Geregtigheid vir 'heks van Siya'

Erwin Leuschner
Erwin Leuschner

“Die vonnis is 'n groot stap in die onderrig en bewusmaking van demensie in Namibië,” sê die stigter van Alzheimer Dementia Namibia (AND).

Vir jare is Berrie Holtzhausen aan die voorpunt van bewusmaking van demensielyers wat dikwels weens die toestand as hekse uitgebeeld word. Dit is presies wat gebeur het met me. Frankhilde Haingura wat as die “heks van Siya” bekend gestaan het.

Haingura woon in die Siya-nedersetting in die Kavango-Wesstreek. Sy is in Januarie 2013 deur haar buurvrou en haar dogter aangerand wat haar daarvan beskuldig het dat sy 'n heks is omdat sy hard werk, haar eie beeste, bokke en cuca-winkel en ook genoeg mahangu vir haar familie het.

“Jaloesie is die hoofrede wat bewerings van toordery aanvuur,” sê Holtzhausen. Die buurvrou se seun is ook skielik aan 'n hartaanval op die sokkerveld dood. Hy was 'n vriend van Haingura se seun, Andreas.

Die buurvrou, Carolina Namufinda, en haar dogter Hermine Watema was oortuig daarvan dat Haingura 'n heks is. Die aanranding was so erg dat 'n swanger Haingura se skedel gekraak is. Sy het egter die aanval oorleef en 'n klag van aanranding ingedien.

Die verhoor het egter nooit plaasgevind nie en die saak is in Desember 2013 onttrek.

Holtzhausen, ook bekend as die “African witch finder”, het in April 2018 per toeval deur Haingura se seun, Hamutenya, van die saak bewus geword. Holtzhausen het Haingura besoek en uitgevind sy toon matige simptome van demensie.

“Dit is baie algemeen in Afrika dat demensielyers as hekse of towenaars beskou word,” sê hy. Dit is een van die redes waarom die saak teruggetrek is.

Holtzhausen wou weer 'n klag aanhangig maak, maar die polisie het aanvanklik vir hom gelag.

“Hulle het vir my gesê hekse word na die verre Suide gestuur waar daar nie bome is nie en hulle aan die son blootgestel kan word en doodgaan.”

Haingura het reeds al haar besittings verkoop om drie toordokters te betaal om haar onskuld in 'n tradisionele hof te bewys.

Vroeg verlede jaar het Holtzhausen op die wet van 1933 afgekom wat toordery onderdruk en wat steeds van krag is.

Daar is geen bekende geval waar 'n persoon onder dié wet skuldig bevind is nie, maar gebaseer hierop kan mense aangekla word wanneer hulle iemand van heksery beskuldig.

In September is die saak van die “heks van Siya” weer by die hof ingedien en buiten die klag van aanranding, is 'n klag om toordery te onderdruk ook aanhangig gemaak. In die landdroshof in Kahenge het regter Barry Mufana bevind dat 'n ernstige misdaad teen Haingura gepleeg is. Die twee beskuldigdes (Namufinda en haar dogter Watema) is elk tot 'n boete van tussen N$3 000 en N$5 000 gevonnis.

“Die toepassing van die wet bring vryheid vir demensielyers en gemeenskappe waarin skadelike praktyke van die geloof in hekse as 'n kultuur aanvaar word,” het Holtzhausen gesê.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!