrag van die wetsontwerp verlede jaar na die ministerie van landbou, water en grondhervorming.

Die opmerklike verlangsaming in die momentum om dié wetsontwerp te verorden om die huidige ondoeltreffende dierebeskermingswet te vervang, is 'n bekommernis vir belanghebbers. Dit sluit in die beëindiging van gereelde vorderingsverslae nadat die wetsontwerp na die landbouministerie oorgedra is.

“Ons is bekommerd oor die oponthoud wat die oordrag vanaf die een ministerie na die ander veroorsaak het en ons is teleurgesteld dat ons as geregistreerde en geaffekteerde partye nog geen terugvoering van die vordering van die wetsontwerp ontvang het nie,” het me. Heather Craemer van die Namibian Animal Welfare Association (NAWA), gesê.

Craemer het bygevoeg die hoop wat eens bestaan het om Namibië se gebrekkige wet op die beskerming van diere te vervang met 'n nuwe baanbreker-wet – 'n eerste in Afrika – het intussen aansienlik verminder.



FOUTIEF

Die regskenner en advokaat Ronel Lewies van Annie's Animal Legal Fund Namibia het verduidelik die huidige wetgewende beskerming van diere in Namibië “is so gebrekkig dat 'n mens kan sê dit bestaan nie rêrig nie”.

“Ons het 'n dringende behoefte aan hersiene dierebeskermings- en welsynswetgewing in Namibië. Die feit is dit het bykans 58 jaar geneem voordat die onderwerp die aandag van die wetgewer gekry het, en noudat dit uiteindelik aandag kry, word die proses uitgerek. “Dit is ongelukkig nie 'n trotse oomblik vir Namibië nie.”

Sy het gemaan “as die wet nie met 'n mate van dringendheid – wat dit verdien – hanteer word nie, sal dit 'n skande vir ons land word, wat nog altyd trots was op die beskerming van ons natuurlike hulpbronne.”

Toe die wetsontwerp nog onder leiding van die ministerie van justisie was, sou dit na verwagting teen Februarie 2020 aan die kabinetskomitee oor wetgewing voorgelê word. Teen Mei 2020 sou die wetsontwerp na verwagting by die Nasionale Vergadering (NV) ingedien word.



STRUIKELBLOKKE

Dr. Albertina Shilongo, die hoof- veeartsenybeampte van veeartsenydienste in die landbouministerie, het verlede week navrae oor die wetsontwerp beantwoord.

“Die wetsontwerp is verlede jaar na dié ministerie oorgedra en dit moet nog gefinaliseer word. Ons kon egter nie vordering maak met 'n werkwinkel vir belanghebbendes om die wetsontwerp te finaliseer nie weens Covid-19-beperkings en die voortdurende uitbreek van bek-en-klouseer in die noordelike kommunale gebiede.”

Lewis het opgemerk die noodtoestand en die beperkings “kon daartoe bydra dat die verordening van die nuwe wetgewing vertraag is.

“Aangesien ek nie vertroud is met die huidige status van die wetsontwerp nie, kan ek nie met sekerheid sê of die oponthoud redelik is of nie. Wat ek met sekerheid kan sê, is dat die diere van Namibië die gevolge van die oponthoud dra.”

Me. Hanna Rhodin, die nasionale direkteur van die Dierebeskermingsvereniging van Namibië (DBV), het gesê die vertraging in die vordering van die wetsontwerp sedert die begin van die pandemie is verstaanbaar.

“Ons hoop egter dat die ministerie die wetsontwerp prioritiseer en dat binnekort weer met belanghebbendes gekonsulteer sal word, sodat die wetsontwerp gefinaliseer kan word en deur die volgende stappe kan gaan om wetgewing te word,” het sy gesê.



VEROUDERD

Die huidige Dierebeskermingswet 71 van 1962 is byna 60 jaar oud en is nog nooit hersien, aangevul of opgedateer nie.

Die maksimumstraf vir die oortreding van die wet is N$200, ongeag van die erns van die oortreding.

Craemer voeg by die huidige wet maak enige vervolging van dieremishandeling in Namibië onwaar­skynlik. Boonop bied die huidige wet geen beskerming vir lewende hawe of regulasies rakende die behandeling van vee nie.

Die voorgestelde wet sal strawwer tronkstraf en boetes insluit vir diegene wat hul skuldig maak aan diereverwaarlosing, -mishandeling en ander wreedhede. Dit wissel van vyf tot 15 jaar tronkstraf, boetes tussen N$10 000 en N$200 000, of albei.

Die wetsontwerp versterk die gesag van dierewelsynsbeamptes en -organisasies en takel die regulasies vir troeteldiertelers. Rhodin sê die hersiene wetsontwerp sal nie net die welsyn van diere beskerm en verseker nie, maar ook Namibië die kans gee om internasionaal 'n standpunt in te neem. - [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer