‘Geregtigheid' vir leeu in SA én VSA gevra
Elise Tempelhoff - Verskeie versoekskrifte vir “geregtigheid vir Skye” is Vrydag in Suid-Afrika sowel as in Amerika begin.
Skye, ’n ikoniese leeu van die Krugerwildtuin, is twee weke laas gesien en nieregeringsorganisasies (NRO’s) meen nou dat dit wel hy is wat deur ’n Amerikaner teen R1 miljoen gejag is.
In die meeste van die versoekskrifte word gevra dat opgetree word teen die jagter en dat sy naam aan die burgerlike samelewing in Suid-Afrika verstrek word.
Kholofeo Nkambule, woordvoerder van die Mpumalanga toerisme- en parke-agentskap (MTPA), het Vrydag geweier om die jagter se naam bekend te maak. Sy het ook toegang tot die jagpermit geweier. Sy het verder gesê die dier se vel is ook nou die eiendom van die Amerikaanse jagter.
Die NRO’s is woedend en gefrustreerd en beskuldig die MTPA van “toesmeerdery”.
Michele Pickover van die bewaringsorganisasie EMS sê die MTPA beskerm nou ’n “vreemdeling” bo die regte van Suid-Afrikaners wie se leeu gejag is.
Netwerk24 verneem die leeu se vel is by ’n taksidermis in Witrivier en alle toegang daartoe word geweier.
Smaragda Louw van Ban Animal Trading sê jagpermitte word deur regeringsamptenare uitgereik en behoort dus aan die MTPA.
Die leeu is op 7 Junie in Umbabat gejag nadat hy met ’n olifant se karkas uit die wildtuin gelok is.
Altesaam 71 200 mense het reeds teen Vrydagmiddag ’n internasionale versoekskrif van die organisasie Care2 onderteken. Die versoekskrif is aan die MTPA gerig.
Daarin word geëis dat die “owerheid” die jag moet ondersoek en die jagter straf. “Die owerheid weet wie die jagter is,” lui die petisie.
Die Amerikaanse organisasie Save Animals Facing Extinction se versoekskrif lui: “’n Trofeejagter het ’n leeu uit ’n bewaarde gebied (in Suid-Afrika) gelok. Ons kan nie hierdie massaslagting meer toelaat nie. Help ons om trofeejag eens en vir altyd stop te sit.”
Dit is nou drie jaar sedert die sinnelose en opspraakwekkende jagtog op Cecil die leeu. ’n Amerikaner het Cecil in 2015 met aas uit die Hwange-natuurreservaat in Zimbabwe gelok en geskiet.
“Ons is moeg vir hierdie tragedies. Ons is moeg daarvoor om hierdie spesies te verloor omdat iemand dink dit is pret om hulle dood te maak.
“Ons het 15 000 aktiviste nodig om ons te ondersteun en ons eis nóú ’n einde aan trofeejag.”
In nog ’n versoekskrif, deur ’n losse groep bewaringsorganisasies, word gevra dat mense briewe skryf aan die Amerikaanse Fish and Wildlife Service om druk op dié owerheid uit te oefen om te weier dat die leeutrofee van Skye na dié land ingevoer word.
Audrey Delsink van die Humane Society International (HSI) se tak in Suid-Afrika sê omgewingsorganisasies gebruik nou die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) om toegang tot die jagpermit te kry.
Sy sê dit kan tot 30 dae duur voordat antwoorde gekry word op hierdie versoek. “Ons is bang die vel verdwyn intussen.”
Die NRO’s wil die vel ondersoek om te sien of dit wel dié van Skye is. Skye het duidelike merke aan sy regteragterste flank.
Gerhard Verdoorn, ’n gesoute jagter, het in reaksie op dié leeujag gesê dit is “uiters oneties” om ’n leeu met aas te lok en dan “dood te skiet”. Dit is nie jag nie. “Om te jag beteken om vir die dier ’n billike wegkomkans te gee.” –Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie