Gerhard van Wyk ter ruste gelê

Die oorledene se nalatenskap in die gemeenskap en op omgewingsbewaring is volgens naasbestaandes groot.
Sanet de Waal
Francoise Steynberg op Outjo

Wyle Gerhard van Wyk (54) is gister deur ds. Lukas Coetzer van die NG gemeente Outjo as 'n besonderse "impakspeler in die gemeenskap en natuurbewaring" beskryf.

Van Wyk is gister op Outjo begrawe nadat hy op 27 Februarie noodlottig op die plaas Kaross in die Kamanjab-distrik, waar hy die plaasbestuurder was, gewond is.

Hy is na bewering die aand tydens 'n argument deur sy werkgewer en die eienaar van die plaas, die alombekende Britse sakeman, mnr. Harvey Boulter (51), in die maag gewond.

Van Wyk is op pad hospitaal toe dood. Boulter, wat permanente verblyfreg in Namibië het aangesien hy as ’n "reusebelegger" beskou word, het volgens die polisie homself in die hand gewond. Hy is in 'n Windhoekse private hospitaal opgeneem nadat hy in die Outjo-landdroshof op 'n klag van moord verskyn het.

"Gerhard was oral geliefd: As jy kyk hoeveel natuurbewaarders vandag hier is, het hul vriendskappe ná 30 jaar saam in natuurbewaring blywend gebly. Hy het baie vir die natuur gedoen," het Coetzer gesê.

Van Wyk was as natuurbewaarder by Namutoni in die Etosha Nasionale Park gestasioneer, waarna hy by Epache Lodge gewerk het voordat hy Kaross vir Boulter tot 'n spogwildplaas opgebou het.

Die voormalige parkhoof van Etosha, mnr. Pierre du Preez, het bewoë by die begrafnis gesê hulle het saam as natuurbewaarders begin werk.

By die begrafnisdiens was nie net natuurbewaarders nie, maar ook boere, leiers in die landbougemeenskap en plaaswerkers wat Van Wyk as 'n baie goeie man beskryf het.

"Ons harte en ons lewens is stukkend, ons is ontspoor en erg deurmekaar. Ons het intense hartseer en is in 'n emosionele gemors," het Coetzer gesê, wat die diens uit Efesiërs 1, vers 3-14 gelei het.

"Ons is geruk deur hoe vinnig Gerhard gegaan het. Ons weet nie hoe lank ons nog gaan lewe nie; maak dus 'n verskil in die lewe, soos Gerhard."

Coetzer het die gemeenskap gevra om vir sy vrou, Alta, seun Gerhard, dogter Michelle en familie te bid vir wysheid vir die pad vorentoe en 'n helpende hand uit te reik: "Gee om vir hulle en help hulle in hierdie tyd van onreg. Iets slegs wat gebeur het, is nie 'n straf van God nie. Help hulle om 'n skoon, nuwe lewe te begin."

Sy vrou Alta het in die begrafnisbrief geskryf Gerhard se liefde vir God was tasbaar en vir sy kinders onmeetbaar groot.

"Jou liefde vir my sal nêrens gevind word nie. Jy is te vroeg weggeruk. My hoekoms en vrae sal vir ewig bly. Jy het dit nie verdien nie. Jy was my alles.

"Ons het almal 'n doel in die lewe en dit is om 'n robvelliespoor te los. Soos jy."

Volgens Van Wyk seun, Gerhard, sal sy pa se menswees en nalatenskap in die lewe "nooit deur hierdie gebeure oorskadu word nie".

Met die wolke in die lug as belofte van reën is Van Wyk se kis in die Outjo-begraafplaas laat sak met die rou snikke van plaaswerkers in die agtergrond en 'n atmosfeer van verlies en verslaentheid.

Die draers van Van Wyk se kis was sy seun, Gerhard, dogter Michelle, broer mnr. Rudi van Wyk, skoonpa mnr. Jaap de Jager en swaers mnre. Marius Biermann, Jakob de Jager, Arra de Beer en Jaco Pieterse.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!