Geringdes onthul seevoëls se reis

Die Albatrostaakmag van Namibië skep bewustheid van seevoëlbewaring.
Titus Shaanika en Samantha Matjila - Vissermanne het einde verlede jaar twee geringde voëls aan die Albatrostaakmag (ATF) van Namibië oorhandig, wat interessante inligting oor hul geskiedenis onthul het.

Op 19 Augustus 2018 is 'n volwasse Kaapse malgas aan 'n vishoek aan die hooflyn van 'n visserboot gevind, en op 14 Oktober verlede jaar het 'n jong Atlantiese geelneus-albatros tydens 'n visvangoperasie in 'n sleepnet verstrengel geraak.

Dié twee voëls se reis is toe danksy hul ringetjies onthul.

Wilde voëls word voortdurend deur geregistreerde ringers gering.

Elke metaalring het 'n unieke nommer om die voëls se bewegings, habitat, broeipatrone, vrektes en oorlewingskoerse te volg en te bestudeer.

Die ring, met die kode MA43682 wat aan die jong Atlantiese geelneus-albatros gevind is, behoort aan die Britse Trust vir Ornitologie (BTO).

Ná die ringbesonderhede aan die toepaslike Britse owerhede gestuur is, is die geskiedenis van dié spesifieke voël onthul.

Die betrokke geelneus-albatros is in Januarie 2017 as kuiken op die Nightingale-eiland in die Tristan Da Cunha-eilandgroep in Britse territoriale waters deur die Royal Society for the Protection of Birds (RSPB) se span gering. Dié vereniging werk nou saam met Tristan da Cunha se natuurbewaringsdepartement.

Die voël is toe 576 dae later 2 940 km suidwes van Namibiese visvangwaters gevind.

Die Atlantiese geelneus-albatros is deur die Wêreldbewaringsorganisasie (IUCN) as bedreig gelys.

Dié spesie kom in die Suider-Atlantiese Oseaan tussen Suid-Amerika en Suider-Afrika voor en word tot 70 jaar oud.

Vyftien uit 22 albatrosspesies word weens verskeie bedreigings soos plastiekbesoedeling, habitatversteurings en toevallige vrektes weens interaksie met visvangtoerusting as bedreig beskou.

KAAPSE MALGAS

Die Kaapse malgas is op 2 Maart 2000 deur mnr. Pete Bartlett, 'n senior visserynavorsingtegnikus van die ministerie van visserye en mariene hulpbronne, op die Namibiese Ichaboe-eiland gering.

Hy is as kuiken gering en is 6 800 dae (18 jaar, sewe maande en 20 dae) later 130 km verder weg van Ichaboe gevind.

Die Suid-Afrikaanse voëlringeenheid het dié inligting onthul ná ATF Namibië die ringkode 9A 25783 aan hulle gestuur het.

Kaapse malgasse staar bedreigings soos besoedeling en menslike steurnisse in die gesig, en word soms per ongeluk deur vissermanne gevang.

Die IUCN het hulle ook as bedreigde spesie gelys.

Dié voëls broei net op drie Namibiese en drie Suid-Afrikaanse eilande.

Hulle kom egter ook in die kuswaters van die Golf van Guinee, Wes-Afrika en oostelike Afrika in die kuswaters van Tanzanië voor, en kan tot 40 jaar oud word.

Die Albatrostaakmaggroep, wat deur die Namibia Nature Foundation (NNF) bestuur word, werk nou saam met die ministerie van visserye en mariene hulpbronne, die visseryewaarnemingsagentskap en kommersiële vissermanne om bewustheid van seevoëlbewaring te skep.

Maatreëls word geïmplementeer om seevoëlmortaliteit in Namibiese viswaters te verminder sodat 'n gesonde ekostelsel in die oseaan verseker kan word.

Die ATF moedig die publiek aan om die span met enige inligting oor seevoëls of bewaring in die algemeen te kontak by 061 248 345 of per e-pos by [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!